Sepiester Karien sou graag by Nasa wou werk, in komedies wou speel, maar kykers is bly Christi Botha is eerder in 7de Laan. Aan die sy van George – en dinge staan kansel se kant toe.

deur RONEL NEL
foto LEANA CLUNIES-ROSS
stilering CANDICE-LEE KANNEMEYER

Sy’s lank. Claudia Henkel-lank. En die grimeerkunstenaars kon maar by die huis
gebly het – daardie vel is deursigtig en vlekkeloos, soos Ena Murray altyd die heldinne in haar liefdesromans beskryf.
Boonop is Christi Botha onopgesmuk, spontaan en babbelend.
Net die manier waarop sy terug-SMS om ons ontmoeting te bevestig, of bel om seker te maak jy weet hoe om by die ateljee te kom, laat ’n mens van haar hou nog voordat jy haar in lewende (lang)lywe ontmoet het.
Karien van 7de Laan. Ons kry mekaar tussen opnames op die stel. Kry nie ’n stil plekkie in die kafeteria om te gesels nie, en sy help stoele uitdra tot waar ons ongesiens, ongemaklik onder ’n motorafdak kan sit en gesels. Die sweet rol ons af – die een blink spieëlmatig, die ander een se vel gloei net. (Raai watter een?)
“Die mense hier het soos familie geword. Ek is nou maar van Mei af deel van die produksie, maar het voorheen gereeld saam met Nico (Panagiotopoulos, George van 7de Laan) saam met hulle gekuier.”
Dié twee is al amper ses jaar bymekaar, en vroeg aanstaande jaar is dit sulke tyd. Hulle trou.
“Ek rittel en beef as ek dink aan die beloftes wat ek nog moet skryf, die vows.
En dit moet in Engels wees, sodat van ons Engelse familie en vriende ook verstaan.
Nico se pa is Grieks, hoewel hy baie goed Afrikaans kan praat, en sy ma is Afrikaans.”
En Karien, die grafiese ontwerper, en George is ewe gepas in ’n verhouding.
Christi het onlangs, in November, 28 geword. ’n Goeie ouderdom om te trou, reken sy. En Nico is presies die regte man vir haar. Hy donker, sy lig; hy introvert, sy ekstrovert. Albei buite-mense. Albei diep gelowig. Haar verloofde is haar gunstelingmens! sê sy met ’n uitroepteken. Geen wonder Redeeming Love van Francine Rivers is die boek wat haar die naaste aan die hart lê nie.
Hulle het mekaar ses jaar gelede op dramaskool ontmoet. Hulle ken mekaar van binne en buite, slegte gewoontes en al. Sê hy: “Sy’s so versot op soetgoed dat ek niks kan koop en in die kas bêre nie, want as ek weer kyk, het sy als verslind! In die winter rol sy haarself soos ’n soewlaki op in ons duvet en los my bibberend met niks! Note to self: Kry eie duvet. En hoewel ek self mal is oor bord- en ander speletjies, kan ek nie byhou met haar wat 24 uur per dag lus is daarvoor nie ...”
Christi sê hulle soek nou huis. “Ons wil graag ’n groter een hê, een waar ons ’n hond ook kan aanhou.”

En wat van kinders?
Ja, natuurlik, maar nie nou dadelik nie. Ons wil eers bietjie gaan reis, mekaar as getroudes geniet.

Waarheen reis?
Ons wil net gaan rondloop! Ek sal baie graag eendag Amerika toe wil gaan, maar nie op die gewone Disneyland- of New York-trippie nie. Eerder in ’n camper saam met Nico die lang pad vat en oor die hele land toer. Of op ’n eiland gaan ontspan.
Terloops, ons gaan na die troue “iewers na ’n eiland toe”, maar waar is ’n groot geheim.
Jy weet, die paparazzi moenie uitvind nie! (Lag sy.)
O, en ek sal graag Griekeland toe wil gaan, sy familie daar gaan ontmoet. En ongewone plekke soos Viëtnam. En beslis een of ander tyd Bali, as al daai bomaanvalle net wil ophou, of Thailand, maar almal is seker skrikkerig ná die tsoenami.
Maar hier tuis is dit net so heerlik, net so lekker. Ons is mal oor Mpumalanga.
Blyderivierpoort, die klein dorpies, die Bosveld ...
O, ja, ek wil vreeslik graag die Grand Canyon besoek. Ag, man, ek wil eintlik die
hele wêreld sien.

