Sy’s skaars 18 jaar oud, maar elke vrou kan iets leer by Jonadrie van Aardt, wenner van die SARIE Nuwe Gesigkompetisie 2020: Jy ís genoeg – nes jy is. Toe sy dit eers besef het, vertel Jonadrie, het sy met nuwe oë na haarself en die wêreld begin kyk.

“Ek is gebore met ’n beauty spot bo my een wenkbrou en in my laerskooljare is ek vreeslik daaroor gespot. Dit was baie moeilik en ek het my ma gesmeek dat ek dit kan verwyder. Selfs as tiener, toe ek in 2017 met modelwerk wou begin, het dit my laat voel ek is nie goed genoeg vir die modebedryf nie.”

FOTO Willem Botha

Al het sy as model kompetisies gewen (sy was in 2018 die Figures-modelagentskap se model van die jaar en het verlede jaar die fotogeniese afdeling van Mej. Tiener SA gewen), het agentskappe haar aangeraai om dit met grimering te verbloem of dit uit te haal op haar foto’s.

En toe vertel haar ma, Naomi, haar van die supermodel Cindy Crawford, wie se unieke beauty spot haar juis gehelp het om bekend te raak. “Ek het nie eens geweet wie dit is nie! Ek moes oor haar gaan oplees en sy het my uitkyk verander. Sy’t gesê ons almal het iets wat ons anders maak en ons moet dit vier. Eerder as om te probeer inpas, moet jy die beste wees wat jy´ kan wees, met jou unieke trekke. Dís wat dit beteken om genoeg te wees.”

Jonadrie hoop sy kan as Nuwe Gesig hierdie boodskap versinnebeeld.

“Ek weet al lankal van die SARIE Voorbladgesigkompetisie, maar ek is nog te jonk om in te skryf. Toe ek die Nuwe Gesig-kompetisie sien, was ek so opgewonde. Ek het dadelik gedink dit moet iemand buitengewoon wees, vars, iets wat mense nie sal verwag nie. En deesdae dink ek dis juis my ongewone beauty spot wat my interessant maak.”

FOTO Willem Botha

Haar voorkoms is nie al rede hoekom sy gewen het nie. Die Nuwe Gesig moet ’n ambassadeur vir SARIE wees, en Jonadrie het kop en skouers uitgestaan. Annemie Lombard, SARIE se digitale redakteur, sê: “Vir SARIE Nuwe Gesig het stemme nie die finaliste bepaal nie – deelnemers is aangemoedig om te woeker op sosiale media. Ons het dus die finaliste leer ken deur hul inskrywing op die webtuiste, maar ook deur sosiale media. Honderde het ons inspireer met hul kreatiewe kunswerke, oulike Tiktoks en persoonlike stories.

“Sommige finaliste se inskrywingsfoto’s het met ons gepraat, ander finaliste het hul storie verder vertel op sosialemediaplatforms en SARIE se wekroep van 2020, #JyIsGenoeg, uitgeleef. Jonadrie het albei gedoen – sy het deurgaans met ons gesels op sosiale media, plus haar inskrywingsfoto’s het dadelik ons aandag getrek. Net só glo ek gaan sy duisende mense se aandag trek met haar voorbladfoto op vandeesmaand se kleiner SARIE-weergawe.”

FOTOREEKS Willem Botha

Jonadrie het gedurende die kompetisie byna daagliks met haar volgelinge op Instagram en Facebook gekommunikeer deur oorspronklike, energieke inskrywings – van meningspeilings tot oulike foto’s en video’s. In een video bied sy ’n les vir grimering aan wat jou slegs 15 minute sal neem. In ’n ander sê sy: “As daar ’n geleentheid is wat jou aanmoedig om jouself te wees in hierdie chaotiese wêreld, moet jy dit aangryp.”

Sy glo sosiale media is nie altyd die euwel wat baie mense dit uitmaak nie, mits jy dit reg gebruik. “Mense glo sosiale media is vals en, ja, dit kan uitdagend wees om net jouself te wees eerder as om te probeer inpas. Maar dis juis hoekom dit belangrik is: As jy dit reg gebruik, is sosiale media ’n geleentheid om mekaar te inspireer deur die goeie én die moeilike in jou lewe te wys. Almal sukkel met iets en dalk kan jy iemand so help. Ek het nie ’n plan of proses oor wat ek daar deel nie, ek deel net alles en enigiets. Laat mense daarmee maak wat hulle wil.”

