Volgens Sean doen sy maatskappy die na-produksiewerk van redigering, klank, klankontwerp en gradering en sortering van die rou materiaal. Dit is die tegniese aspekte van fliekmaak.

“Dis nie die glansryke deel van rolprentvervaardiging nie, maar na-produksiewerk kan ’n fliek maak of breek,” sê Sean.

Die prent word in Kaapstad en by die Michaelhouse Seunskool in Natal geskiet. Sean vertel dat die verfilming meer as agt weke kan neem. Daarna word al die data wat opgeneem is aan die na-produksiespan gestuur sodat hulle met die redigering kan begin.

“Dis ’n baie langsame proses, want ons moet deur elke dag se materiaal werk. En jy verstaan nie hoeveel rou materiaal daar daagliks opgeneem word nie,” sê hy.

Sean, wat ook deel was van die vervaardiging van Platteland: die musical, glo dat hy baie uit die na-produksie van Spud leer, omdat hy nou ook die besigheidsaspekte en na-produksie-kant van die rolprentbedryf leer ken. Hy glo dit sal hom help om te groei as rolprentmaker.

“Ek voel geseënd om deel van ’n produk soos Spud te wees en om met sulke talentvolle mense te kan werk. Ek dink die sukses van Spud kan net groter word, want die boeke en die eerste fliek was wonderlik.”

Sean Else

Sean Else in die Oktober 2007-uitgawe van SARIE

Sean verduidelik dat die vervaardiging van ’n fliek ’n spanpoging is, omdat elke element van die fliek belangrik is – die werk van die stilis is net so belangrik soos dié van die regisseur, toneelspelers en na-produksiespan.

“En jy moet dit maar so dag vir dag vat, want jy is net so goed soos jou laaste produksie,” sê hy.

Hy het baie hoop vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse filmbedryf en meen dat daar briljante nuwe projekte in dié industrie is. Collective Dream Studios werk ook aan die vervaardiging en na-produksie van The Perfect Wave, ’n fliek wat die storie vertel van die Nieu-Seelandse branderplankryer Ian McCormack.

“Dis ’n pragtige Christelike storie oor ’n branderplankryer wat in Nieu-Seeland, Indonesië, Maleisië, Suid-Afrika en ander lande reis en branders ry. Dis baie modern en glad nie geforseerd nie.”

Die rol van McCormack gaan deur Scott Eastwood, seun van die Hollywood-regisseur en -vervaardiger Clint Eastwood, vertolk word. Sean beplan om baie Suid-Afrikaanse kunstenaars op die klankbaan van dié fliek te gebruik.

Hy is positief oor Suid-Afrika se rolprentbedryf en glo dat veral die Kaapstadse sektor baie goed doen, aangesien vervaardigers in dié stad wegbeweeg het van politieke stories en begin het om eerder hul eie stories te vertel.

“Mense begin kommersieel en uit die boks dink en dít is ’n baie goeie ding. Ek dink die Suid-Afrikaanse filmbedryf gaan oor tien jaar baie gesond wees. Mense moenie Suid-Afrikaners se talent onderskat nie en hulle moet ook nie hulself onderskat nie,” sê hy.

Hier's die lokprent van die eerste Spud-fliek