Daar was die afgelope twee jaar min dinge waaroor Steve Hofmeyr vrolik kon voel. Maar vandag sit hy opgewonde soos ’n kind agter sy rekenaar en lees stukke voor uit sy eerste fiksiewerk, Vier briewe vir Jan Ellis.

Hy lag hartlik en lyk stukke beter as toe ons laas gesels het, net nadat hy en Natasha die laaste keer voor hul egskeiding met die kinders gaan vakansie hou het by Pennington in KwaZulu-Natal.“Ja, ek het toe al geweet dinge gaan nie reg uitdraai nie,”sê Steve.

Die seer is skielik terug, maar vandag praat ons oor een van die dinge wat hom hoop gee vir die toekoms. Hy het twee jaar lank niks geskryf nie en was gespanne.“Toe gaan kuier ek en my vriendin, Suné Meyer, in Praag, Boedapest en Wenen.”Hy het in elke koffiewinkel gaan sit waar beroemde skrywers al die muse in koppies koffie gesoek het. “Gelaai met inspirasie het ek binne weke ná ons terugkoms 25 nuwe liedjies én die boek oor Jan Ellis geskryf,”sê Steve.

Nuwe Liedjies

Minstens 15 van die liedjies gaan verskyn op sy nuwe CD, Duisend en een, wat op 3 Mei vrygestel word.

 

Die ou Steve, wat vurig opgewonde kon raak oor skrywers soos Franz Kafka, is terug. Filosoof Steve.

Die seer het sy inspirasie tydelik opgedroog.“Ek het nie romanties gevoel nie.Nie sexy nie. Ek was emosioneel dood. Dan skryf jy nie ’n woord nie.Die nuwe vlaag skryfwerk het my heel gemaak, my selfvertroue weer opgebou. Een van die enigste goeie eienskappe van pyn is dat jy nie ander s’n kan verwoord as jy dit nie self ervaar het nie.”

Daar is baie seer in die kort verhaal van ’n seun genaamd George Jan Ellis Kok, wat na sy held, die oud-Springbok Jan Ellis, genoem is. Binne sowat 120 bladsye en met meestal een-sillabige woorde vertel Steve nie net oor Jan se tragiese lewe nie, maar laat hy ook ’n stuk van ons geskiedenis, van die 1970’s tot nou, ontvou. Die boek begin by George Jan Ellis Kok se kinderjare en eindig veertig jaar later as hy uit die tronk vrygelaat word met terminale tuberkulose.

“Jan is ’n Weskus-kind van Diazville naby Jacobsbaai en ’n mens kan nie sy storie met groot woorde vertel nie,“ sê Steve. “Ek het myself in dieselfde plek geplaas. Klein Steve wat op Hennenman in die Vrystaat in arm omstandighede met sy Dinky Toykarretjie onder ’n perskeboom sit en speel.’n Groot storie met klein woorde.”

Hy het een oggend wakker geword met die idee vir die boek – hy het die raamwerk gedroom!

Daar ís outobiografiese elemente; iets van sy eie worsteling met die noodlot wat hom gereeld aan die hakke byt.“Ek stoei ook met die onderbreking van kommunikasie. Ek het ook in my outobiografie, Mense van my asem, daaraan geraak. Jy kan saam met iemand bly of langs hulle,maar jul seine kom net nie by mekaar uit nie.”

’n Paar jaar al soek hy na regverdiging vir hierdie dinge. In boeke en voor God het hy dit probeer uitwerk, maar hy’t nie antwoorde gekry nie. “Daarom bly ek die filosoof wat aanhoudend vrae vra en dalk nie eens omgee of hy die antwoorde kry nie.Ek het hulle ook nie in dié boek gekry nie.”

Hy glo die noodlot vang jou onkant.

“Dis eintlik my pessimisme wat my help om aan te hou. Ek word wakker en beskryf vir myself die goorste dag moontlik, en dit gebeur byna nooit.”

 

Die boek het nie ’n opvoedkundige boodskap nie, dink hy,maar wys iets van hoe alleen ons soms op die aarde is. Elke hoofstuk het ’n opvolgblad met iets wat verwys na die voorafgaande hoofstuk. So is daar ’n resep vir Jan Ellis-poeding, en ’n uittreksel uit ’n regeringsdokument wat lyfstraf in tronke goedkeur, laat die leser besef Jan is geslaan in die tronk. Daar’s ook nostalgie, soos die verwysing na die kinderkoortjie “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels . . .”

Ek dink die boodskap is dat daar nie formules vir die lewe is nie.Want hier kom ’n outjie en in sy onskuld val sy hele lewe uitmekaar,”vertel Steve.

Hy het die legendariese Jan Ellis laat weet van die boek en probeer hom betrek.“Tot dusver het hy nog nie die boek gelees nie.Hy was my held en my pa het sy handtekening vir my gebring toe ek klein was. Ek was mal oor die rooikop-held wat die bal met een hand kon vat en laat waai.”Jan was ook humeurig op die veld, nes hyself soms kan wees, beken Steve.

