Gert-Johan Coetzee is ewe gemaklik in die kombuis as in die wêreld van modelle, ontwerpe en glansryke modevertonings. Maar hy reken sy man, Vicky Visagie, is steeds die beste kok in hul huis. 

Tog het dít hom nie gekeer om aan 'n spesiale episode van BBC se kosrealiteitsreeks Come Dine With Me SA deel te neem nie. Die gewilde reeks, waarvan die vyfde seisoen op 11 Maart op BBC BRIT (DStv-kanaal 120) begin, wys hoe vier tuiskokke sake uitspook in die kombuis. Elkeen kry kans om die ander drie deelnemers na hul huis te nooi en dan vir hulle te kook en onthaal. Die deelnemers ken elke keer punte toe en die gasheer met die meeste punte op die ou end wen. 

"Dit was 'n ongelooflike ervaring. Maar ek gaan nie jok nie, dit was stresvol en daar was kwaai kompetisie," het hy aan SARIE.com verklap.

Die ander drie deelnemers is Generations-aktrise Candice Modiselle, die realiteitster Christall Kay van Real Housewives of Johannesburg en radio-omroeper en DJ Lucky du Plessis.

Bekendes het aan 'n spesiale episode van Come Dine With Me South Africa deelgeneem. Van links Candice Modiselle, Gert-Johan Coetzee, Christall Kay en DJ Lucky du Plessis.

Hulle was glo beïndruk met sy poeding, hoewel hy nie meer mag verklap nie.

"Wanneer ek en my man 'n ete hou, is ek gewoonlik verantwoordelik vir die poeding ... my sjokolademousse bly 'n treffer onder die gaste."

Hoewel hy 'n keto-leefstyl volg, is hy dol op sjampanje. "Sjampanje is my guilty pleasure! Jy kan enigiets reg toor met sjampanje." 

En wat sal jy altyd in sy yskas kry? "Amandelmelk, botter en enigiets groen vir 'n groen smoothie."

Hy meen 'n malvapoeding kan 'n goeie inspirasie vir 'n rooitapyt-rok wees. "Sou ek dit as inspirasie moet gebruik, sal ek veral fokus op die stroperigheid van die poeding. Die rok sal sensasioneel en goud wees," lag hy.

Sy wenke vir iemand wat gasheer moet speel?

- Moenie iets kook wat te kompleks is nie.

- Hou dinge eenvoudig en wees eerder by jou gaste.

- Sjampanje is noodsaaklik.

- Dek 'n mooi tafel en gebruik treffende dekor. "More is more, darling!"

* Come Dine With Me SA begin op Maandag 11 Maart om 20:00 op BBC BRIT (DStv-kanaal 120).