Alles wat hy doen, doen hy met mening. Of dit nou sing of skryf is, omstrede uitsprake maak of toneel speel, soos hier, op die stel van die rolprent Platteland, waar Steve Hofmeyr die rol van 'n baddie vertolk.

Sy hemelblou oë raak vriesend koud. Hy wórd Mike Ferreira, die badste ou wat hy nog gespeel het, sê Steve terwyl ons deur die gras naby Verkykerskop in die Suidoos-Vrystaat stap.

Die karakter met die spits grys baardjie is ware skuim, vertel hy.Tog het hy 'n sagtheid wat 'n mens soms dwing om hom te vergewe.

Op die agtergrond weergalm grofgeskut deur die klowe. Dis 'n dramatiese dag op stel. Die fliek se romantiese held, gespeel deur Bok van Blerk, pak vandag Mike se trawante. Rolprentkenners meen dis Steve se beste rol nog.

Maar eers gaan ons hom op die verhoog sien saam met die Colombiaanse sangeres Marta Gómez in die Afri-Spaans-verhoogproduksie waarvan SARIE die hoofborg is. Dit word by die KKNK bekend gestel en toer daarna landwyd. Tussendeur is hy boonop besig om 'n nuwe boek te voltooi.

Of, natuurlik, om vurige kommentaar te ontlok, soos onlangs weer toe hy getwiet het hy het sy kaartjies vir die konsert van die Ierse popgroep U2 in die Jukskeirivier gegooi omdat hy nie saamgestem het met die hoofsanger, Bono, se uitspraak oor die aanvaarbaarheid van struggleliedere nie. Daar was mense wat hom ondersteun het, maar ander het gedink hy het te skerp gereageer. (Hy het later gesê hy't nie rêrig die kaartjies in die rivier gegooi nie.)

Die stof het nog nie gaan lê nie, toe onthul hy op Facebook hy en Janine van der Vyver - met wie hy jare lank 'n verhouding gehad het, ook toe hy nog met Natasha Sutherland getroud was - is weer bymekaar.

Ná 'n herrie destyds omdat Steve na Janine as "popster-afleiding" in die media verwys het, het sy hom gedagvaar vir kontrakbreuk en skadevergoeding weens beweerde beloftes wat hy aan haar gemaak het. Sy het ook 'n boek geskryf oor hul verhouding, maar dis nog nie gepubliseer nie. Soveel dae, soveel dinge so is dit met Steve . . .

***

Teen 'n verweerde blou skuurdeur waar hy vir SARIE se kamera poseer, verdwyn Mike en word hy weer Steve, die sanger met die charismatiese persoonlikheid wat so graag op sy soapbox klim oor alles en wat nog.

Hy flankeer met die kamera. In sy kuiltjie speel 'n duiweltjie rond. Jy het onlangs jou verhouding van twee jaar met die blonde prokureur Suné Meyer verbreek.

Wat het gebeur?
Ek is oud genoeg om te sien watter molshopies berge gaan word. Ek het besluit om reguit met haar te wees. Dit was ongemaklik en seer vir almal. Dit was die beste verhouding waarin ek nog was. Sy is goud werd.

Is Janine die rede hiervoor?
Beslis nie.

Hoe het dit gekom dat jy en Janine weer saam is?
Aan een van die vele tafels waar ons buite die hof probeer arbitreer, het ons beledigings sommer opgedroog. Ons lyste van skade is ewe lank en al wie ryk gaan word, is die prokureurs.

Jy het mos al gesê jy was baie lief vir haar?
Ek het. Ek het verlief geraak op twee vroue [Janine en Natasha] en albei verloor weens my eie domheid. Ek het die kans om een terug te kry. Ek wil dit nie mors nie.

Het julle mekaar vergewe vir alles wat gesê is?Ja. Ons kan nie sonder hierdie vergifnis voortgaan nie. Ons het nog een keer per dag 'n ligte armdruksessie oor wie wat destyds gesê het, maar ons kan dit wegglimlag.

Het jy so 'n groot herrie oor die U2-konsertkaartjies verwag?
Nie regtig nie. Soveel aandag, ook internasionaal, vir my veldtog teen moorde op wit boere kan nie onderskat word nie. Ek moet Bono bedank.

Jy het al op radio gesê jy besef jy moet soms tot tien tel?
Ek sukkel daarmee.Maar daar is 'n oneindige hoeveelheid maniere waarop jou woorde geïnterpreteer kan word en ek probeer hulle almal gelyk oorweeg. Ek slaag nooit.

Hoekom dinkmense jy is politiek regs?
Omdat hulle definisies oudmodies is. Ek weet nie of mense meer regs of links is nie. Van my kwessies is byvoorbeeld regs en ander weer links. Ek verkies die terme liberaal en behoudend. Albei het juwele om by te dra tot enige gesprek.

Vertel van jou boek, Die verste uur, waarmee jy besig is?
Dit gaan oor 'n jong man wat die kans kry om in tyd te reis en toe beland hy midde-in die Anglo Boereoorlog. As gevolg van iets wat hy toe nié doen nie, wen die Boere die oorlog. Ek moes die geskiedenis bietjie herskryf. Dis spekulasie, maar baie bevrydend. Dit is eintlik 'n liefdesverhaal oor tydgrense. [Die boek verskyn in Julie.]

Jy het goeie reaksie gekry op jou eerste novelle, Vier briewe vir Jan Ellis. Het die skryfgogga nou behoorlik gebyt?
Ja. Dis nie iets wat ek najaag nie (ek het 'n werk!), maar die koeël is deur die kerk.

