Sy is ’n bekroonde kinderboekskrywer, hy ’n bekende digter. Carina Diedericks-Hugo en Daniel Hugo het die soort verslawende liefde gehad waaroor mense boeke skryf en flieks maak. Tien jaar lank het die vuur hoog gebrand, maar verlede jaar het dit uitgewoed en nou is daar net bittersoet herinneringe oor. Hier vertel Carina van die grootste liefde en grootste hartseer van haar lewe.

"Een dag in Junie verlede jaar het ek net besef ek bly saam met ’n huismaat, ’n beste maatjie, dis lankal nie meer ’n huwelik nie. Ek het besluit ek kan nie so leef nie en het dieselfde aand vir my ’n kamer in ’n hotel op Stellenbosch bespreek. Daar het ek vir Daniel ’n lang brief geskryf en gesê dit werk nie meer nie.

"Maar nou, met die wysheid van terugskouing, besef ek ons probleme het lank voor dit begin. Vier jaar gelede om presies te wees – toe ons met vrugbaarheidsbehandeling begin het. Dít is waar dinge begin skeefloop het. Toe ons getrou het, het ek nie noodwendig gedink ons gaan kinders hê nie, want Daniel het ’n seun uit ’n vorige huwelik, en met die ouderdomsverskil tussen ons was kinders nie in my kop nie.

"In daardie stadium het ons in Observatory in Kaapstad gebly, tussen die berg en die geweerskote. Toe trek ons na ’n groot huis op Stellenbosch en dis toe dat ons besluit dit sal wonderlik wees om die huis met kinders te vul. Maar dit het nie gebeur nie, want ons het albei fertiliteitsprobleme gehad.

"... Vier jaar lank, van 2006 tot 2010, het ons alles onder die son probeer: diëte, klinieke, die duurste dokters, noem dit, ons het dit probeer. Vier jaar en duisende rande later kan jy nie help om iemand te wil kwalik neem nie. Jy raak baie bitter.Daai verlies is groot en ek dink ons kon nie werklik daar wees vir mekaar nie.

"... Vir my was dit net hierdie kosmiese grap dat ek, ’n kinderboekskrywer, nie self ’n kind kan kry nie. Ons onvermoë om kinders te hê het die illusie van ons groot romanse heeltemal laat verbreek en verbrokkel. Voorheen kon ons altyd oor alles praat; ons het nooit kwaad gaan slaap nie. Skielik het dit net te veel moeite geword om dit uit te praat. Daar was nie meer sprake van ’n fisieke verhouding nie. En so het ’n baie goeie verhouding stadig geërodeer."

Lees die volledige onderhoud in jou Junie 2012-uitgawe van SARIE