Kits-feite
Gebore en bly: Alberton Matriek: Hoërskool Marais Viljoen, Alberton Beste fliek: Stick It oor gimnastiek “Dit praat met my hart” Beste webtuiste: Takealot vir “enigiets onder die son en binne twee dae is dit op jou voorstoep” Inkopies: “Ek’s ’n sucker vir ’n winskopie” Afspraakwebtuistes: “Só dapper is ek nie” Kinders: “Eendag, ja! Ek’s peetma van twee seuns en oneindig lief vir hulle” Lees of bungee: “Die buitelewe maak my gelukkig”; “Ek lees graag, maar ek moet inligting vinnig kan kry en verwerk” Wen-gedagtes: “Doen opreg moeite met familie en vriende. En ja, wees dankbaar.

SARIE Voorbladgesig word trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle

FOTO Instagram / @schaneventer
FOTO Instagram / @schaneventer

Jy skryf toe ’n tweede keer in, volg jou eie lewensfilosofie en probeer nog één keer. En stof duisende ander vroue in SARIE se groot verjaardagjaar uit!

Die eerste keer, dit was in 2015, het ek self ingeskryf – en dit nie gemaak nie. Dié keer het ’n vriend my ingeskryf, op die nippertjie! Ek was nog ’n klein dogtertjie toe ek SARIE leer ken het en identifiseer 100% met die tydskrif. Elke gesig op die voorblad vang ’n ander emosie vas, is iemand wat inspireer en raak my hart op ’n ander manier. Ek wou graag een van dáárdie vroue wees ...ek moes weer probeer.

FOTO Instagram / @schaneventer
FOTO Instagram / @schaneventer

Jy ken die tydskrif se voorblaaie. Wie staan vir jou uit?

Ongetwyfeld Rolene Strauss. SARIE se twee verjaardaguitgawes met haar voorop was ongelooflik. Sy is tydloos, grasieus. Haar skoonheid is moeiteloos. Jy kan enigiets met haar doen en sy sal haar A game bring en ’n sukses maak.

Schané Venter
FOTO Leana CR

In jou video-onderhoud sê jy jy is in jou lewe blootgestel aan situasies wat jou vinnig laat grootword het ...

My ouers is geskei en een van die heel moeilikste dinge was om as oudste kind my suster, Lizahn, en broer, Tiaan (hy’s nou al 18, maar ek noem hom steeds my bababoetie), hartseer te sien toe my ma en pa uitmekaar is. En ek weet ek kan níks doen om dit te verander nie, behalwe om net daar te wees vir hulle. Om ma, pa en suster te wees. Dit was ’n moeilike tyd vir my, vir ons, maar dit het ons drie baie na aan mekaar gebring. Dis al wat ons gehad het. Lizahn (ek noem haar my engelsuster en sy’s die persoon wat ek die meeste bewonder) het ook iets baie traumaties ervaar en verwerk die hartseer nog elke dag. Dit het my en die hele familie geruk. Tog is sý die een wat altyd glimlag, die vrede bewaar en ander motiveer. Ek dink nie sy besef hoe spesiaal sy is nie.

Jy het vir 13 jaar gimnastiek gedoen. Vir jou was dit ’n groot leerskool.

Dit het my gevorm. Gimnastiek was ’n baie groot deel van my lewe, met al die uitdagings en lewenslesse. Dit het my selfdissipline geleer, om nooit op te gee tot jy iets regkry nie. As jy voor duisend mense van die balk afval, moet jy kan opstaan en aangaan, weer probeer. Dit het my buite my gemaksone gedruk en gewys hoe om my vrese te oorkom. Ek het die waarde van toewyding geleer; ook van vriendskap.

Schané Venter
FOTO Leana CR

Komplimente kry jy sekerlik baie. Maar wat dink jý is jou beste eienskappe, fisiek en andersins?

Ek’s ’n go-getter. (As ek eers my hare in ’n stywe bolla agter my kop vasmaak, is daar nie tyd vir um en aa nie, ek’s op ’n missie!) En ek’s lojaal en aanpasbaar. Ek dink ook rasioneel en realisties oor dinge. Die kompliment wat ek die meeste koester, is dat ek dinamies is – want ja, ek probeer! Fisiek hou ek van my blas vel. Vroeër is ek baie gespot daaroor, maar het mettertyd besef dit maak my anders en ek het geleer om dit te omarm. Ek hou ook van my kuiltjie wanneer ek lag, en ja, ek’s skaam om dit te sê, maar ek hou van my bene.

Schané Venter
FOTO Leana CR

Jy sê self jy’s modemal ...