Daar is mense wat dink jy kan net so goed in die letterkunde vaar as op die verhoog?
Nie die letterkundiges nie. Vir hulle is ek 'n jack-of-all-trades en 'n rugbyliedjieskrywer! Maar ek het 'n leeftyd van kreatiwiteit om hulle verkeerd te bewys.

Jy is eersdaags ook te sien in Afri-Spaans. Hoe voel dit om "Pampoen" in Spaans te hoor?
Nogal vreemd. Wens ek kon dit verstaan, want ek is taamlik heilig oor die woorde en prentjies in "Pampoen". Moet sê, ek het nie gedink dit sou maklik wees om enigsins te vertaal nie, omdat die Afrikaner-metafore baie eie is aan ons. Maar daar is altyd nuwe maniere om die boodskap van musiek oor te dra. Dis die wonderlike voorreg van kunstenaar wees - hierdie kruisbestuiwing van onwaarskynlike denke en idees.

Hoekom het jy ingestem om deel te neem?
Ons kunstenaars stagneer. Hierdie sal die sappies weer laat bloei.

Wat dink jy van die Colombiaanse sangeres Marta Gómez wat saam met jou optree?
Sy is fenomenaal. Sy moet wees, want ons verstaan nie die taal nie. Sy moet die storie demonstreer in haar vertolking.

Jy kan soms nogal snaaks wees in jou vertonings.
Ironies kan ek nie 'n goeie grap vertel nie, maar ek kan mense vir 'n halfuur laat lag met komiese sketse wat ware verhale verteenwoordig. Ek vloek ook minder as Casper!

Hoe sou jy jou humorsin beskryf?
Selfkritiserend, droog, vinnig . . . en afwesig op lughawens.

Jy lyk soms baie ernstig?
Ek is meer ernstig as ligsinnig.Maar daar kruip 'n duiweltjie weg in die kuiltjie van my wang.

Vind jy dit ook maklik om vir jouself te lag?
As niemand kyk nie, skaterlag ek vir myself. Dis ook pal silly-seisoen in die Hofmeyrs se lewens.

Jou seun, Armand, se sangloopbaan kom nou mooi op dreef.

Ek is baie trots op hom. Ná ses maande is dit taamlik duidelik dat hy en Suid-Afrika reg is vir mekaar. Hy het 'n psalmboek vol wysies in sy kop. Maar van die verhoog af sien ek hom as deel van die breindood-generasie. Was ons ook so?

Het jy van kleins af gesien hy het talent?

Nee. Ek het hom ook nie geglo toe hy my verwittig het van sy planne nie. Ek is neuroties oor kansvatters en het hom ook geen hulp aangebied nie. Hy het daardie hele CD sonder my voltooi en my rêrig op my neus laat kyk. Toe sê ek vir hom: Pak jou tas, kom ons kyk of jy kan toer.

As hy foute maak?
Sekere foute bespreek ons slegs onder vier oë (vals note en vroue, onder meer). Vir die res skel ek hom sommer net daar uit. Hy moet dit maar leer verwerk. En hy doen. Ek is nie 'n vreeslike touch-feely soort pa nie.

Skinderpublikasies teiken hom klaar?
Ek sien dit kom. Maar hy het binne enkele weke geleer dat jy nie privaat is in die geselskap van enigiemand met 'n selfoon of 'n ouma nie. Dit is verstommend hoe graag mense interaksie van enige aard met ons met iemand anders móét deel.

Het julle 'n goeie verhouding?
'n Gesonde verhouding. Onthou, ek ken hom nou eers 'n paar jaar. Dit bly vir hom dalk minder vreemd as vir my.

Het julle nou meer gesamentlike belange?
Toe hy jonger was, het ons net 'n bloedtoets gedeel.

Sê mense hy sou nie goed gevaar het as hy nie jou seun was nie?
Mense het gesê ek sou nie goed gevaar het as dit nie vir Agter elke man was nie . . . Dis moontlik waar. Maar die kenmerk van 'n ster is nie die deurbraak nie, eerder die duur en gehalte van sy loopbaan.

Hoe gaan dit met jou ander kinders?
Charissa het klaar studeer en haar grafiese kursus goed geslaag. Devon is 'n sportuitblinker by Affies en Sebastian en Benjamin is nog bra jonk. Ek praat eintlik so min moontlik oor hulle.
Hoe is jou verhouding met Natasha?
Kil. Dog trots op ons outjies. Ons het 'n redelike verhouding onderhewig aan swaar skeihof-uitsprake. Ons sal hierna nie weer vriende kan wees nie, maar ek is nie bang om aanhoudend in te gee as ek weet dat dit die lot van my seuns positief raak nie.

Wat nou van Janine se boek?
Ek sal dit graag onder oë wil kry, maar soos die redes vir die hofsaak sal alles skielik vreeslik oud klink. Die doemprofete oor ons verhouding is daar, maar my eerste reaksie is om onder meer nie vir Suné in 'n swak lig te stel nie. Ook om seker te wees Natasha is gemaklik hiermee. Maar sy is 'n engel. Almal weet reeds hoe geestelik sy hierdie dinge verwerk. Haar prioriteit is weer eens dat die seuns oor die weg kom met wie ook al in my lewe is. En minder as voorheen wil ek hierdie saak met die publiek en media deel. Nodeloos om te sê, die detail sal jou verstom, maar dit bly ons s'n. My lewe raak soms selfs te fiksioneel vir 'n fliek!