Jy praat van Viëtnam. Sal jy ook soos Jane Fonda en Angelina Jolie betrokke
wil raak by nood-lenigingswerk? Of hoe sou jy wou help?
Ek glo dat ’n mens jou 10% vir liefdadigheid moet gee, of dit nou met jou tyd of met jou geld is. Ek en Nico ondersteun ’n hostel en crèche in Hillbrow, en werk veral met die swart kindertjies, wat my baie naby aan die hart lê. So ja, ek sal baie graag betrokke raak, veral waar kindertjies in nood is.

Hoe lyk jou ideale Kersfees?
Met sneeu. Sou so graag sneeu hier wou hê, maar dis mos nou onmoontlik. Sal
wel een keer ’n regte white Christmas wil beleef. Met jassies en sneeumanne en als.
In Europa, verkieslik. Ons familie hou egter reuse-Kersfeeste. Gewoonlik iewers naby die see. Verlede jaar was my ouers en Nico se ouers ook saam en dit was ’n vreeslike joligheid. Op ’n foto sit ons almal met Krismishoedjies om ’n reuse-tafel vol kos. Dit was op Somerset-Wes. Vanjaar gaan ons en ’n paar vriende Plettenbergbaai toe.

Vertel van jou familie?
Ek het in Monumentpark grootgeword, en was in Centurion op skool ook. (Ek sien op die internet haar alma mater se koerant, Die Fleurtjie, skryf met groot trots oor haar.)
My pa, Chris, is ’n sakeman. My ma, Babsie, het altyd gewerk, maar sy speel deesdae ouma vir my sussie, Elmien, se twee kinders. My pa en ma het op 10 November hul 30-jaar-huweliksbelofte aan mekaar hernu. Is dit nie wonderlik nie?

Wou jy altyd akteur word?
Nee. Op skool was ek sportmal, het veral netbal gespeel. En ek het aan redenaarskompetisies
deelgeneem. Ek het aanvanklik B. Com. (bemarking) gaan studeer, maar toe oorgeslaan en
twee jaar lank drama aan die Method Training Centre gaan swot. Ek het ook voorheen modelwerk gedoen, en in ’n mate is dit baie soos om op stel te wees. ’n Mens speel maar voor die kamera. Ek het van kleins af voor ’n kamera ingespring. Gesigte getrek en
toneel gespeel. Heeltemal anders as die res van die familie, wat nogal kamerasku is.

Nou hoe het 7de Laan gebeur?
Ek en Nico het ’n hele paar jaar gelede saam oudisies afgelê. Toe kry hy ’n rol. Ek het later so vir ses episodes ’n klein rolletjie as Belinda Fourie gehad, en dit lyk my nou was net die regte tyd en die regte plek. Selfs tóé sou ek net vir tien weke in die reeks gespeel het. Maar nou is hulle stuck met my!

By wie van jou mede-akteurs het jy die meeste geleer?
Sjoe, ek het groot respek vir Anna-Mart van der Merwe (Christelle), Elma Postma
(Dezi) en Diaan Lawrenson (Paula) – hulle is al drie fantastiese aktrises. Mens hoef
net vir hulle te kyk, dan leer jy sommer baie. Maar ek dink die persoon wat my die
meeste gehelp het, is ons drama-afrigter, Roelien Spruyt. Sy’t my gou-gou bewus
gemaak van my Pretoriase “mô-en-pô”-aksent en my regtig baie oor myself en
my vermoëns geleer. Sy’s great.

Hoekom dink jy het sepies – en veral 7de Laan – so ’n effek op kykers?
Ek dink dis omdat mense kan identifiseer met die karakters. En 7de Laan is
nice, en dis onskuldig. Die karakters beeld gewone mense uit, mense wat in ’n koffi ewinkel
of ’n boekwinkel werk. En dan word daai lewens na die kassie verplaas en skielik kry dit ’n bietjie glans.

