Op Idols is sy nou een van die top-drie, saam met Graeme Watkins van Kaapstad en Jason Hartman van Durban. Elkeen sing Sondagaand drie liedjies. Dit gaan ’n naelbyt-stryd wees, en die spanning bou op, het Sasha-Lee aan Mercy Morkel gesê.

Hoe het jy Maandagaand met die uitstemmery gevoel? Jy’t baie ontspanne voorgekom.
Ek lyk seker ontspanne, maar ek is gewoonlik die ene bewerasie. Die spanning daar op die podium het hoog geloop. ’n Mens moet nooit te selfversekerd wees nie, want jy weet nie hoe die publiek gaan stem nie. Ek is baie dankbaar vir nog ’n kans om my talent te wys. Om die waarheid te sê, ek het nie gedink ek gaan die top-vier haal of selfs die top-12 nie! Die kritiek van die beoordelaars by die oudisie en ook daarna was fel. ’n Mens glimlag maar, neem dit ter harte en leer daaruit. Dis ongelooflik dat my Idols-droom nou so binne my bereik is.

Voltooi die sin: As ek Idols wen . . . gaan ek ’n CD maak! Dis my kinderdroom om my eie album te maak. En as ek nie wen nie, gaan ek steeds ’n sangloopbaan hê. Ek gaan beslis nie stilsit nie. Sang en musiek is so ’n groot deel van my lewe. En danksy M-Net en die Idols-kompetisie het ek die regte mense leer ken wat deure vir my kan oopmaak.

Is dit vir jou belangrik om ’n wenner te wees in dinge wat jy aanpak?
Almal sê jy hoef nie te wen om jou merk in die lewe te maak nie. Jou sukses hang van jouself af. Ja, dit is so. Maar die rede hoekom ons aan Idols deelneem, is tog om te wen. Die pryse is aanloklik, waaronder ’n motor. En die sepie-rol in Villa Rosa as die Matrix-prys bewaarheid nog 'n kleinmeisie-droom van my om toneel te speel.

Watter hoogtepunt in die Idols-kompetisie gaan jy vir altyd saam met jou neem?
Die oomblikke wanneer ek op daardie verhoog klim om voor 3 000 mense op te tree, is vir my kosbaar. Dan wil ek sonder ophou die gehoor en kykers vermaak. Jy sing nie net vir jouself nie.

Gee vier eienskappe van ’n Idol?
’n Idol is ’n rolmodel vir jong mense, en moet daarom voorbeeldig wees, stres kan hanteer, weet hoe om met die media te werk en eerlik teenoor homself/haarself en ander wees. Dis eintlik maklik om net jouself te wees. Mense sien vinnig deur jou. En natuurlik moet jy talent hê!

Volgens jou is Heinz Winckler die beste Idol (2002) tot dusver. Hoekom sê jy so?
Hy besit die eienskappe waarvan ek flussies gepraat het. Ek was 12 toe Heinz gewen het. Ek het vasgenael voor die TV gesit wanneer hy gesing het. Ek het toe nie ’n selfoon besit nie, anders het hy my stem gekry. Hy’s baie suksesvol, plaaslik en internasionaal.

Hoe hanteer jy die kritiek uit jou gemeenskap oor jou deelname aan Matrix?
Omdat ek ’n pastoor se kind is, is ek gewoond aan kritiek. Daar sal altyd mense wees wat kyk watter voetjie jy voorsit, waar jy skeef trap. Ek slaan nie ag op negatiewe dinge nie. Almal wat my ken, weet ek het niemand probeer beïndruk of my anders voorgedoen om ’n prys te wen nie. Ek is jonk en geniet die lewe, maar binne perke.

En as jou Villa Rosa-rol nie dié van ’n engeltjie is nie?
Dis acting en mense behoort te weet ek speel bloot ’n karakter.

Wat was jou pa se raad aan jou vir Matrix en Idols?
“Sasha-Lee, wees sterk. Jou gesin en die hele gemeente ondersteun jou besluit.”
My pa, John, is pastoor van die Ware Evangelie-gemeente op Atlantis. Ons het ook die moontlikheid bespreek dat ek dalk Goudstad toe sal moet verhuis. Dis oukei met my ouers. En as ek nie alleen wil bly nie, volg hulle my dalk!

Jy’s een van tien kinders. Watter belangrike waardes dra julle aan mekaar oor?
Ons is almal baie musikaal en deel dié liefde, asook baie liefde vir mekaar. Elkeen het sy eie identiteit, en elkeen kry persoonlike aandag van ons ouers. My pa en ma, Sally, is wonderlike ouers wat nie een van ons afskeep nie. Nege van ons woon nog in die huis.

*Matrix het gegaan oor die wedervaringe van agt matriekmeisies in een huis en is in Desember 2008 in Margate verfilm.