Hulle noem Nieu-Seeland dalk al die afgelope 10 jaar huis, maar in die kombuis kraai Suid-Afrika steeds koning.

“Ek is met ’n bobaas-kok én -bakker getroud. Hestrie kan enigiets maak,” spog die Afrikaanse sanger Jurie Els. “Ons word gereeld bederf met vetkoek en maalvleis, kerrie-en-rys, bobotie, beesstert, skaapboud en gebakte aartappels, malvapoeding, brandewyntert, souskluitjies, Peppermint Crisp-tert ... noem maar op, dit word gemaak!”

En nes enige Suid-Afrikaanse gesin braai die Else graag by hul huis in Orewa, ’n voorstad van Auckland. 

“Somer én winter! Ons kos is nog baie Suid-Afrikaans, as daar iets is wat ons gesin mis, maak ek dit self,” vertel Hestrie.

Tog is daar twee lekkernye uit Suid-Afrika waarna Jurie nog verlang.

“Snoek en korrelkonfyt, dit kry jy nie hier nie!”

Hestrie en Jurie Els is al vir 13 jaar getroud. FOTO Verskaf

Op sy dag was Jurie die goue seun van Afrikaanse musiek met 37 albums agter sy naam, onder meer ’n duet-album saam met Patricia Lewis. Kaartjies na sy konserte het soos soetkoek verkoop. "Hoe sê mens dankie?", "Liewe Pa" en "Honderd Bewonderd" was maar enkele van sy treffers.

Ver weg van die verhoog, musiek en mikrofone af, het die atleet Hestrie Cloete voor volgepakte stadions hoogspring-roem verwerf. Haar ongelooflike talent het haar tien goue en twee silwermedaljes besorg (laasgenoemde by die Olimpiese Spele in 2000 in Australië en vier jaar later by die Spele in Griekeland).

Die paartjie is in 2005 voor vriende en familie by Kievits Kroon buite Pretoria getroud. Nou is hulle die trotse ouers van twee kinders, Chrizette (11) en Jason (10).

’n Gelukkige gesin: Die Else. FOTO Reimerd Mostert

En watter talent vloei in dié twee se are?

“Chrizette speel ’n bietjie kitaar en albei sing nie sleg nie. Maar dis duidelik dat sport hul eerste liefde is en nie musiek nie,” bieg pa Jurie.

“Hulle is goeie swemmers en wen medaljes links en regs,” spog ma Hestrie.

Hestrie sit ure langs die swembad om Chrizette en Jason te motiveer, veral wanneer hulle deelneem.

Sy droom van hul dag by die Spele. “Ek kan nie meer wag nie! Of kom ons begin onder, New Zealand Nationals en dan die Statebondspele,” skerts sy.

“Hulle verskaf my soveel vreugde. My hele lewe draai om my man en my kinders.”

Chrizette (links) saam met haar beste vriendin, Mia. FOTO Reimerd Mostert

Die dag toe Jurie pa geword het, het hy geleer om ander eerste te stel. “Dis wat ouerskap aan jou doen. Ek dink eers aan my kinders en dan myself. Elke besluit wat ek neem, het ’n potensiële uitwerking op my gesin ...”

Die Else sal nie sommer na Suid-Afrika terugkeer nie.

“Ons is lief vir Nieu-Seeland. Ons geniet die vryheid wat dit ons bied. Ons kinders word nie gesien as Jurie en Hestrie se kinders nie, hulle het hul eie identiteit.”

Jurie meen hier is in elk geval soveel Suid-Afrikaners wat hul tuis laat voel. “Jy vergeet skoon dat jy nie meer in jou geboorteland is nie.”

Soos ’n vis in water. Jason is ’n talentvolle swemmer. FOTO Jurie Els

En sing Jurie nog?

“So nou en dan tree ek nog op waar ’n klomp Suid-Afrikaners bymekaar kom, soos by die jaarlikse Cairo to Cape Town-fees in Browns Bay [ook ’n voorstad van Auckland]. Dan sing ek "Hoe sê mens dankie?", "Vissies", "Sewe reënboë", "My bont jas" en "K-k-kyk na my!" en verlang so bietjie terug na al die goeie tye in Suid-Afrika. Toe ek van dorp tot dorp gery het en konsert gehou het in al die stadsale en teaters.”

Deesdae is Jurie ’n sakeman en besit Retro Records, een van die grootste privaat-platehandelaars in “Down Under”-land.

“As kind het ek langspeelplate begin versamel, ook soms plate vir sakgeld verkoop. Toe ons Nieu-Seeland toe verhuis het, het ek my reuse-versameling saamgebring. Hier is omtrent 3 000 pop- en rock-langspeelplate in ons motorhuis, almal netjies in alfabetiese volgorde geliasseer.”

Jurie en sy oudste, Chrizette FOTO Reimerd Mostert
Hestrie en klein Jason. FOTO Verskaf

Hestrie het vir ses jaar by die Kingsway-kleuterskool gewerk. So twee weke terug het sy met ’n nuwe loopbaan begin: as eiendomsbestuurder vir ’n firma.

“Dis ’n nuwe uitdaging wat ek sover geniet. Ek het ’n wonderlike baas en is seker die rol sal nóg Suid-Afrikaners oor my pad bring.”

Met albei wat die kollig geproe het, wat is hul raad aan hul kinders?

“Droom groot en werk vir wat jy in die lewe wil hê, niemand sal dit vir jou gee nie. Die Here moet altyd eerste wees in jou lewe en daarna kom die res,” sê Hestrie.

Jason met al sy medaljes. FOTO Jurie Els/ Facebook

En Jurie?

“Jaag jou drome en vang hulle, dit is moontlik. Moet jou nie steur aan mense se geskinder nie. Hulle soek altyd iets om oor te praat oor hul eie lewens leeg, vaal en vervelig is. Ek het met die jare geleer dat sekere mense leeus is en ander skape. ’n Leeu steur hom nie aan die opinies, die geskinder en die kritiek van die skape nie. Hy weet hy is ’n leeu! Gaan voluit en wees ’n wenner. Jy is ’n Koningskind, ’n leeu!”