Dit klink dalk maklik om ’n boek van net 120 bladsye te skryf. “Maar ’n mens moet vinnig tot die punt kom en suinig wees met woorde,” sê Steve. “Ek het op Twitter geleer hoe om kort, kragtige, boeiende stellings

te maak. Ek is ook ’n groot liefhebber van vonkfiksie – ’n verhaal wat in 60 woorde vertel word.”

Die boek se woordeskat is uit Jacobsbaai se omgewing, waar Steve saam met die sakevrou Amanda Singleton ’n hotel het. Hy luister al lank na die Weskus se bruin gemeenskap. “Ons kou die taal soos bokkom daar,“ sê hy.

Poësie sonder groot woorde

“My boek is na aan poësie,maar sonder die groot woorde. Ek sê dikwels Jan Ellis is ’n driehonderd-bladsy-boek waarvan ek tweehonderd bladsye se stilte uitgesny het.”

Steve het reeds ’n bypassende toneelstuk geskryf en dit word by die volgende Aardklop Kunstefees opgevoer. Ook ’n draaiboek – dit word dalk ’n fliek of ’n TV-reeks. Dit maak hom egter verbouereerd om nou die boek te lees, want hy weet hy sal dit nie weer so kan skryf nie: “Dis soos daardie inspirasie-oomblik as jy ’n goeie liedjie skryf.”

Traumas soos sy egskeiding, die media-storm oor sy buiteegtelike verhoudings en sy siekte (’n geperforeerde dikdermwat hom by die dood laat omdraai het) het hom laat groei, maar ook meer sinies gemaak. Hy voel hy is buitensporig gestraf vir sy oortredings.“Mense het my teleurgestel. Ek het darem een brief ontvang van ’n vrou wat sê: ‘Steve, ek is net ’n tannie van die platteland, maar ek wil net vir jou sê ek is baie jammer vir wat ons aan jou gedoen het.’

“Dit was twee tienjaar-verhoudings, en ek het seergekry. Maar ek dink nie mense stel daarin belang nie,”sê hy met verwysing na sy huwelik met Natasha en sy verhouding met die fiksheidsinstruktreur Janine van der Vyver. Suné en sy twee seuns, Sebastian en Benjamin, is gelukkig mal oor mekaar. Suné en Natasha kom ook baie goed oor die weg.

“Die seuns is opgewonde om na my huis te kom en kuier nou baie meer gereeld hier. Suné is ’n goeie gelykmaker.Ons het ’n vriendskap. Nie een van ons was op soek na ’n ernstige verhouding nie,maar ons is al meer as ’n jaar romanties betrokke. Sy kom ook uit ’n verhouding waarin sy seergekry het. Ons kliek. Ek sê altyd vir haar: Jy maak my lig, dis hoekom jy hier is. Sy is die beste terapie wat die Here vir my kon gestuur het. Sy wil nie afgeshow word nie, sy wil nie uitgaan nie en sy wil nie in die media verskyn of onderhoude doen nie.”

Steve het vroeg in Maart eers finaal ingestem tot die skei-ooreenkoms. Hy en Natasha praat elke dag,maar hulle gaan nie vriende wees nie, sê hy. Hy erken hulle weet nie aldag hoe om die ding te hanteer nie,maar hulle weet as hulle voor die kinders breek, sal die kinders skade kry.“Ons het nog nie een lelike of harde woord van mekaar gesê voor die kinders nie.Maar dit vat nie die vrae weg nie. Benjamin is maar net ses en vra my gereeld: ‘This divorce thing, can’t you do something about it, daddy?’Ek kan debatte oor baie dinge voer,maar hoe antwoord ek my kind?”

Van al die teëspoed is sy karakter nou so sterk ’n mens sal hom met ’n stootskraper moet omstoot, lag hy. “Ek was depressief en raak steeds depressief.Weens ons kultuur word ons ouens wat sondes het swaarder gestraf as diegene wat misdade pleeg. Mense vergeef moeilik.” Sy loopbaan het darem nie skade gely nie: “My bewonderaars staan by my.”

Hy het onlangs nog ’n operasie ondergaan, wat tot bespiegelinge gelei het dat hy weer siek is. Maar hy gee die versekering dit was net ’n breukoperasie wat, nes die trombose in sy been ’n jaar gelede, die gevolg was van die groot dikderm-operasie.

Hy verloor nie uit die oog dat hy die afgelope jare ’n paar keer met sy eie sterflikheid gekonfronteer is nie. “Ek het nie meer ’n vrees vir die dood nie, maar ek het ’n fanatiese neurose om dinge dié kant reg te maak vir my kinders. Maar ek gaan nie in vrees lewe nie – ek ervaar elke klein detail van die lewe intenser.

“Somers is mooier, winters kouer en die reën is harder.”