Wie en wat is jy in Binneland? En in wie se slaai krap jy, of gaan jy die held wees?
Gustav Kemp, ‘n dokter met ‘n lang titel, wat in noodgevalle blitsvinnig besluite kan neem. Hy is nog 'n onbekende vir my. Ek het die karakterbeskrywing gelees en bestudeer, maar hoe die karakter gaan uitdraai, mag ek nog nie sê nie. Al wat ek kan verklap, is dat Gustav nie 'n man is wat hom nie gaan laat geld nie, en soos in die geval met elke dokter in Binneland wag daar véle verrassings op kykers.

Jy was destyds te sien in die rol van Werner Kranz in Egoli en toe later as Roelof in 7de Laan, nou's jy in Binneland. Wat is die lekkerste én die grootste uitdaging om in sepies te speel?
Die lekkerste is die uitdaging daarvan, aangesien dit soos 'n worsmasjien is. Daar is nie tyd vir ginnegaap nie, hoewel almal maar 'n tydjie maak vir 'n grappie of twee op stel. Die grootste uitdaging is dat daar nie baie tyd is om die teks te analiseer nie, terwyl jy steeds 'n stewige weergawe van die karakter moet gee.

Watter een van die sepiekarakters op jou kerfstok is jou gunsteling?
Elkeen het sy eie uitdagings, maar tot dusver geniet ek nogal vir Gustav, aangesien hy nog baie nuut is.

So 'n paar jaar gelede het jy die vrouetydskrif Cleo se Bachelor of the Year-toekenning in Suid-Afrika gewen ... Hoe lyk dinge nou op die liefdesfront?
Ek is maar nog steeds 'n bachelor, en die toekenning het my nou nie veel in die sak gebring nie. Die kar het gehelp, maar dit was nie die Batmobile nie ... Ek is nog altyd oop vir Kupido se pyltjies, maar hy moet net nie te lastig raak hierdie jaar nie. Ek wil graag van Gustav ‘n lekker karakter maak waarvan die kykers sommer met die intrapslag baie van sal hou.

Jou broer Hugo is nou een van die lede van die gewilde mansgroep Adam. Hoe gaan dit met jou band en jou musiekloopbaan?
Dit gaan baie goed. Die Engelse mark is 'n nuwe rigting, maar ek gaan my musiekloopbaan vir eers op ys plaas sodat ek my volle gewig agter die karakter van Gustav kan gooi en my tyd in Binneland deeglik kan benut.

Jy doen baie liefdadigheidswerk in SA en Namibië. Waarmee is jy tans besig?
Ek is betrokke by die Stefan Ludik Youth Fund, wat fokus op die jeug van Namibië, en dit verg maar al my aandag, geld en tyd op hierdie stadium.

Wat lê nog in 2012 vir Stefan Ludik voor?
Ek het besluit om dié jaar baie van my vrye tyd te gebruik vir die skryf van liedjies, asook optredes as ek in my besige Binneland-skedule 'n gaatjie kan vind. En om te oefen en gesond te wees. Volgens die Majas eindig die wêreld vanjaar, so ek gaan elke dag laat tel.