Stellenbosse kunstenaar Shany van den Berg se kunswerk Dit is ek, Gladys is op 21 April aangewys as een van 56 werke op die kortlys van die mees gesogte internasionale portret-toekennings ter wêreld, die BP-Portretprys in Londen. Marguerite van Wyk het met haar gaan gesels.

Wat beteken dié prys vir jou loopbaan?
Dié kunswerk is 'blind' beoordeel - daar was dus geen naam by of waar die kunstenaar vandaan kom nie. Ek is dus suiwer beoordeel op my tegniek en wát ek met my skildery probeer sê. Dís wonderlik vir my loopbaan en die kunswêreld.

Jy het glo een Saterdagmiddag moeg by 'n leivoor op Stellenbosch met jou voete in die water gesit, en toe stap Gladys verby en praat met jou.
Ja, sy het my weer eens bewus gemaak van die swaar in haar wêreld en tog die dankbaarheid vir die kleinste dingetjies. Ons vind geweldig baat by mekaar se ondersteuning as enkellopende vroue van verskillende agtergronde en kulture. Met universele emosies en 'n diep respek vir mekaar en die dinge wat ons deel.

Jy vertel in 'n onderhoud in Die Burger Leefstyl (Woensdag 6 Mei 2009) ''Ek het geweet om vir Gladys te skilder, sou 'n uitdaging wees.'' Hoekom?
Ek werk meer dikwels vanaf foto's, dus was die geleentheid om van regte lewe te skilder 'n uitdaging. En ook die kleure wat ek gebruik het. Die kleurpalet om haar as bruin vrou te skilder het verskil van die kleurpalet waarmee ek al ingeoefen is.

Hoe voel Gladys oor die eindproduk?
Baie trots, opgewonde en dankbaar - sy weet sy 'hang' in Londen.

Wat gaan uiteindelik met haar portret gebeur? Dit word van 18 Junie tot 14 September in die Nasionale Portretgalery in Londen (www.npg.org.uk) uitgestal. Maar kom dit eendag terug na Suid-Afrika?
Ek sien só daarna uit om haar in die ongelooflike ruimte van die Nasionale Portretgalery te sien en die energie van dié uitstalling te voel. Ook om my werk tussen sulke uitstekende gehalte skilderwerk te sien en te beleef. Ná die uitstalling gaan dit op toer deur Engeland tot Februarie 2010. Daarna sal ons sien wat gebeur.

Watter projekte is volgende op jou lys?
Ek doen opleeswerk, meestal filosofies en sielkundig, en werk aan verskillende opdragwerke. In Junie begin ek werk aan solo's by die Everard Read Galery in Kaapstad en in Johannesburg, wat gesamentlik in Oktober 2010 (hopelik) sal open. Ek dink ook daaraan om 'n bronsbeeld te maak vir die solo-uitstalling. Ek wil nou meer tyd hê vir 'n uitstalling om na die stem binne my te luister. Ek is moeg. Die afgelope jaar het sy tol geëis.

Hoekom hou jy so van portretstudies. Verkies jy olieverf of akriel?
Ek verf in olie. Dit bly my liefde. Dun olie, laag op laag. 'n Ewige uitdaging met my tegniek. As ek konsepsueel werk, gebruik ek baie verskillende mediums, byvoorbeeld perspeks, papier en ink. Om 'n portret te skilder? Sjoe, dis soos om in gesprek te tree met daardie mens vanaf die eerste titseltjie verf tot die laaste spikkel lig in die oog. Dis amper soos asem inblaas ... skepping.

Watter kick kry jy uit skilder?
Dis my gawe. Skilder laat my lewe en verryk my op soveel gebiede. Deur die jare het ek besef ek sien die lewe deur my hart en luister met my oë. En as dit 'n ander lewensreisiger aanraak. Wát 'n groot seëning. Gladys het vir my gesê: 'Ons vra God iets wat ons wil hê. Hy gee ons wat ons nodig het.' En daarin lê vertroue in dit wat ek doen.