Huislike Soli Philander is almal se pêl en veel meer as die entoesiastiese manewales agter Liriekeraai. Hy’s ook Mr Fixit.

deur RONEL NEL
Foto’s e.tv, DEBRA ROETS

Dis ’n aardige geskarrel om ’n stil plekkie te kry, hande wat flap en mense wat uit alle oorde “Hallooo Solliii!” roep.
Hy is almal se vriend. Waai wild en groot, groet breed-vriendelik terug.
Dis Aardklop 2005 en ek kry mnr. Philander, al draaiend aan sy woeste vlegsels, agter die ouditorium vir koffie. Langs ons kwetter Nina Swart onverpoos voort in ’n ander onderhoud.
Soli en Nina val mekaar heen en weer in die rede.
“Nee, sy jok daar! Ek het gesien hoe bang was sy vir daai slang!” sê hy tussenin.
“Soli, wanneer het ek die grootste geskrik?” vra Nina.
Hy lag dat jy al sy tande, daai pragtige witte pêrels, te sien kry.
“Daai keer toe jy gedog het jy het ’n krokodil doodgery!” Hulle giggel soos twee stout kinders. Hulle ís twee stout kinders.
Ek en die ander joernalis kyk na mekaar. Dis duidelik ’n binnegrap, en ons het nie ’n clue nie.
Soli en Nina is albei hier vir die Afrikiti-produksie van die ATKV, wat tans die hele land vol toer om dié instansie se 75ste verjaardag te vier.
Rina Hugo, Hi-5 en Sibongile Mngoma neem ook deel. En dis duidelik dat hulle sakke vol pret het.
Ek het Soli Philander ’n hele 13 jaar gelede ontmoet. En hy lyk steeds nie ’n dag ouer nie.
Destyds was hy nog ’n stand-up comedian, en by dié spesifieke geleentheid was hy die seremoniemeester vir ’n wetenskapberaad by die destydse Stigting vir Navorsingsontwikkeling, vandag die Nasionale Wetenskapraad.
Gewapen slegs met ’n papier om al die doktore en professore voor te stel en sy vlymskerp sin vir humor het hy die vaal oompies (en ’n paar tannies) binne minute uit sy hand laat eet. Hy het groot en belangrike wetenskapuitdrukkings op hul kop gedraai en die somber spulletjie bietjie vir hulself laat lag.
Só het hy onder meer, voor ’n gróót toespraak oor supernovas en wormholes in die ruim, verklaar dat hyself eintlik ’n brown dwarf is – met al die kenmerke van dié hemelliggaam netjies uitgestip. Onder meer a failed star.
Dertien jaar later weet ons: Hy kon nie verder van die waarheid af gewees het nie. Sy ster skyn withelder, en hy het homself in die hart van alle Suid-Afrikaners gevestig as die ou wat liedjie-lirieke lewendig maak, en deesdae as die man wat dinge regmaak in sy program Let’s fix it op e.tv.
Voor die wetenskapberaad het ek hom ’n indrukwekkende een keer in Shakespeare se Comedy of Errors gesien, en toe al geweet hier kom ’n ding.

Ná twintig jaar in die bedryf is hy een van die bekendste gesigte op die landskap van die land se vermaaklikheidsarena Intussen het hy ook al internasionaal opgetree, onder meer in Engeland, Amerika, Swede en Nederland.
Hy is vir verskeie pryse benoem en het onder meer die louere ingeoes as beste akteur (’n Vita) en ’n Koratoekenning vir lewenslange bydrae tot die kunste.
Take Two, ’n satire uit sy pen waarin hy die geliefde karakter Rosie September ontwikkel het, is landwyd net goed ontvang. In die jare dat hy Liriekeraai aangebied het, het dié program homself as een van die gewildstes in Suid-Afrika gevestig.
’n Groot rede daarvoor was Soli se aansteeklike entoesiasme, sy flinker as-flink gevatheid en sy spontane manier met woorde. Hy dink op sy voete, dié man.
Daar is selfs diegene wat meen Liriekeraai se gewildheid het 100% met hom te doen.
Let’s fix it lê hom baie na aan die hart, dis duidelik. So ook die Afrikititoer.
“Albei gaan oor gee, gee en géé,” meen hy. Met hom is dit Kersfees regdeur die jaar. Soli verstaan armoede, het self brandarm grootgeword.
Hy en sy broer, Virgil, het by sy ouma gebly, in ’n klein sinkhuis met ’n kraan buite. Met ’n lekkende dak en een groot bed vir al drie van hulle.
Hy huldig sy ouma Annie voortdurend in onderhoude. Sy was eerder sy ma, sê hy. En sy ma meer soos ’n suster. Hulle mag sonder geld en materiële dinge grootgeword het, maar sy lewe was rýk.
Sy ouma is van Barrydale se wêreld, dié dat hy steeds voel asof sy wortels daar lê. En, sê hy, sy is steeds met hom. Die goeie gees wat oor hom waak.
Dit was die media vol toe die Philander-gesin verlede jaar ’n kapingsdrama in hul oprit oorleef het.
Soli was in Johannesburg vir werk, maar Toni (sy vrou) en hul kinders was almal voor die huis in Kaapstad toe die manne met die messe en rewolwers daar opdaag. Die rowers is vort met die motor, maar gelukkig het niemand seergekry nie.
En, sê hy, dié episode het hom net weer laat besef hoe lief hy sy familie het. Hoe nodig hulle mekaar het. Hoe belangrik dit is om tyd te maak vir jou gesin.
Op sy agent se webwerf word Soli se “aksente” as volg aangedui: Afrikaans, Kaaps, Kaapstads, Namakwalands en Stoere Boere-Afrikaans.
Vele tonge in een taal. En vele stories op een tong.
Hy bestel ’n toebroodjie met avokado, spek en mozzarella, kou lustig deur die vraag-en-antwoordsessie, onverstoorbaar.

