Tydens die praatjie kon julle vrae aan Fanie, Katryn en Leah gevra het. Hier is die antwoorde!

Jóú vrae & Leah se antwoorde

FOTO Instagram / Leah

“Leah, hoe handhaaf jy ’n balans met sosiale media?” - Wilmari

Dis nogals ’n tawwe een! As mens eers begin scroll, dan sien jy ’n uur later jy is steeds op die platform. Ek het gesukkel daarmee, maar het vir myself ’n nuwe reël gestel: Ek kan een of twee keer opgaan om te kyk of ek enige boodskappe het. Ek loer dan vinnig en gaan dadelik af. As ek iets wil plaas op my blad, gaan ek in, publiseer my video en log dan weer af. Ek moes vir myself regtig perke stel. 

“As jy kan kies om een persoon te ontmoet, wie sal dit wees?” - Melissa

As ek iemand kan ontmoet sal dit Taylor Swift wees, en ook saam met haar kan sing! Ek is ’n groot Swifty! Ek het eintlik eers ’n aanhanger geraak vanaf haar 1989-album, maar haar musiek het met my gepraat. Ek dink hoe sy haar loopbaan bestuur is vir my ’n baie goeie voorbeeld, en ek hou baie van haar menswees, sy is baie oop en eerlik. Aan die begin van haar loopbaan het sy probeer om die goeie meisie te wees, en later het sy haar stem begin lig oor hoe sy regtig voel en waarvoor sy staan.

“Leah, het jy al ooit die verkeerde woorde gesing tydens 'n show?” - Melissa

Ek het al gereeld verkeerde woorde gesing in shows, en ek het selfs al my eie liedjies se woorde verkeerd gesing! Ervaring het my al geleer as mens ’n blank slaan, dan gooi jy maar net ’n paar woorde al maak dit nie sin nie. Son maan en sterre is al my go-to ding, en ek het al tydens ’n Dolly Parton-liedjie op die beat gesing, “I don’t know what’s going on,” en dit het gewerk. Ons almal maak foute, maar dit belangrik hoe mens dit hanteer - lag daaroor en gaan aan! 

“Waar het jy jou groen trui gekoop?” - Anene

My trui is van H&M, so fluffy en het ek het ’n gryse ook!

Jóú vrae & Fanie se antwoorde

FOTO Instagram / Fanie Cronjé

Fanie, wat is die een item wat jy MOET in jou kas hê hierdie winter?

Ek sal aanbeveel dat jy vir jou ’n lekker kraaghemp aanskaf wat ’n goeie kwaliteit en snit is. Ek sal voorstel dat dit wit, swart, vlootblou en grys moet wees, sodat jy baie goed daarmee kan kombineer. 

Kry ook vir jou ’n jas in swart, navy of sandkleur, nie te warm nie en nie te koud nie. Koop iets van kwaliteit sodat jy dit lewenslank kan dra en koester. 

As jy nie ’n hemp kan kry met ’n sterk kraag nie, koop dit by die mansafdeling en vat dit na ’n tailor om by jou lyf en kurwes te laat pas. 

Fanie, watse klere is fotogenies en hoe moet jy "pose" vir 'n goeie foto of voorblad? Vir gewone mense!

Meeste van die tyd, iets wat jou arm toemaak, want dit plaas die fokus op jou gesig. Ook nie te veel patrone nie, want dit trek ook aandag van jou gesig af. Hier kan jy lekker werk met tekstuur - gebreide stof, sterk katoen of materiaal wat geweef is. ’n T-hemp kan werk, mits dit baie plein is en by goed by jou liggaam pas. 

Nog ’n wenk is dat die T-hemp of trui by die kleur by jou oë moet pas. Jy hoef nie noodwendig ’n bruin top te dra om jou bruin oë te komplementeer nie, maar warm kleure soos variasies van geel en rooi, en groen werk byvoorbeeld goed saam met bruin oë. 

Party kleure is geneig om die vormloos op ’n foto te lyk. Formele klere in sagte kleure werk goed, maar dit lyk soms te plat en eenvoudig saam met ’n informele voorkoms. Daaroor werk alledaagse klere weer goed in donker kleure. 

As jy wil pose vir ’n goeie foto, werk ’n natuurlike pose die beste. Lig jou oë dat dit in die lig skyn en moenie jou ken te laag laat sak nie. Probeer om jou hande weg van jou gesig te hou, op die meeste kan jy jou hand in jou nek sit. Probeer om nie te pose nie, maar as jy iets wil doen: Kyk reguit in die kamera, tilt jou kop ’n bietjie, lig effens ’n skouer en moet onder geen omstandighede jou mond opblaas of lippe pruil nie. As jy nie van jou tande hou nie, maak jou mond toe met ’n paar milimeter oop tussen jou lippe. 

Vir ’n goeie voorblad kyk mens veral na kleure wat nie aandag aftrek van die persoon se gesig of persoonlikheid nie. Sorg dat detail in die tekstuur en silhoeet na vore kom. Moenie uitgewasde kleure gebruik nie, dis baie moeilik om dit te laat werk. Werk met jou beste bate - as jy ’n mooi lang nek het kan jy in die somer dit wys en in die winter dit beklemtoon met ’n polo-nek. Wees ook versigtig om oorbelle en ’n halsnoer te dra. 

