Die Russiese skrywer Leo Tolstoy het eens ’n ware ding neergepen: “Everything comes in time to him who knows how to wait.” Die aktrise Simoné Pretorius het nog altyd geglo dat alles sal uitwerk soos dit moet – soos dit Sy wil is. Haar hele lewe én loopbaan is immers ’n getuienis, ’n getuigskrif, daarvan.

In SARIE se November/Desember-uitgawe gesels Simoné meer oor hoekom sy besluit het  om haarself meer uit te daag en te groei in nuwe hoedanighede.

“Ek sien so daarna uit om te skep en kreatief te wees. Voorheen het ek nie genoeg selfvertroue gehad nie, maar ná sewe jaar in die bedryf voel ek gereed. Ek het gehore beter leer verstaan, ek het baie meer insig in hoe dinge agter die skerms werk en wil my eie stem laat hoor. Toneelspel sal altyd my groot liefde wees, maar ek is so opgewonde om iets nuuts te probeer,” sê sy aan SARIE se Delia du Toit.

En vanjaar, te midde van die pandemie, is nog ’n droom bewaarheid: Ouerskap. Ja, Simoné is al 12 weke swanger met haar en Andries se eersteling.

“Ek het al ’n klein bietjie van ’n pensie,” skerts sy. “Só dit maak die swangerskap ’n werklikheid.”

FOTO Reece van der Merwe van Dis Reece

Aanvanklik het Simoné vermoed sy ly aan die chroniese siekte endometriose.

Die siekte word veroorsaak wanneer die weefsel wat die voering van die baarmoeder vorm (die endometruim) buite die baarmoeder groei – gewoonlik in die buik, eierstokke, Fallopius-buis en die ligamente wat die baarmoeder ondersteun. Dit kan ook siste op die eierstokke veroorsaak, wat die proses om swanger te raak kan vermoeilik.

Maar die paartjie het vertrou en gehoop dat alles sal uitwerk soos dit moes.

“Ons het ’n oortuiging gehad: Die Here sal vir ons kinders gee soos wat dit moet. Nog voordat ek kon gaan vir ’n laparoskopie (’n chirurgiese prosedure) het ons uitgevind ek is swanger.”

Andries lag: “Dit het net natuurlik gebeur. Ek het gedink ek sal net harder moet werk.”  

In hul harte wil hulle sommer baie kinders hê, verklap dié amper-pa. “Ek is nou windgat, kom ons kyk hoe dit gaan ná nommer een.  Dalk wil ons, op die meeste, vier kinders hê.”

FOTO Reece van der Merwe van Dis Reece

Andries sien uit om ’n betrokke hands-on-pa te wees. Sy eie pa, Soon Pretorius, is immers ’n goeie voorbeeld vir hom.

Gelukkig is beide Simoné en Andries se loopbane nou van so aard dat hulle van die huis af kan werk. Andries, ’n eiendomsontwikkelaar, het reeds ’n kantoor by die huis.

En die amper-ma is nou weer ’n vryskutaktrise en kan haar loopbaan rondom haar besikbaarheid beplan.

“Dis juis hoekom ek weg is by die kykNET-sepie Binnelanders. Ek wou vryskud en ander projekte aanpak.”

Toe M-Net aangekondig het dat hulle oudisies doen vir die nuwe telenovela-reeks Legacy, kon Simoné dit nie weerstaan om ook ’n oudisie af te gaan lê nie. Sy het goed gevaar en was teruggenooi om weer getoets te word. Die rol van Petra het op die ou einde aan die talentvolle en welverdiende Trix Viviers gegaan.

FOTO Reece van der Merwe van Dis Reece

 “Ek was opgewonde en het geweet dit gaan ’n goeie reeks van hoë kwaliteit wees. Natuurlik, was ek teleurgesteld toe ek nie die rol gekry het nie. Maar die lewe is soos seisoene, almal het ’n tyd. Dis vir my maklik om iemand anders se sukses te vier. Trix is briljant en sy verdien daai rol!”

Alles het goed uit gewerk ... soos dit moes. En kort daarna het Simoné swanger geraak.

Die Pretoriusse het nog baie hoop vir Suid-Afrika, hulle kies, om te midde van alles, stééds posifief te bly. Juis daaroor wil hulle graag hul kinders in hul geboorteland grootmaak.

“Dis ons kultuur, dis ons land. Dis vir ons belangrik om nie weg te hardloop nie. Maar eerder na ’n geleentheid toe te hardloop,” sê Simoné.

FOTO Reece van der Merwe van Dis Reece

- Simoné is SARIE se voorbladster vir November/Desember 2020-uitgawe (nóú te koop).