As mense jou herken, is dit as Christi of Karien?
O, beslis as Karien. Veral in die Kaap, waar mense baie warm en meelewend is. Hulle kom oor en gesels stukke met jou, asof hulle met die karakter praat! Dit het egter ook al gebeur dat ek en Nico iewers gaan eet en mense hom dan herken (as George, natuurlik) en net eenvoudig inval en saam-praat, en dit kan soms bietjie pla. Daai strepie tussen openbare figuur wees en
net soms jou privaatheid wil hê, raak soms dun. Ek sou graag wou sien dat daar ’n klein
bietjie respek vir ‘n mens se private tyd is.

Het jy enige planne vorentoe?
Nee, nie juis nie. Ek sou dalk graag eendag in ’n sitcom wou speel, iets soos Friends of Will & Grace. Ek verkies komiese rolle. Miskien in ’n film ook – dis intenser.

Skryf jy?
Nee, wat. Daardie kreatiewe deel van die proses is Nico se werk! Hy skryf aanhoudend,
het pas begin met sy eerste draaiboek. Hy lees ontsettend, minstens een boek per week. En het ’n geweldige verbeelding. Nee aarde, dis konstant besig in daai kop!

Wat – as jy ’n ander lewe moes hê – sou jy graag wou doen?
In ’n ander lewe sou ek graag vir Nasa wou werk! Maar meer realisties, ek sou enigiets
kreatiefs wou doen, van grafiese ontwerp (soos Karien) tot in die kunsdepartement
op stel. Of selfs as ’n binneversierder. Ek is beslis ’n regterbrein-mens.

Het jy slegte gewoontes?
Ooo, ek gun myself heeltemal te veel cheat-dae in een week! (Maar sy wei nie verder uit nie …)

En goeies?
Ek gaan slaap nóóit met grimering aan nie en drink baie water. En ek is altyd eerlik!

Wat was die stoutste ding wat jy op skool (of daarna) gedoen het?
Ek het vreeslik baie gebunk en gemaak of ek op ’n shoot is. En my ma was kop in een mus met al die plannetjies.

Hoekom, dink jy, werk Latyns-Afrikaanse-verhoudings so goed?
Wel, Nico is ’n Griek. Maar sy ma is ook ’n Afrikaanse vrou. Ek dink Latynse mense
en Afrikaners is baie dieselfde: Ons hou van kuier en raas, en het hegte familiebande.
Ons is almal so bietjie mal in die kop!

Wie was jou jeughelde?
Ek het seker élke boek in die Saartjiereeks gelees. So, toe hulle dit in ’n TVreeks
omgeskep het, was Annie Malan as Saartjie my held.
Ek en my twee maatjies het altyd Saartjie-Saartjie gespeel. Ek natuurlik as Saartjie, en hulle twee as Anna en Lina …

Is jy lief vir eet?
Baie! Veral Thaise kos, pizza, Steers se tjips en spare ribs en popcorn in die fliek.
Maar ek geniet ook ’n lekker slaai. Net nie daardie koekies hier op stel nie. (Ek proe met die uitgaan ene om te sien waarvan sy praat. Oi!) En ek hou baie van ’n aarbei-daiquiri.

Watter parfuum dra jy?
Altyd óf 212 van Carolina Herrera, óf Mania van Giorgio Armani.

En hoe ontspan jy, weg van die stel af?
Ek drink rooiwyn en speel skaak. Of 30 seconds.
En fliek. Ek hou baie van Nicole Kidman en sal enigiets van Edward Norton gaan
kyk. Of luister musiek, enigiets van die Gypsey Kings, U2, Black Eyed Peas tot BLK
Sonshine …
***
Die onderhoud is verby. Sy dra ewe plegtig haar stoel terug kafeteria toe, daardie dun armpies het duidelik meer staal as wat hulle wys. Met tientalle fakse, SMS’e en kort
geselsies tussen tonele deur kom die artikel bymekaar.
(En ek het regtig gedink só ’n vel bestaan net in boeke …)

Wat jy nie van Christi geweet het nie
Ek kan maskara aansit terwyl ek bestuur
Ek ly aan OCB (obsessive compulsive behaviour) – tel teëls en lyne
en my brein hou nie op nie
Ek is mal oor knoffel – tot die innige spyt van my vriende
Ek is totaal verslaaf aan werklikheids-TV (Idols, Survivor)