Ek het ’n BCom in bemarkingsbestuur by die NWU se Potchefstroom-kampus gedoen (#trotsstenwupuk) en werk tans as bedryfs- en logistieke bestuurder vir die Mej. SA-organisasie. Maar ek het ook ’n diploma in modeontwerp voltooi. Dís my passie! Ek sal graag ’n modeblogger wil wees, die wêreld vol reis, mooi foto’s neem en dan elke land se modes en trends op my Instagramblad wys. As ek betaal word daarvoor, nog beter. Maar my droom? Om uiteindelik ’n aanlyn winkel te hê met ’n eie klerereeks. Klere wat ek self ontwerp. Die digitale wêreld fassineer my en ’n e-handelswebtuiste waar ek my kennis van mode en bemarking kan kombineer, is ’n bereikbare doelwit, glo ek.

FOTO Instagram / @schaneventer
FOTO Instagram / @schaneventer

Jou gunsteling-mode-items?

Ek’s verslaaf aan skoene. Eintlik laat dit my lag, want ek sal altyd ’n verskoning vind om net nog ’n laaste paar te koop. En my go-toswart leerbaadjie wat ek saam met enigiets kan dra.

SARIE se Oktober-uitgawe
SARIE se Oktober-uitgawe

Vir ’n SARIE-voorblad moet jy onder meer gesonde hare en ’n goeie vel hê. Enige geheime?

Ek het nie eintlik ’n bad hair day nie, maar my hare is dun. Ek moet dit versorg, vir die regte behandelings gaan, maar ek dink ek het dit nou onder die knie. My hare voel gesonder, en groei! My vel is taamlik goed en ek hou dit bevog. Maar hier’s die ding, ek gebruik dieselfde room vir my lyf en my gesig en gaan nêrens sonder daardie blou bottel nie. Dit werk vir my, maar dit ontstel my verloofde baie ...

FOTO Instagram / @schaneventer
Schané Venter se inskrywingsfoto's FOTO Instagram / @schaneventer

Bekendes speel ’n groot rol in die wêreld vandag. Is daar iemand wat jy bewonder?

Suzette van der Merwe. Sy was my bestuurder en ek het élke dag iets by haar geleer. Sy is dinamies, ’n perfeksionis, hardwerkend en plat op die aarde. Sy sal wêrelde verskuif vir mense vir wie sy lief is. Ook Demi-Leigh Nel-Peters – haar deursettingsvermoë is aansteeklik. Sy glo ook in die waarde van opregte vriendskap.

FOTO Instagram / @schaneventer
FOTO Suanné Mulder

Jy’s jonk, energiek, positief. Is daar iets wat jou bang maak?

Dat ons, jongmense, te maklik opgee. Want sonder harde werk kan nuwe geleenthede, en nuwe idees, nie geskep word nie. Die lewe het my geleer jy staan op vir jouself en pak iets met oorgawe aan. Niemand gaan dit vir jou doen nie. Jy bepaal jou eie sukses.

Schané Venter
Schané Venter is by Voorbladgesig se gala-aand aangewys as die wenner FOTO Willem Lourens

Is dit waar jy’s nie een vir groente en slaai nie? Jy lyk só gesond.

Ek eet graag, maar ja, miskien nie die regte en gesonde kos nie. Ek eet nie groente of slaai nie; gee my eerder ’n bord pasta!, of rys, vleis en aartappels en ek’s die gelukkigste mens op aarde. Een van my gunstelinggeregte is hoender met kasjoeneute, met géén groente nie. En vir ’n middernaghappie ’n lekker blokkie goudakaas.

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

Ons sê Suid-Afrika, jy sê . . .

. . . braai, koeksisters, melktert, kamp, slaptjips, 11 tale, Afrikason, die Groot Vyf, proteas, die Bosveld, omgee-harte, warm glimlagte – die lys is lank. Dis die plek waar ek veilig voel, waar ek my drome verwesenlik, my kinders wil grootmaak. My droom vir SA is dat ons mekaar ’n gelyke kans gun, want ons het al gesien as ons wíl, kan ons. Dis huis, die plek waar my siel rus.

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

En Afrikaans?

My hartstaal. Ons kan nog woorde skep, soos ja-nee – wat beteken dit nou eintlik? Ja? Nee? Maar dit wérk! Dis my taal; woorde wat my in al my fasette vasvang.

Schané Venter
FOTO Leana CR

Hierdie is ’n opwindende tyd vir jou. Jy is SARIE se 11de wenner en oor so sewe maande trou jy.

Ek’s verloof aan my heel beste vriend, Marion Fouché, ’n verkoopsbestuurder en beleggingspesialis. Ons het verlede jaar op Tuindag verloof geraak en beplan om volgende jaar te trou. Ons het darem al ’n venue, fotograaf en datum. Vir my is Griekeland met sy wit en blou ideaal vir ’n wittebrood. Dit skree romanse ... so ek bly hoop. En bly skimp!

Voorbladgesig
Saam met haar verloofde Marion Fouché by die Voorbladgesig-gala-aand FOTO Willem Lourens

Iets oor SARIE se 70ste verjaardag?

Dis so ’n groot mylpaal. My wens is dat SARIE vir nog 70 jaar en nóg 70 jaar vroue se stories vertel.