Simoné Nortmann se oë glinster – dáár-die gloed wat mense het wanneer hulle pas goeie nuus gekry het, óf verlief is.

En in haar geval is dit sommer albei. Sy trou in Februarie vanjaar met “die liefde van haar lewe en beste vriend” Andries Pretorius, ’n rekenmeester en eiendomsontwikkelaar, en in Januarie verskyn sy as ’n nuwe, opwindende karakter in die sepie Binnelanders.

Ons ontmoet juis op dié stel in Johannesburg, waar sy al in September begin werk het. Selfs ná ’n lang dag lyk Simoné vrolik en ontspanne – gemaklik aangetrek in ’n vloeiende swart bloes, haar hare in ’n los bolla op haar kop. Sy’t vooraf gou vir ons cappuccino en aarbeie gaan koop. Nou dink sy terug aan die afgelope jaar terwyl sy knibbel aan die vrugte. Aan die hand waarmee sy dit vashou, is ’n diamant-en-roosgoudring.

“Dit was net ’n ongelooflik goeie jaar,” sê sy met ’n groot glimlag. “Een hoogtepunt was die uitreiking van die fliek Stroomop [sy het die rol van Vivian in dié lokettreffer vertolk], en van toe af voel dit of ek nog nie stilgestaan het nie.

Ek is ontsettend dankbaar vir die jaar wat verby is; ek dink nie daar was een down nie. Ek’s moeg, ja, want daar was soveel om te doen, maar my hart is vol.” Simoné het eers net ’n kontrak vir ses maande by Binnelanders geteken, maar is ná die eerste twee weke al gevra om ’n ekstra jaar te bly. “Dit was ’n lekker verrassing, soos woah! Ek het so maklik hier ingeval dat ek nie eens oor my antwoord moes dink nie en dadelik ja gesê het. Die mense is wonderlik en ons werk almal soos ’n goedgeoliede masjien saam.”

Haar karakter, suster René Spies, begin by die hospitaal werk kort nadat sy haar aanstaande voor die kansel gelos het. Ironies, skud Simoné laggend haar kop, noudat sy self op pad kansel toe is.

“Dis die vreemdste ding, maar dit voel of my rolle altyd op een of ander manier parallel loop met my eie lewe.

Op my eerste dag hier, nog voor ons ’n toneel geskiet het, moes ons foto’s van my in ’n trourok neem sodat René dit vir haar nuwe kollegas kan wys.

“Ek google ook altyd die betekenis van my karakters se name. En René beteken wedergeborene. Dis baie simbolies in my lewe op die oomblik, want hier is ek nou weer in ’n vaste posisie by ’n sepie nadat my loopbaan ook só begin het, toe ek destyds die rol van Nadia Croukamp in 7de Laan gekry het. Ek sien nou weer uit na die roetine van sepiewerk. Om te trou, nes te skop, stabiliteit te hê.”

Maar dis waar die ooreenkoms tussen haar en René ophou. “Kyk, ék gaan nie wegloop van daai kansel af nie! René is ’n bietjie onbestendig. Sy vryf sommige mense verkeerd op omdat sy so impulsief en emosioneel is en veroorsaak ’n paar misverstande. Dis uitdagend om so ’n kleurryke karakter te speel en ek geniet dit.” Syself is eerder ’n dromer en idealis.

“Die soort wat altyd vyftig ongeleesde boodskappe op haar foon het en gedurig laat is vir afsprake,” bieg sy, en trek haar mond op so ’n skuldige manier skeef.

So Simone
FOTO Marijke Willems

Dis een van die raakpunte tussen haar en Andries, en waarskynlik die eerste karaktertrek van hom waarop sy verlief geraak het. “Ons het in 2011 as studente ontmoet, en ek het die hele aand aan sy lippe gehang. Ek kon nie glo hier sit nóg so ’n dromer oorkant my nie. Ons het nie eens nommers geruil nie, maar terug op Stellenbosch het ek dadelik vir ’n vriendin vertel ek het my trouman ontmoet. Sy het maar net haar wenkbrou vir my gelig, maar daarna het ek almal teen hom begin opweeg. Twee jaar later het ons op Facebook vriende geraak en kort daarna begin uitgaan.”

