Hoe het jy gevoel toe Hykie voor die stamvergadering vir jou gesê het hy gaan teen jou stem?

Daar is niks wat ek daaraan kon doen nie. Bonnie het dit ook vir my gesê, hoewel dit nie op kamera gewys is nie. Jy kan aanvoel wanneer dit jou tyd is om te gaan. Ek het vir die eerste keer in my lewe 'n krap doodgemaak toe ek op die eiland was, en tydens die tribal council het ek presies soos daai krap gevoel: al is die krap dood, skop hy steeds. Ek het heeltyd gewonder hoe ek terug in die speletjie gaan kom, selfs toe Nico my vlam geblus het.

Jy het onemosioneel en terughoudend voorgekom tydens Survivor. Dink jy dit het vir of teen jou getel?

Ek dink van die deelnemers het dit as 'n bedreiging gesien omdat hulle nooit geweet het wat in my kop aangaan nie, maar dit het belangstelling by ander ontlok. Ek was hierdie misterieuse ou waaroor hulle meer wou uitvind.

Het jy óóít emosioneel geraak?

Ek het vir my vrou gesê ek het nog nooit soveel gehuil soos toe ek op die eiland was nie. Daar het jy geen kontak met die mense vir wie jy lief is nie. Dit vat aan jou. Ek het gereeld emosioneel geraak en dan weggestap en gaan huil. Alison het een keer vir my gevra of ek gehuil het omdat my oë rooi was, toe sê ek nee, dis net die son wat in my oë skyn en dit irriteer. Die volgende keer toe ek weer met rooigehuilde oë na die stam toe teruggegaan het, het Alison gevra: "Het die son weer in jou oë geskyn, Seanie?" Sy het geweet.

Dit lyk asof jy en Alison goeie vriende geword het.

Dis so ironies, ek wou haar met die eerste episode uitstem, maar ná 'n ruk het daar 'n band tussen ons gevorm. Jy het iemand nodig op wie jy kan vertrou op die eiland, anders gaan jy mal word.

Jy het die een individuele uitdaging na die ander een gewen. Was jy nie bang die ander deelnemers gaan bedreig voel nie?

Ek het net besluit die oomblik wat die individuele uitdagings gaan begin, gaan ek my beste gee. Dis iets wat ek my kinders leer en ek het gevoel ek moet 'n voorbeeld vir hulle wees. Toe ons almal briewe van ons geliefdes gekry het, het my dogter vir my geskryf ek moet net my bes doen. Dit het my nuwe dryfkrag gegee. Hykie het op 'n stadium vir my gesê ek het 'n innerlike krag waarmee hy nie kan meeding nie, iets dryf my. Dit was my gesin.