Liewe Michelle en die hele SARIE-span,
 
Michelle, jy raak in jou redakteursbrief aan die idee van die leser se lewensreis saam met SARIE.
Dit was my ervaring met die deurblaai van die Augustusboek.
Nou moet ek bieg: elke voorblad-ervaring met julle bevat ook iets van daai reis.
Charis vra vrae. Ek moet soek en antwoord. En ja, sekere gordyne ooptrek, ander toe hou. (Die individu se reg om sy private binneste te beskerm?!?!)
Aankoms by die studio. Skoon geskrop tot agter die ore.
Fanie omvou my met sy verbeelding en fantasie. Die prentjies in sy kop dwarrel oral om ons rond.
Karen en Adelle help hul vergestalt met towerborsels en -kwaste.
Phyllis neem waar op vele vlakke en dan is daar Clinton wat met soveel geduld wag vir die oomblik wat ek nie net die "prentjie" probeer speel nie, maar wat my siel inskop, tuisvoel en hy dit kan vasvang soos dit by my oë uitglip.
Julle vang my elke keer.
Dankie. Dit voel al soos "by die huis"...
 
Liefdegroete,
Anna-Mart

FANIE SKRYF:

Vandag neem ons vir Anna-Mart af – en ek kan dit net beskryf as ’n voorreg. Vir my en baie ander 30-jariges is sy dié gesig van alle aktrises

Dis ’n heerlike Hoëveldse winteroggend: Koud en droog, maar tog lekker. Die resep vir die shoot bly dieselfde as vir ander voorbladsessies (soos jy seker al agtergekom het): Ons begin 08:00 met hare en grimering  . . . ens., ens., ens.

Anna-Mart is eerste by die studio (nadat sy ge-SMS het om te sê sy gaan dalk laat wees!). Vyf voor agt is sy daar. Dankie tog ek was self ’n bietjie vroeg. Verbeel jou ek het self eers agtuur opgedaag terwyl Anna-Mart op ’n winteroggend in haar kar voor dooiemansdeur moes wag.

Ek dink nie dit sou saak gemaak het nie. As jy vir Anna-Mart ken, weet jy sy’s die grande dame van aktrises, maar sonder die temperament.

Als verloop seepglad. Sy weet wat sy doen. Dis haar soveelste voorblad en my derde een met haar. Nog elke keer het sy anders gelyk, van ’n kort pixie-haarstyl tot uitgegroeide grys hare.

Vir die voorblad vandag is haar hare donker gekleur en lank, seker soos haar natuurlike kleur was. Sy maak grappies sonder om ontwrigtend of irriterend te wees, sy sê waarvan sy hou en waaroor sy nie seker is nie. En sy probeer als.

Die eerste foto word geneem. Ek kyk na haar deur fotograaf Clinton se kameralens. Die pers top lyk naar aan haar! Vinnig-vinnig word ’n klere- en hare-verandering gemaak.
Omdat ek en Anna-Mart vroeg was, het ek haar solank ’n paar rokke laat aanpas. Daar was ’n wit rok van geweefde sy wat een van my gunstelinge was. Selfs toe ek in die winkel klere gesoek het, het ek gedink dis beslis ’n opsie. Maar toe Anna-Mart daai wit rok aantrek, lyk sy soos ’n Amerikaanse voetbalspeler. Sy sal my nooit daarvoor vergewe nie! Die wit rok is dus uit.

Dankie tog die swart rokke werk perfek – die een ná die ander.

Teen die einde se kant sê sy iets soos: “Ek het soveel respek vir fotografiese modelle. Hulle weet wat hulle doen. Mense vergeet hoe moeilik dit is om ’n fotosessie te doen.”

Vir my wat agter die kamera staan, het dit gelyk of Anna-Mart deur die hele proses gevlieg het, sonder om ’n geluid te maak, of te laat blyk dat dit moeilik is.

Hoogs professioneel!