Hulle het albei geweet hulle wil met mekaar trou, vertel sy, maar daar moes eers vier jaar se water in die see loop. “Ons kom albei uit gebroke huise en wou seker wees ons is emosioneel voorbereid op die huwelik, dat nie een ’n kruk vir die ander is nie. Ons het baie gepraat oor wat liefde is, hoe jy ’n verhouding laat werk, en uiteindelik in 2017 vir so ses maande opgebreek.

Dit was moeilik, ’n step of faith, maar ons het geweet ons het nog ’n bietjie tyd apart nodig voor ons kan trou; daar was dinge wat ons eers alleen wou deurworstel. In daardie tyd het ons geen kontak gehad nie, net die geloof dat dinge sal uitwerk soos dit moet.

“En toe loop ons mekaar op ’n dag toevallig op Stellenbosch raak. Dit was so ’n movie moment: Ek en ’n vriendin het gestaan en wag om oor die pad te stap, en ’n groot trok het verbygery. Toe die trok verby is, staan Andries oorkant die pad. Ek kon dit nie glo nie, ek was vir ’n dag in die dorp vir ’n praatjie en nie een van ons het geweet die ander is daar nie. Dit het gevoel asof twee hande ons na mekaar toe druk. Kort daarna was ons weer saam en ons verhouding sterker as ooit.”

Toe sy die rol in Stroomop kry, het haar werk en lewe weer “oorvleuel”. Fliekgangers ontmoet haar karakter, Vivian, wat in ’n erge depressie gedompel is ná die beëindiging van haar verhouding.

Simoné het op universiteit self met depressie geworstel, en het al baie praatjies oor depressie en verwerping gedoen – later ook as deel van die bemarkingsveldtog vir Stroomop.

So Simone
FOTO Marijke Willems

“Dit was ’n swaar tyd in my lewe. Hier is ek op universiteit in die koshuis, die enigste kind, en boonop ’n erge introvert. Dit was moeilik om aanhoudend om soveel mense te wees en daar was baie ou wonde van verwerping wat in daardie tyd oopgekrap is. Dit het gevoel asof alles om my in duie stort. Ek het boonop nie geweet wat met my aangaan nie en soos ’n buitestander gevoel tussen almal wat die lewe so geniet. Depressie laat jou terugsit, sonder hoop – jou lewe gebeur met jou sonder dat jy self deelneem.

“Dit het my lank gevat om daaruit los te breek en my geloof het my eindelik gered. My storie is natuurlik nie almal s’n nie en ek wil nooit vir mense voor-skryf nie, maar ek het gevind dit help om daaroor te praat, om ander vroue te herinner jy sal weer oukei wees.”

Dis iets wat haar altyd gaan bybly, sê sy, al is dit agter haar. “Ek het op ’n stadium ook moeg geraak daarvoor om die poster child vir depressie te wees. Dit voel soms soos iets wat jou definieer. En dit doen nie – ek, en almal wat daarmee sukkel, is soveel meer as daardie een tyd in ’n mens se lewe. Maar omdat ek ’n introspektiewe mens is, moes ek leer om my gedagtes aanhoudend uit te daag. As ek byvoor-beeld verwerp voel, vra ek myself af of dit die waarheid is, en of dit net ’n ou denkpatroon is. En ek fokus dan ook op die positiewe in my lewe. Dis moeite in die begin, maar dis soos ’n spier wat jy oefen en hoe meer jy jou gedagtes uitdaag, hoe makliker word dit.”

As sy nou terugkyk, kan sy haar byna nie meer indink hoe dit was om met depressie te sukkel nie, “dis regtig agter my”.

