Sy was 16 toe ’n familielid haar aan ’n bordeel in Bloemfontein verkoop het – daar is sy tot 20 keer per dag verkrag, gemartel, aangerand, dikwels aan die bed vasgemaak. Dwelms en drank het haar toevlug geword. Sy was fisiek en emosioneel gebreek.

Dis nou al 20 jaar sedert Elanie Kruger ontsnap en ’n nuwe lewe begin het nadat sy agt maande as seksslaaf aangehou is. Sy het ’n boek, Van skoolbank tot bordeelbed*, daaroor geskryf, sy is gelukkig getroud en deur haar organisasie Voices for Victims help sy ander slagoffers van mensehandel. Maar die onthou ... dis áltyd daar, sê sy.

“Wat met my gebeur het, sal ek vir ewig in my dra, maar só kan ek ander help, ek weet waardeur hulle gaan.” Dis haar lewensroeping om die pad te stap saam met elke slagoffer, van die oomblik dat sy (en die polisie) hulle uit die bordeel gaan haal. “As daardie ‘liggie’ op ’n dag weer in die ogies aangaan, die glimlaggie kom terug ... dis so bevredigend. As jy weet: hierdie een gaan dit maak. Ander loop weg of pleeg selfdood. Die seer is te veel.”

Elanie het self in die beginjare baie geworstel. Sy het by familie gaan woon, maar geweier om daaroor te praat en ontvlug deur te drink. Later het sy oor mensehandel begin oplees en by ’n pastoor gaan raad soek. Berading, sielkundige hulp en om met pen en papier deur alles te werk was van groot waarde.

“Die grootste uitdaging was om myself te vergewe. Vir jare het ek myself gehaat omdat ek ’n prostituut was. Ek moes myself weer leer liefkry en aanvaar, en boonop die mense vergewe wat dit aan my gedoen het. Sonder God sou ek dit nie kon regkry nie.” Jy moenie in die slaggat trap om jouself as slagoffer te beskou nie, sê sy, sien jouself eerder as ’n survivor. “Ek het tough grootgeword, ons moes kleintyd dikwels bedel vir kos ... dalk is ek sterker as wat ek dink.”

Toe sy sowat 15 jaar gelede die eerste keer met ’n slagoffer gewerk het, het dit haar hárd geslaan. Soos die 14-jarige meisie haar storie vertel het, het dit vir Elanie gevoel asof haar eie lewe uitmekaar begin val. “Ek het alles herleef en baie depressief geraak, maar dit was terselfdertyd die begin van my helingsproses om die trauma te verwerk. My werk is deel van my genesing.”

Dit was vir haar moeilik om mense te vertrou. Selfs haar eie man, met wie sy al 15 jaar getroud is. “Dit het my lank geneem om sy liefde te omarm. Ek het nie eens geweet hoe om liefde terug te gee nie. Die eerste paar jaar van ons huwelik was moeilik. Gelukkig het ek ’n wonderlike man wat my verstaan, ook as ek ’n dag of twee stil raak. Want daar is steeds tye wat jy worstel oor hoekom dit met jou gebeur het.”

Drie jaar gelede, kort voor haar tweelingdogtertjies se geboorte, het sy vir twee jaar halt geroep. “Ek het ’n saak hanteer van ’n agt maande oue dogtertjie wat deur haar ouers verkoop is. Sy is aan inwendige bloeding dood, van haar geslagsdele was niks oor nie. Dit het my geruk. Ek moes eers rus, herlaai. Nou is ek weer voluit aan die gang. Dit gee my groot vreugde as ek hoor hoe goed dit met meisies gaan wat ons gered het, wat vol lewens lei. Dit gee sin aan alles.”

Daar is planne dat haar boek in ’n fliek omskep gaan word. “Hoe meer mense bewus raak van mensehandel in Suid-Afrika, hoe beter.”

Van skoolbank tot bordeelbed deur Jaco Hough Coetzee met Elanie Kruger, Jonathan Ball Uitgewers.

Navrae: www.stoptrafficking.org.za, stoptrafficking@live.com

Van skoolbank tot bordeelbed