Ons het Laré in Januarie as een van ons nuwelinge vir 2016 benoem; nie net vir haar toneelspel nie, maar vir alles anders wat sy ook doen. Haar meubelbesigheid, Woodlady, haar eetplek in Johannesburg, Grain, en sommer net haar stralende glimlag en lus vir die lewe. Ons het gaan inloer en sy bevestig weer eens alles wat ons oor haar gesê het. Daardie glimlag is nie weg nie, al was 2016 ’n moeilike jaar. Inteendeel. Ek voel geïnspireer deur die lesse wat sy geleer het en verbaas oor haar 2017-stokperdjies!

In Januarie vanjaar het ons 10 nuwelinge in die vermaakwêreld uitgesonder as jong SA sterre om dop te hou. Dié bekendes het jy die afgelope jaar op verskillende platforms gesien: op die verhoog, op jou slimfoon, op die kassie, op die groot skerm en soms was hulle selfs agter die skerms doenig. Ons gaan nou by hulle almal inloer en hoor hoe elkeen se 2016 was. Vandag is dit Laré Birk se beurt.

Verlede week het ek geskryf oor Beáte Opperman en voor dit het ons by Reine Swart en Bennie Fourie gaan inloer. Daar lê nog 6 nuwelinge voor, maar ek staan reeds verstom oor die werk wat hierdie bekendes doen. Daar word nie stilgesit nie, daar word nie geredeneer oor of iets moontlik is of nie, en of jy die vaardighede het of nie; daar word net gedóén. Halsoorkop, vol energie en inspirasie, en met sterk ondersteuningsnetwerke.

Ek het ’n paar vrae aan Laré gestuur oor hoe haar 2016 verloop het, en oor waarna sy uitsien in 2017. Lees verder en leer ken haar beter.

2016

lare Laré Birk (tweede van regs) op die stel van Vir Altyd. FOTO Verskaf

Fliek: Vir Altyd

Vir Altyd was ’n ongelooflike ondervinding. Ek was oorweldig met hoe die Suid-Afrikaanse gehoor dit geniet het en hul daarmee vereenselwig het. Dit maak jou baie trots om te besef jy was deel van die projek. Of enige projek. Dit is baie dapper om ’n film aan te pak en dit tot in teaters te kry ... Daarvoor het ek respek en bewonder ek vir Donnalee en Ivan.

Teatertoer na skole: My Japan

Hoe is dit om voor jong kinders op te tree? Kan jy hul energie aanvoel? En kom vra hulle ná die tyd vrae oor die bedryf en oor jou werk?

Dit was die eerste keer dat ek ’n professionele teaterprojek aangepak het. Ek het ontsettend baie respek vir teater-akteurs gekry. Dit is baie anders as film, waaraan ek gewoond is.

Dit was ook baie anders voor die kinders. Dit was interessant om van dorp tot dorp te reis en waar te neem hoe elke dorp se kinders verskil van die ander dorpe s'n. Jy sien dit veral in hul reaksie teenoor die humor in die stuk. ’n Mens is baie afhanklik van hul energie. As hulle dit geniet, is daar ’n adrenalien wat by jou inskop. As hulle dit nie geniet nie, word jy vinnig bekommerd agter die gordyn.

Ná die tyd het baie kinders met ons kom gesels. Daar is baie wat belangstel in die vermaaklikheidsbedryf. Dit is ’n wêreld wat jy vir jouself moet "uitfigure". Baie van hulle het ook kom uitvra oor die werk wat ek al gedoen het. Dit is verbasend wat hulle alles van ’n mens weet.

lare birk Laré en Zak Hendrikz ná die verfilming van 'n BRAVO!-episode waar sy die regisseur was. FOTO Instagram (@larebirk) Ek sien jy is nou ook ’n regisseur by Homebrew Films? Geniet jy dit sover en wat sal jy verkies – agter die skerms of voor die kamera? Ek wou nog altyd ’n regisseur gewees het. Ek het van kleins af myself in daardie rigting ingestoot. Voordat ek ’n aktrise geword het, het ek meestal agter die skerms gewerk. Ek het al die ondervinding opgebou wat ek kon tot op ’n punt waar ek reg was om die rol van ’n regisseur in te neem.

Ek is mal oor al twee aspekte van my loopbaan. Ek wil dit werklik elke dag van my lewe doen. Elke dag ’n storie vertel. Dit is baie moeilik om te kies tussen die twee. Vir nou pak ek projek tot projek aan.
Hoe gaan dit met jou koffiewinkel, Grain, en jou houtwerk? Ons het Grain in Augustus weens baie redes toegemaak. Dit was swaar. Ons was net meer as ’n jaar oop.
Die belangrikste vir my was om nie in ’n gat te val waar ek konstant dink ek het misluk nie. Ek het nie. Inteendeel. Ek het probeer en Grain het nou plek gemaak vir ander avonture. ’n Mens moet nooit onderskat wat so ’n ondervinding jou leer nie.