Andries is een van die mense wat haar uit haar “donker plek” kan kry wanneer dit moeilik gaan. “Sy persoonlikheid dwing my om uit daardie gat te klim. Hy bring iets baie moois in my uit, ’n ligte kant.”

Dit was egter ook maar ’n aanpassing omdat hulle op dié manier so verskil.

“Ek is eintlik só ’n introvert dat my keel soms by groot geleenthede toetrek en ek paniekbevange raak. Ek het selfvertroue, ja, maar baie mense put my ongelooflik uit. Andries is ’n ekstrovert en dan in sy element. Ons moes leer om mekaar se ritmes te verstaan. Hy moet my daar ondersteun, en ek kry hom soms weer om te rus en te herlaai deur alleen te wees.”

So Simone
FOTO Marijke Willems

Dié dat sy komediewerk so geniet, sê sy. “Omdat ek so ernstig kan raak, hunker ek nog altyd na komedie. Ek is mál oor my werk in die kykNET-reeks Hotel, waarvan ons in 2019 ook ’n vierde seisoen gaan opneem. Maar dan wil ek soms weer drama doen – daardie balans van die bitter en die soet in die lewe.”

Haar rol in die fliek Vir die voëls staan om dié rede vir haar uit as een van haar loopbaan-hoogtepunte. “Daardie film het mense só geraak. Ek het in 2018 die toekenning vir beste aktrise by die Tallgrass-filmfees in Wichita in die VSA gekry, en mense van oor die wêreld het my deur Facebook gekontak om te sê hoe baie hulle die film waardeer het.”

Dis egter nie waar haar talente eindig nie. Simoné skryf ook nou saam met die bekroonde filmmaker Danie Bester aan ’n film-draaiboek, én sy bied toneelspel-werksessies aan. “Die werksessies was eintlik om vir myself werk te skep toe dinge doodstil was net ná ek 7de Laan destyds verlaat het om vir drie maande sendingwerk in Mosambiek te gaan doen. Dis vir my so lekker om my toneelspel-vaardighede met mense te deel.”

Simoné vermoed sy het haar talente by haar ma, Tinkie, geërf. “Sy wou drama studeer, maar daar was nie geld nie. Sy sluit toe by die lugmag aan in die hoop om só ’n beurs te kry. Vroue kon in daardie jare egter nie soos mans dié voordele geniet nie en sy het haar drama-drome laat vaar. Ek dink sy stort haar hart en siel in alles wat sy doen, dus is ek nie verbaas dat sy steeds ambisieus was in dié loopbaan nie. Sy was vir 33 jaar in die lugmag en later ’n bevelvoerder wat in menslike hulpbronne gewerk het – hierdie petite vroutjie, nes ek, met haar Franse vlegsels. Maar ek glo sy het haar roeping gemis – sy is charismaties, eksentriek en eintlik ’n drama queen. En die wonderlikste mens in die wêreld; ons is baie na aan mekaar.”

Haar ma is haar grootste ondersteuner, en baie opgewonde oor haar dogter se nuwe rol. “Sy was eintlik só kwaad vir my toe ek haar die dag vertel ek loop by 7de Laan! As ouer is sy natuurlik nou bly oor my vaste werk.” En dit pas Simoné ook, al bly die groot, wilde drome om alles te los en die wêreld te gaan verander altyd in haar agterkop. “Maar vir nou wil ek eers afskaal. My doel vir die jaar is om die beste vrou moontlik vir Andries te wees en saam in ons liefde te groei – al klink dit nou hóé cheesy, ek sien so daarna uit!”

Dis die vreemdste ding, maar dit voel of my rolle altyd op een of ander manier parallel loop met my eie lewe - Simoné
Ek het op ’n stadium ook moeg geraak daarvoor om die poster child vir depressie te wees. Dit voel soms soos iets wat jou definieer. En dit doen nie . . . Simoné