Die sosiale media en aanlyn platforms was juis vir haar ’n reddingsboei tydens die pandemie. “Dis so ’n deurmekaar open- af-tyd. Een dag is jy vol moed dat alles oukei gaan wees, die volgende dag voel dit glad nie so nie. Ek dink nie ek sou daardeur kon kom sonder om aanlyn in my vriende en familie se lewe te kan deel nie.”

FOTO Willem Botha

Dié vriende is van oral oor die land, want in haar laerskooljare het Jonadrie en haar gesin dikwels verhuis en sy was in vyf laerskole: in Pretoria, Springs, Alberton, Kempton Park en Reddersburg in die Vrystaat. “Dit was toe vir my baie moeilik, want nes jy maats maak, moet jy weer van voor af aanpas in ’n ander skool. Maar later raak jy dit gewoond om nuwe mense te ontmoet en vandag is ek bly vir daardie ondervinding. Dit het my sterker gemaak. Ek is aanpasbaar en weet hoe om met ’n diverse verskeidenheid mense oor die weg te kom.”

As matrikulant aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is vanjaar met die pandemie besonder uitdagend, want die matrieks loop baie mis. Om nie te praat van hoe dit hul punte en toekoms kan raak nie.

“Ek sou hierdie jaar vir die eerste span netbal gespeel het, en daaroor is ek die hartseerste. Ons skool het nog altyd ’n sterk netbalspan gehad en ek is lief vir sport en oefening. Ek is nog elke jaar ook in die atletiekspan en hardloop in die 100 m- en 200 m-naellope.”

Daar gaan waarskynlik ook geen matriekafskeid wees vir 2020 se matrikulante nie. “Ek was gelukkig verlede jaar saam met my kêrel van drie jaar, Tiaan [Beukes, wat nou as persoonlike afrigter studeer] by sy matriekafskeid. Maar ek dink by ons skool is meer matrieks hartseer om nie die witrokdag mee te maak nie – ’n tradisie waar al die matrieks die dag wit klere aantrek en die skool groet. Daar is gewoonlik ’n saalbyeenkoms waar almal snaakse of betekenisvolle stories deel, so dis ’n baie emosionele dag. Die ander grade staan met mandjies vol blomme in die gange soos die graadtwaalfs uitstap en deel dan aan hulle blomme uit.”

FOTO Willem Botha

Jonadrie is ook vanjaar hoofmeisie van die koshuis en ’n matriekraadslid van die skool en het gevoel sy loop die geleentheid mis om ’n leier te wees.“Maar toe besef ek dis juis nou wat jy as leier ’n verskil kan maak, al is dit van jou huis af.”

Sy het video’s begin maak om haar medeleerders te motiveer terwyl sy tydens die inperking by die huis in Kraaifontein was. “Een van die moeilikste dinge vir leerders was om hulself te motiveer om te werk. Jy het dalk oor Google Classroom onderrig gekry, maar dan moet jy jouself motiveer om op datum te bly met al die werk en jou huiswerk te doen, terwyl jy omring is deur soveel negatiwiteit tydens die pandemie.”

In een video sê sy: “Die mooiste ding van hierdie jaar is dat daar in soveel harte soveel hoop gevorm het. Wat ’n tyd om te leef. Hierdie jaar is nie wat ons verwag het nie, maar ons moet die beste daarvan maak, aanpas en voortgaan. Dis oukei as jy nie môre, oormôre of die res van die jaar oukei voel nie, of dat iets van jou weggevat is nie. Dis ’n les om te leer. Dink net aan al die kere wat jy atletiekbyeenkomste, aktiwiteite en jou skoolloopbaan verbygewens het! Kom ons wees dankbaar vir wat ons het.”

FOTO Willem Botha

Dit is juis wat sy in die komende jaar wil doen: In die oomblik leef en verskillende dinge probeer terwyl sy besluit wat sy vorentoe met haar lewe wil doen. Sy is gekeur om somatologie by die Isa Carstens Akademie op Stellenbosch te studeer, maar is nog nie seker of sy dit as loopbaan wil nastreef nie.

“Ek hoop ook die Nuwe Gesig-kompetisie kan vir my dalk deure in die modebedryf oopmaak. Watter wonderlike geleentheid! Selfs al het ek nie gewen nie, het die blote feit dat ek ingeskryf het reeds vir my soveel beteken. Dit verg moed om vir die wêreld te wys wie jy is en ek dink ek het as mens gegroei. ’n Vriendin het vir my gesê as ’n mens iets wil hê wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy iets doen wat jy nog nie het nie. En kyk nou net!”

FOTO Willem Botha