Woodlady gaan nog sterk aan. Volgende jaar is dit 12 jaar.

Ek is mal oor besigheid en hoop ek kan die sakeondervinding wat ek reeds opgedoen het eendag ook in die flmbedryf gebruik.

Laré Birk, Vir Altyd-aktrise met vele talente

Wat was of is jou antwoord gewoonlik vir mense wat jou uitvra oor die filmbedryf? Of mense wat belangstel in ’n kreatiewe rigting soos houtwerk? Ek sê altyd vir mense as dit is wat jy wil doen, moet niks toelaat om jou te keer nie.

Ek sien baie mense wat bang is. Vrees is ’n goeie ding, dit wys vir jou dit is iets wat jy regtig wil doen. Jou vrees moet jou inspireer. As ’n mens daardie vrees oorwin het, is dit soveel meer bevredigend. Nog ’n ding: jy moet dit jou eie maak. Gebruik ander se paaie as inspirasie, maar sit jouself daarin.

Ek word baie gevra, veral met Woodlady, of dit moeiliker is omdat ek n vrou is. My antwoord is nee. Ek as vrou het presies dieselfde uitdagings as ’n man. Die probleem lê by ander se persepsies oor jou identiteit. Ek het al te veel mense hul unieke identiteit sien afkraak en onderdruk as gevolg van ander se opvattings. Die wêreld is te klein vir onkundige opinies.

Die grootste tree tot sukses is om te gebruik wat jy het. Jy kan nooit met jouself verkeerd wees nie.

Hoe sal jy 2016 onthou?

2016 was vir my die jaar van verandering. Dit was ’n jaar wat my gedwing het om anders te begin kyk na baie goed. Dit was ’n swaar jaar, maar sekerlik een van my belangrikste jare. Enige belangrike lesse wat jy geleer het? Ek het ontsettend baie lesse geleer.

Die belangrikste een, dink ek, was om kanse te vat. Vat ’n kans op mense, jou loopbaan en persoonlike groei. Ja, daar is iets soos teleurstelling, maar ’n mens werk daardeur. Teleurstelling is ook belangrik.

2017

flieks Die geselskap van Hoender met die rooi skoene, saam met regisseur Koos Roets. FOTO Eunice Visser Fliek: Hoender met die rooi skoene Hoe was dit om saam met groot name soos Deon Lotz, Lida Botha, Lizz Meiring, Dorette Potgieter en veral die regisseur Koos Roets te werk?

Ek het enorme respek vir Oom Koos. Ek het al ’n paar keer saam met hom gewerk en elke keer slaan hy my weg met sy kennis, vermoëns en stories. Hy het my geleer om regtig groot te droom. Hy is werklik enig in sy soort.

Hy het vir my ander geleenthede ook gegee soos die choreografie van ’n dans en dat ek ook die EPK's (video's wat die fliek bemark) kon skiet. Ek het elke oggend na hom toe gegaan met die kamera om die verstellings met hom deur te gaan. Hy het rustig elke knoppie met my bespreek en my geleer. ’n Mens hou nie op leer nie.

Daar was baie groot name op stel. Hulle ondersteun jou en mentor jou - soms sonder dat jy dit besef. Op stel is ons almal daar vir dieselfde rede, maar as jy van die stel afstap dink jy by jouself: "Ek het nou net ’n toneel saam met Lida Botha geskiet". Jy freak ’n bietjie uit. Ek weet nie of ek ooit daaraan sal gewoond kan raak nie.

Kyk die lokprent hier

Hoe lyk jou 2017 sover? Watter projekte lê voor?

2017 is vir my nog ’n mystery, maar ek het ’n baie goeie gevoel oor hom.

Ek wil baie graag in 2017 my eie produksies begin skep. Ek sien baie uit daarna. Dis ’n groot doelwit.

Laré Birk FOTO Verskaf Enige nuwe stokperdjies? Daar is so baie dinge wat ek wil aanpak. Ek het nog altyd ’n ding gehad vir motorfietse en karre.

Ek wil begin om dirt bikes te ry, want ek was nog altyd een vir wilde goed, en ek wil só graag verstaan hoe ’n kar se enjin werk.

Verder wil ek baie graag ’n sport aanpak soos kitesurfing. Ek bly in Johannesburg, so dit is moeilik, maar in 2017 gaan ek die waters tref. En ek wil definitief meer tyd in die natuur spandeer. Enige nuwejaarsvoornemens?

Soos altyd: vat hom dag vir dag.

Lees nou

SARIE se 2016-sterre: Beáte Opperman se jaar van groei

SARIE se 2016-sterre: Die vele gesigte en rolle van Reine Swart

SARIE se 2016-sterre: Bennie Fourie is meer as net ’n grapjas!