Hoe het jy deel van Shotgun Garfunkel geword?

Ek het Bryan van Niekerk op die stel van Safe House ontmoet. Hy het my een Vrydagmiddag skielik gebel en gevra of ek in sy nuwe fliek wil wees. Maar dié fliek sou die volgende dag verfilm word en daar was glad nie ’n draaiboek nie! Hy het verduidelik wie my karakter is en wat ek moet aantrek. In terme van die Guinness-regulasies mag ek nie vroeër meer geweet het nie. Aangesien ek al voorheen met Bryan gewerk het en ’n groot aanhanger is van die regisseur, Johnny Barbuzano, het ek die kans gevat. Ek het die volgende dag daar opgedaag.

Hoe het dit gevoel om te speel in ’n fliek wat so vinnig gemaak word?

Dit was chaoties én lekker. Ek wens partykeer ek het meer tyd gehad om vir my tonele voor te berei of om bietjie meer aan my karakter te werk, maar ons het net nie dié luuksheid gehad nie. Ons het die tonele hoogstens twee keer oorgeskiet en dan moes ons aanbeweeg. Aan die ander kant begin dit soos ’n klein familie voel as almal op die stel so 'n groot doel wil bereik, veral as daar nie regtig geldelike vergoeding is nie.

Wat was die lekkerste deel van die verfilming?

Om saam met Bryan, Asher [Mikkel Stoltz], Meren [Reddy], Tiffany [Barbuzano] en (natuurlik) Johnny te werk. As dit Amerika was, sou dié mense op Saturday Night Live gewees het  – dís hoe talentvol en snaaks hulle is! Hulle verdien soveel meer aandag as wat hulle kry. Ek weet nou nog nie hoekom hulle nie celebrities is nie. Ons vier die vreemdste mense in hierdie land, en dít maak my soms kwaad.

En die slegste deel?

Die spyseniering was aaklig!

Vertel ons bietjie meer oor jou karakter.

Ek speel Caylin – Rob (Bryan van Niekerk) se meisie (en dan eks-meisie). Sy is ’n wonderlike meisie wat nog baie verlief is op Rob, maar hy verbreek die verhouding wanneer hy ’n kwartlyf-krisis ['n vroeë middeljare-krisis, so teen om en by 30 jaar oud ...] het. Dan speel die fliek deur die loop van een nag af.

Hoekom hou jy van toneelspel?

Ek hou daarvan om stories te vertel en ek hou van kreatiewe mense.

Wat doen jy deesdae?

Ek is ’n prokureur by Webber Wentzel, maar – ironies genoeg – ek verfilm nou meer as toe ek nie ’n prokureur was nie. Modelwerk en advertensies hou my baie besig en ek is geseënd met ’n mentor en baas wat verstaan dat ek my passies moet uitleef. Hy laat toe dat ek my verpligtinge as aktrise nakom, maar verwag ook van my om my absolute bes in die regsveld te lewer.

Is jy ’n oggend- of ’n aandmens?

Ek is dag en nag dieselfde persoon. Mense en situasies bepaal my bui, nie waar die son trek nie.

Wat is jou oggendroetine?

Ek kyk dadelik na my e-posse wanneer ek wakker word, ek maak seker ek is op hoogte van my werk vir die dag, loer deur Twitter en begin dan met voorbereiding vir die dag. As ek ’n oudisie het, sal ek bietjie meer tyd aan my grimering spandeer, maar as dit ’n gewone dag is, gebruik ek gekleurde vogroom en ek is vinnig by die deur uit!

Hoe rus jy in vandag se stresvolle lewe?

Ek het uiteindelik opgehou om na die antwoord op dié vraag te soek. Ek het net besef dat ek al vandat ek vyf jaar oud was, gespanne is. Ek het nog altyd ’n klomp verpligtinge probeer uitbalanseer. Ongeag of dit nou skoolwerk en toneelspel, universiteit en toneelspel of die reg en toneel was. Ek ken nie ’n lewe sonder spanning nie. Om eerlik te wees, ek dink spanning is verslawend en kan met tye nuttig wees. Die vraag is eerder ‘wat is vir my lekker om te doen’. Ek is mal oor oefening. En ek hou elke dag meer daarvan om oor die markte op te lees.

Wat was tot dusver die hoogtepunt van jou jaar?

Om ’n wêreldrekord te breek, sonder twyfel! Nou is ek immers ’n wêreldrekordhouer!

Wie is die belangrikste mense in jou lewe?

My ma en my broer. Jy kan al die materiële goed in die wêreld besit, die beste in jou veld wees, maar uiteindelik gaan niemand jou naam oor ’n 1 000 jaar kan onthou nie. My familie beteken die wêreld vir my.

Hoe het jy vanjaar vrouedag gevier?

Ek het saam met my persoonlike afrigter, Steve Mululu, by sy konsep-gimnasium in Sunninghill geld ingesamel vir ’n liefdadigheidsorganisasie vir vroue. Ek het geoefen én geld ingesamel – dit was perfek!