Zanri Schoeman doen haar doktorsgraad in natuurbewaring aan die Nelson Mandela-universiteit, George-kampus

Sedert ’n bedremmelde Kaapse trekduiker een oggend in 2015 ná ’n storm by die Weskus-fossielpark naby Langebaan beland het, wy sy haar lewe aan seevoëls. Die trekduiker was moeg en verdwaal. Ná ’n besoek aan die veearts het sy hom op die strand gaan vrylaat. “My hart wou ook vlieg van blydskap. Ek glo hy moes oor my pad kom.”

Nou doen Zanri Schoeman haar doktorsgraad in natuurbewaring, met die fokus op seevoëls. Sy werk ook by verskeie seevoël-rehabilitasiesentrums.

Haar verloofde, Tiaan Strydom, doen sy doktorsgraad in natuurbewaring, met die fokus op duinstruike. Sy en hul troetelhaas, Vlekkie, gaan gereeld saam met hom as hy branderplankry. Zanri was as kind al mal oor die veld. Sedert graad nege aan die hoërskool Curro Langebaan het sy gereeld vakansiewerk by die Erindinatuurreservaat in Namibië gedoen.

In 2015 het sy betrokke geraak by die seevoël-en-pikkewynrehabilitasiesentrum SAPREC op Mosselbaai. Haar take sluit in om beseerde voëls op strande te gaan haal, hulle te voed en medies te versorg voor sy hulle na sentrums vir langtermynversorging neem.

Sy help ook deeltyds by die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) in Port Elizabeth met die rehabilitasie van pikkewyne. En verlede Desember het sy waardevolle data oor seevoëls by Jutten-eiland naby Saldanha ingesamel.

Sy glo as seevoëls nie beskerm word nie, kan dit die hele ekostelsel in gedrang bring. “Daar sal te veel robbe wees, wat op hul beurt te veel seepampoentjies sal eet, en dán sal daar al hoe meer seewier wees. Die seewier sal die plante en diere wat langs die kus voorkom oordonder en daar sal nie genoeg kos vir hulle wees nie . . .”

Zanri hoop haar wetenskaplike artikels oor die onderwerp sal in die toekoms ’n rol speel in visbestuur. “Die navorsing plaaslik is op dreef, maar die bevolkings van bedreigde spesies bly daal. Minder as een persent van die Kaapse pikkewyn (African penguin) bestaan nog in die wêreld.”

Daar is baie redes hiervoor. Seevoëls het te min kos, deels weens mense se groot vraag na vis. Predatore soos robbe eet witmalgaskuikens en  seemeeue die eiers. “Voeg daarby al die mensgemaakte vullishope – dit bied kos vir meeue wat hul bevolking laat toeneem, en die malgasse word verder bedreig. Dit is ’n bose spiraal.”

Olie wat in die see vloei, van ander lande en ons eie skepe, is nog ’n sondaar. Dit breek die natuurlike waterdigtheid van pikkewyne se vere af, wat veroorsaak dat hulle sukkel om hul liggaamstemperatuur te beheer.

Zanri vertel van ’n pikkewyn wat verstrengel geraak het in plastiek, maar tot op Mosselbaai se strand gespartel het. “Ten spyte van goeie voeding, elektroliete en medikasie kon hy ná ’n week nog nie staan nie en eers ná drie maande terugkeer see toe.”

By die rehabilitasiesentrums voer sy daagliks pikkewyne met emmers vol sardiens en dien medikasie toe. “As hulle te swak is om te swem, kan hulle nie self water drink nie en ons moet hulle deur ’n maagbuis hidreer.”

Elke mens kan help om seevoëls te beskerm, sê sy. “As jy op die strand beseerde voëls sien, bel ons. Moenie net wegloop nie. Moenie plastiek of ander rommel op die strand laat nie. Kuikentjies eet plastiek en voel versadig, maar sterf weens wanvoeding. Ander voëls raak verstrengel daarin en sterf.”

Soms sit sy ure en kyk na haar geliefde voëls. “Hulle laat my lag en hul kommunikasie met mekaar is fassinerend. As witmalgaskuikens baie klein is, bly een van die ouers altyd agter by hulle in die nes. Die ander een soek vis. Wanneer die ouer terugkeer, voer hy of sy ’n gesinchroniseerd dansie uit met sy broeimaat. Die vlerke klap en die ouers buig. Hoe inniger die band, hoe langer duur die dans,” vertel sy.

“Dit is eers wanneer ’n mens stil word, dat jy die skepping waardeer . . .”

Navrae: saprec.org; sanccob.co.za