Nenna Willemse (Shaleen Surtie-Richards) was een van die mees geliefde karakters en kykers was baie ontsteld toe sy Egoli in 2000 gegroet het. Gelukkig was sy ’n paar jaar later terug om te bly. Ons sien haar ook in Junie in die Egoli-fliek. 

"Saam met die hartseer van die laaste tonele was daar ook 50% vreugde, want jy het weer jou lewe terug gehad. Maar die feit is dat jy 18 jaar lank ’n salaris gekry het – baie gerusstellend vir ’n akteur.

Egoli was soos om ’n kind groot te maak. Ek kyk daarop terug met deernis. Toe ek aanvanklik gehoor het Franz Marx wil dié sepie maak, het ek hom gebel. Hy het toe na ’n show wat Pieter-Dirk Uys spesiaal vir my geskryf het, Just Like Home, kom kyk, en my dadelik die rol van Nenna aangebied.

Ek is in 2000 uit Egoli om ’n bietjie wind te skep. Dit het gevoel asof my lewe by my verbygaan. In daardie jaar is my pa, Hokkie, ook dood en ek het toe na my ma, Sakkie, gekyk.

In 2003 is ek terug na Egoli. Dit het gevoel asof ek nooit weg was nie. Ek het ongoddelik lief geword vir almal daar. Veral vir Christine Basson (Nora). Ons het nooit mooi broodjies gebak by mekaar nie. Dan was daar my ‘kinders’, soos Kevin Smith (Andy). Franz was my baas en vriend met wie ek ure kon gesels. Hannah Botha was fenomenaal. Toe ek die rukkie weg was, het sy gesê dit voel asof haar hand afgekap is.

Ek het by Egoli geleer aanhouer wen. My ma het gesê as ek woorde so vinnig kan leer, kon ek netsowel ’n dokter geword het.

Alles van Egoli spreek van gehalte. Daar is dan selfs mense in Namibië wat hul kinders ‘Egoli’ gedóóp het!”