Wat doen jy tans?
Ek praat mos met jou! (Stuitige laggie met ’n stukkie avokado op die lip.)
Nee, ek is besig met die e.tv-program en veral met Afrikiti. Die Afrikiti-ding is met een woord ongelooflik!
Ek het aanvanklik bietjie flack gekry van mense wat steeds dink die ATKV staan vir ouderwetse, wit Afrikaner-norme, maar slegs die feit dat hulle my gevra het om een van die aanbieders te wees wys mos dat hulle in hul kop reeds geskuif het.
Dis nié ’n politieke platform nie, dis eerder ’n celebration van Afrikaans – en ek is trots om deel daarvan te wees. Die ouens probeer hard om die persepsies te verander, en dis genoeg vir my. Aan die einde van elke show sing ons Nkosi sikelel’ iAfrika en dan sing almal saam. Almal.
Ek voel bevoorreg om so deur die land te trek. Dis veral die besoeke aan die platteland, die klein dorpies, wat besonders is. Ons gaan in die mense se huise in.
Die mense daar is ontsettend gasvry, en die natuur! (Hy sprei sy hande in ’n groot sirkel, probeer die impak van die lug inteken.) Asemrowend. Ek het nie geweet ons land is heeltemal só mooi nie!
Wat die lekkerste is, is dat ons al die kante van society beleef. Arm. Ryk. Wit, bruin … Dis moeilik om die swaarkry te sien, maar dis nodig, reken ek.
Almal is so oop, gewillig om jou in te neem.
Ek moes eintlik ’n videokamera gekoop het en die hele toer afgeneem het. Liriekeraai het miskien vir my geweldige deure oopgemaak, maar hierdie toer maak my oë, en my hart, oop. Maar, al het ek nie ’n kamera nie, al daai mense is in my kop. (Hy tik-tik so teen ’n vlegsel.) En in my binneste. (Tik-tik op sy hart.)
Die enigste af-kant is dat ek ontsettend besig is. My tyd is nie my eie nie, en ek mis my familie verskriklik.

Vertel meer van jou familie?
Wel, dis ek en Toni en die vier kids. Ek en Toni is nou al 26 jaar saam (ek probeer vinnig somme maak …) Ja, ek word 45 hierdie jaar! Vyftien jaar daarvan gekerk en vyf jaar daarvan wetlik.
Ons het vier kinders, die oudste is al in gr. 12! Hulle is Danya (17), Kyla (15), Caleb (11) en Ethan (9).
Hulle is my pride en joy. Hulle is sulke sensible kinders!

Waar kom hulle daaraan?
Ons het iets reg gedoen. Net nou die dag kom die enetjie na my, baie ernstig, en kom verklaar dat sy my werk goedkeur.
Dis nou nadat sy erg gewroeg het oor die ATKV-ding, veral nadat hulle op skool van apartheid en al die organisasies wat toe meegedoen het, geleer het. En sy het toe self na die show kom kyk net om seker te maak “ek verkoop nie uit nie”. Wat kan ’n man nou meer vra?

En jy en Toni?
Jong, daai jare was dit moeilik. Ek kom van Elsiesrivier en sy van Kempton Park.
Twee wêrelde ver uitmekaar. En dit was maar moeilik in die apartheidsjare, hoor. Haar pa was nogal suur in die begin, maar vandag is hy mal oor die hele gesin. Die kinders is in sy hart.
Ons bly in ’n ou huis in Rosebank in die Kaap. Daar is roetine, ons eet almal om een tafel en het respek vir mekaar se menings.

Dink jy jy is snaaks?
Jy’t obviously nog nooit my kniekoppe gesien nie, of jy sou nooit so iets gevra het nie!

