Dit gaan veral oor Mexico se Dag van die Dood-fees (mense onthou die dooies deur byvoorbeeld altare te bou met die oorledene se gunsteling-kos, foto's en memento's). Varenka (P.W Botha se kleindogter) het al vir Madiba kunslesse gegee. Hulle gesels met Henriëtte Loubser.

Hoekom dié boek?
Varenka
: Ons wou lankal 'n boek saam doen, maar oor 'n ander land as Holland of Suid-Afrika. Ons is Mexico toe vir inspirasie en het die Dag van die Dood-fees ervaar.

En die boek se boodskap?
Varenka:
Die dood is deel van die lewe en ons moet dit aanvaar en vier, eerder as om dit soos Westerse kulture te ontwyk.

Stef: Die fees vier dit dát mense hier was, al is hulle nie méér hier nie. Al is daar geraamtes in die boek, is daar ook lewenslus. Aan die einde van die dag is ons almal geraamtes met 'n bietjie vleis om, maar ook nie vir lank nie.

Varenska het dit goed reggekry om emosie en persoonlikheid uit te beeld. Dit het my gedwing om dieselfde essensie in my woorde te kry. Soms het ek 'n hele bladsy geskryf en dan besef een sin is eintlik genoeg.

Wie het eerste geskep?
Stef:
Die een het die ander heeltyd beïnvloed. In dié sin was dit salig om saam te werk. Jy vergeet van jou ego en fokus op die geheel.

Gaan die boek vertaal word?
Varenka:
Dit was oorspronklik in Hollands, nou in Afrikaans en dan in Spaans.

Wat is volgende?
Varenka: Ná Johannesburg vat ek my uitstalling (met soortgelyke temas as in die boek, maar in ander mediums) Holland toe.

Stef: 'n Projek vir die Nederlandse Uitsaaikorporasie. Ek skryf simfonieorkes-liedere vir twaalf persoonlikhede uit die Bybel. Ek bestudeer elkeen, want dit gaan oor die argetipe, eerder as die godsdienstige kommentaar. Petrus is byvoorbeeld 'n outjie wat die hemel bestorm, maar hy ken ook sy beperkings. Rut se liedjie is in Afrikaans: ''Jou land is my land en jou volk is my volk.'' Dit gaan ook as 'n boek-CD uitkom, met tekeninge deur Varenka.

Pendel julle tussen SA en België, soms saam en soms apart?
Varenka:
Daar's nie 'n spesifieke reël nie. Maar gaan hierdie oor ons of oor die boek? (Sy en Stef wil nie oor hul persoonlike lewe praat nie).

Stef: Ek verbaas my dat so baie mense in die musiekbedryf hul persoonlike lewens deel. Dis hier in Holland ook 'n siekte van die tyd. Mense dink seker alle kunstenaars vang k...k aan, maar daar's baie kunstenaars wat net wil kuns maak. Uit respek vir mekaar gesels ons nie oor ons persoonlike lewe nie. Dis vir my 'n bietjie ekshibisionisties en skaamteloos.

* Om Varenka se uitstalling te sien, skakel Artspace Warehouse by 011 880 8802.