Fanie het jy n spesifieke "approach" vir die stilering van vrouens met kort hare? Is daar "no-no's"?

Hare op ’n voorblad is iets waaraan ons die meeste tyd spandeer. Lang hare maak ons los, vloeiend en vol volume. Vroue met kort hare is vir my ongelooflik mooi, dit gee soveel karakter aan ’n mens. As ons iemand met kort hare stileer werk ons baie met statement oorbelle. As dit nie jou ding is nie, moet jy seker maak jy het iets om jou ’n nek. ’n Harde kraag, serpie of chocker doen wondere vir iemand met kort hare. Afhangend van die kleur van jou hare en ouderdom, as jy ’n ouer dame is met grys hare moet jy ongetwyfeld rooi lippe dra. Vir jonger vroue sal ek baie sterk grimering op die oë aanbeveel, soos welige maskara of ’n smokey eye. Probeer om nie te veel haarprodukte in jou hare te sit nie, hou dit so sag en natuurlik as moontlik. As jy dun hare het kan jy ’n haarpoeier aanskaf wat vir jou tekstuur gee. Hoe dit ookal sy - kort hare maak die mooiste, sterkste statement

Fanie is jy te oud as jy 65 jaar is vir SARIE se voorblad?

Jy is beslis hoegenaamd nie te oud om in te skryf nie. Dit is wat die kompetisie so uniek en wonderlik maak. Asseblief skryf in! Kyk hoe wonderlik beeldskoon is Glenn Close, Judi Dench, Jessica Lange, Sophia Loren, Catherine Deneuve en Jane Fonda, die mooiste vroue in die wêreld.

Jóú vrae & Katryn se antwoorde

FOTO Instagram / Katryn Kruger

“Katryn, wat behels ’n casting? Jy is beeldskoon!”

’n Casting is wanneer ’n kliënt of produksiehuis vir modelagentskappe vra om modelle te sien, dis amper soos ’n oudisie vir ’n fotosessie. Dis basies soos ’n vergadering waar jy die potensiële kliënt ontmoet. Jou agentskap laat weet jou waar en wanneer dit is, en hulle verskaf meer besonderhede oor die fotosessie. Jy bring dan jou boek met foto’s en kaart (inligting oor jou lengte en mates) en los dit by kliënt, wat jou na afloop van die casting laat weet of jy die werk gekry het. 

“Waar koop jy jou denims Katryn?”

Omdat ek 1.81 cm lank is, is dit vir my soms moeilik om jeans te kry wat lank genoeg is. Country Road se denims pas my ook goed, of Zara waar ek dan spesifiek enkelhoogte denims sal koop. 

“Hi Katryn, jys so 'n inspirasie vrou! As jy nou weer 15 kon wees, wat sou jy anders doen?”

Ek sou minder my wenkbroue pluk (lag)! As dieselfde geleentheid weer oor my pad sou kom, sou ek dit weer aanpak. Al was ek baie alleen en eensaam, het ek ook baie plekke gesien deur te reis en baie interessante mense ontmoet. Dit het my gevorm in die vrou wat ek vandag is, en daarvoor is ek ewig dankbaar. Ek sou weer dieselfde besluite geneem het, want vandag weet ek die vrugte wat ek daarvan pluk is die moeite werd. 

“Enige raad vir donker kringe onder my oë?”

Ek het self donkerkringe onder my oë en sukkel al jare daarmee. Al slaap ek lank of net drie ure, ek het steeds donkerkringe. Dit is geneties, my ma het donkerkringe en my ouma ook. Party mense sê jy moet teesakkies op sit of ysterpille drink, maar ek was onlangs by ’n dermatoloog wat beaam het dat daar nie eintlik ’n oplossing of geneesmiddel nie. Ek het nou maar net vrede gemaak met my donker kringe. Die voordeel is die donker kring gaan tot op my ooglig, so dit lyk asof ek permanent eyeshadow dra! Mens kan dit altyd verlig met verbloemer, maar moenie laat die donker kringe jou terughou nie. 

“Wat is jou oggendroetine?”

Ek kan nie alleen met ons honde gaan stap nie, want hulle is twee rifrugs. So ons staan meeste oggend 06:00 op en Cilliers sal vir my koffie maak, terwyl ek sy kos regmaak vir die dag. Ons gaan stap dan met die honde so 06:45. Cilliers sal dan werk toe gaan, en ek hou dan daarvan om joga te doen en my tweede koppie koffie drink. Party oggende oefen Cilliers ook saam met my voor hy vertrek. Ek is nie ’n groot ontbytmens nie, maar in oggende wat ek so voel sal ek vir my ’n bakkie rolled oats maak of avokado en eiers op ’n koekie. Daarna beplan ek my dag - inhoud vir sosiale media, reëlings vir Koffie Met Katryn en beantwoord e-posse.

Wil jy ook graag die praatjie hoor? Kry kaartjie op Quicket.