Van haar ontmoeting met meneer Haas Botha onthou Natasha Schutte-Hayes vandag net een ding: die kaastjippies wat sy daai tyd gekoop het.

"Dit het nog 'n rand gekos," lag sy.

In 1986 reik die komediant Leon Schuster sy poetsbak-fliek You Must Be Joking uit. Dit sou 'n treffer wees. Een van die sterre in die fliek is 'n donkerkop-dogtertjie wat 'n wit haas by haar kleuterskool kaastjippies voer. Die twee gesels alte lekker, onder andere oor haar pa, Barry, se werk. 

Die stem van meneer Haas was natuurlik niemand anders as Leon Schuster s'n nie. Hy het die driejarige Natasha oorreed om haar tjippies met "hom", die haas, te deel. Elke nou en dan gooi sy 'n tjippie deur die hok se traliewerk. Maar dan het sy genoeg gesels en groet: "Tatta, tatta, Hasie ..."

Sy wou verder op Buksie-kleuterskool se klimrame gaan speel. 

'n Uitknipsel van 1986-koerantberig. FOTO Verskaf

Onthou jy dié kostelike oomblikke?

Deesdae is Natasha (35) 'n ma van twee dogters: Megan-Lee (11) en Mia (9). Sy werk as 'n konsultant by Absa. "Ek praat steeds baie en is lekker bekkig," skerts sy.

Haar kinders weet sy is die dogtertjie in oom Leon se fliek. 

"Hulle sal altyd vra: 'Mamma, hoekom kon jy nie rrrr sê nie?'"

Natasha se gradeplegtigheid by Buksie kleuterskool. FOTO Verskaf

Natasha, wie se bynaam op universiteit Hasie was, vertel sy was die enigste kind wat destyds die kamer wou binnegaan. "Leon Schuster wou oorspronklik kinders tussen ses en agt hê, maar die ander kinders was te bang. Toe onthou die hoof, tannie Betsie, wat 'n vriendin van my ma was, dat ek baie van praat hou. Sy het my oortuig om in die kamer in te gaan."

Op universiteit het mense haar herken. "Dit was die bolwange ... En my naam en van het dit natuurlik ook verklap."

Natasha as tiener. FOTO Verskaf

Sy het ná al die jare nog nooit vir Leon Schuster ontmoet nie. 

Só lyk sy deesdae: 

Natasha en haar twee dogters. FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

SARIE het húlle ook gevind:

Onthou jy nog vir Orkney snork nie se Neelsie? Kyk wat doen hy nou.

Paashaas-seuntjie: Hier's sy roerende verhaal

Orkney se Rieke en Sonja gesels

Glug-glug-baba is gevind!