Wat was jou groot break in die lewe?
Ek wag nog! Nee, ek sou sê toe Coenie de Villiers my eenkeer as “een van die ikone van Afrikaans” benoem het. Toe dog ek, haai. Lyk my ek het dit iewers tog gemaak, en ek het dit nie eens geweet nie!
Ek vereenselwig myself met gewone mense, en dís dalk wat die ding laat werk. My kinders hou my in elk geval plat op deeske aarde. PLAT, sê ek jou.

(Nina tjip weer in. “Wat is die lekkerste ding wat iemand al vir my gesê het, Soli?” Hy antwoord sonder om na te dink: “Jy is mos nou al Africana.” Sy knik, gaan aan met haar onderhoud. Hy onderbreek sy antwoord, dink aan dieselfde vraag …)

Die lekkerste ding wat iemand al vir my gesê het?
My kind se matriekjuffrou wat vir my gesê het sy wens sy was ek! En dit het net met die kind te doen, hoor. Dis ’n ongelooflike kind daai.
En natuurlik dan Liriekeraai. Ek kan nooit genoeg dankie sê nie. Daai program het die ding gesement. En Let’s fix it het die steentjies bo-op die sement gestapel.

Vertel meer van Let’s fix it?
Ons doen ’n spesiale episode vir Kersfees,  en anders as die gewone reeks, gaan daai episode ’n uur lank wees.
Dan gaan ons volgende jaar nog 26 episodes maak.
Dis ’n ongelooflik fantastiese gevoel om te dink ons help mense wat begin dink het niemand gee meer om nie. Ook om die vrygewigheid van die mense wat bydraes lewer te ervaar.
Ek verstout my nogal om te dink dalk help ons Suid-Afrikaners om ’n ogie oop te hou vir mekaar en om te praat namens dié wat te skaam of te moeg of te verslaan is om namens hulself te praat. En om te onthou die gawe van gee en die grasie van ontvang …
Die mense wat ontvang, kan gewoonlik nie lekker met die emosie deal nie. Dis te oorweldigend.
’n Hele paar het my al sommer opgetel en rondgedra, of rondomtalie geswaai. Of hartroerend begin huil, soveel so dat jy self ook tot trane beweeg word.
Of hulle begin sing. Dié dankbaarheid is een van die mooiste goed wat ek al gesien het.

Wat inspireer jou die meeste?
My kinders. Alle kinders, trouens. En die binneland, onse mense en onse plekke.

Wat is jou gunsteling-plek – waar hou jy vakansie of gaan herlaai jou batterye?

Vakansie? Wat is dít? Tuis. By die huis. By my familie. Dis die grootste vakansie wat ek kan kry.
Kersfees tuis … aai. Dis die lewe. Kersfees is absoluut familietyd. Ons bondel almal by die huis saam en bederf die kinders met te veel presente. Ons maak elke jaar ons eie Krismisboom met ’n ou tak wat ons êrens optel en versier dit met allerhande liggies en goedjies wat ons deur die jare bymekaargemaak het.
My vrou kook gewoonlik ’n hemelse Kersdagete. Dis vir ons belangrik om ook elke jaar seker te maak dat, benewens die gekommersialiseerde aspekte, die kinders die werklike boodskap van Kersfees verstaan.

Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
Behalwe my kinders? Want soos gesê, is ek intens, intens trots op hulle.
Wel, ook op my skryfwerk. Ek het vir die eerste keer in vier jaar ’n stuk geskryf – hotnotsgot is die titel.
En dit gaan oor verskeie mense. ’n Gangster, ’n ou tannie in Australië, ’n dobbelaar, ’n predikant wat die Onse Vader op ’n ander manier opsê … Ek is verskriklik trots daarop!
My lewe is vol. Ek is besig om die lekkerste midlife crisis te hê waarvoor ’n mens seker maar kan wens!

***
Die produksiebestuurder kom roep hom en Nina vir opwarming en klanktoetse.
Daar is twee Afrikiti-vertonings reg ná mekaar wat op hulle wag. Nina en Soli groet vrolik. Huppel weg. Dit vat hulle omtrent tien minute om die paar treë na die deur te stap soos hulle deur mense voorgekeer word.
Handtekeninge, geselsies, ’n paar grappies.
Liewe, lawwe mense. Hansie en Grietjie. Heidi en Peter. Soli en Nina.
Pretty en witty.

SOLI SE GUNSTELINGE
Kos: Snyboontjiebredie
Drank: Chai-tee
Kunstenaar: Die Skepper
Musiek: Manu Chao
Boek: The Power of Intention deur dr. Wayne W. Dyer
Akteur/ise: Spongebob Squarepants
Fliek: Once were Warriors
Plek: My huis
Mens: My vrou
Gesegde: “Maar die grootste hiervan is die liefde …”