Min van ons is bewus van wat agter die skerms aangaan by ons gunsteling-televisieprogramme. Televisieskrywer en -vervaardiger Chris Nee is een van daardie mense agter die skerms wat TV laat gebeur - van kinderprogramme tot werklikheidsprogramme soos Deadliest Catch. Sy praat met SARIE.com oor haar passie en inspirasie vir haar werk, haar gesin én die lewe. Die Amerikaner Chris Nee het haar tande geslyp by kinderprogramme, maar sy skryf en vervaardig enigiets wat haar opgewonde maak, vertel sy telefonies uit Londen se Disney-kantore waar die perskonferensie gehou word vir  Doc McStuffins, die kinderprogram wat sy skryf en vervaardig. Dit is dié opgewondenheid vir haar werk wat sy as haar grootste geskenk vir haar gesin (haar lewensmaat en hul 6-jarige seun, Theo) beskou.

"Die grootste geskenk wat jy vir jouself, jou kinders en die mense rondom jou kan gee, is om passievol te wees oor wát jy doen."

Doc McStuffins het vinnig ’n gunsteling onder kinders geword. Dié animasiereeks gaan oor ’n 6-jarige meisie wat met haar speelgoed kommunikeer en hulle gesond maak in haar speel-speel-kliniek. Nie net leer dit kinders om nie bang te wees vir dokters nie, dit leer hulle ook hoe om na hulself en na ander om te sien.

Chris NeeHoe het jy met dié idee vorendag gekom?

My ma het ’n speelgoedwinkel gehad toe ek klein was. Daarom is speelgoed ernstige besigheid in my gesin. Toe die winkel net oopgemaak het, moes ek en my broer die speelgoed vir die klante verpak. Hier het ek geleer watter invloed speelgoed op mense se lewens het. Nadat my seun baie siek was en baie tyd in die dokter se spreekkamer deurgebring het toe hy klein was, het ek ’n manier gesoek om hom beter te laat voel. Ek het gedink speelgoed kan hiermee help.

Kinders is bang vir die dokter ... enigiets wat onbekend is, is vir kinders vreesaanjaend. Ek wou vir my seun en sommer alle kinders ’n vriendelike beeld skep en hulle bekend maak met die gereedskap en toetse wat die dokter gebruik. Hopelik maak dit die uitstappie dokter toe vir hulle ’n bietjie meer gemaklik.

Hoekom is die program so suksesvol?

Die tema is universeel - elke kind weet hoe dit voel om ’n "eina" te kry. Dit is ook die meeste kinders se grootste droom om met hul speelgoed te praat. Vir kinders is dit ’n lewensgroot probleem as hulle ’n skrapie kry of hulle kop stamp. Dié reeks gaan oor hierdie 'probleme' wat hulle elke dag ervaar én hoe hulle dit kan hanteer - iets wat hulle nie altyd weet nie.

Jy skryf en vervaardig uiteenlopende programme soos Doc McStuffins én werklikheidsprogramme soos Deadliest Catch. Waar lê jou belangstelling?

Ek hou daarvan om myself besig te hou met verskillende goed. Ek is baie gelukkig om in alle areas van televisie te werk, want ek het ’n passie daarvoor. Dit is opwindend om rond te beweeg en verskillende dele van my brein te gebruik.

Hoe was jou ervaring op Deadliest Catch, die werklikheidsprogram wat bemanningslede in die Beringsee volg tydens hulle krap-seisoen?

Ek waardeer krap-geregte nou meer, want ek weet waardeur hulle moet gaan om dit te vang! Dit was een van daardie ervaringe wat ek nooit sal vergeet nie - ek het op ’n eiland in die Beringsee gebly en die leefstyl is iets soos uit die ou Wilde Weste. Dit is omtrent iets om saam met dié skepe in byna 10 m-branders te gaan.

Ek was nooit werklik bang nie, omdat ek saam met ervare mense uitgegaan het. Daar het wel in die eerste 24 uur wat ek daar was 6 mense gesterf! Hulle grap nie met die naam van die program nie! In ’n era waar drama gewoonlik geskep word vir werklikheidstelevisie, doen dié program sy naam gestand.

Hoe balanseer jy jou werk én jou gesin?

Dit help dat my werk iets is waarin my seun belangstel, dus praat ek met hom daaroor en hy verstaan dat ek soms moet werk. Maar ek probeer baie hard werk om tuis te wees vir aandete. Ek sal dit haat om programme te skep wat vreugde vir miljoene kinders wêreldwyd bring, maar dat my eie kind nie die vreugde ervaar van albei ouers by die huis nie. Daarom werk ek baie hard deur die dag en doen soms nog werk ná ete, maar ek probeer seker maak dat ek by die huis is vir al die belangrike geleenthede in sy lewe.

Waaruit put jy jou inspirasie vir die lewe?

Die grootste geskenk wat jy vir jouself, jou kinders en die mense rondom jou kan gee, is om passievol te wees oor wat jy doen. En ek is gelukkig dat ek in die velde werk waar ek wíl werk en ek het ’n baie opwindende werk! Dan probeer ek ook elke faset van my lewe totaal uitleef en probeer om nie enigiets wat vir my belangrik is af te skeep nie.

Chris Nee