As ek aan Steve Hofmeyr dink, dan dink ek onwillekeurig aan daardie radioprogram van Leon Schuster in die tagtigerjare. Vrypostige mikrofoon. Sowat twintig jaar ná Leon se program is ek ’n beoordelaar vir die ATKV se jaarlikse Veertjieprys in die TV-kategorieë. In 2002. ’n Nuweling-aanbieder verstom ons. Hy maak skoonskip as die beste onderhoudvoerder, aanbieder en ondersoekende televisie-persona.

Dit was Steve Hofmeyr vir sy rol as fasiliteerder en aanbieder in Dis hoe dit is met Steve op kykNET. “Vol selfvertroue. Uitstekende navorsing. Lok onverwagse, ongeoefende reaksies uit enige ateljeegas,” was van die opmerkings van die beoordelaars. Want Steve en ’n mikrofoon en vrypostigheid is sinoniem, onlosmaakbaar verweef. Soms is die pen sy mikrofoon. Soms die koerante. Soms die TV-kamera. Maar meer dikwels die mikrofoon sélf. Steve is oral.

Op Loftus as die Blou Bulle se persoonlike ambassadeur. Op Kerkplein om teen die naamsverandering van Pretoria te veg. Op TV as jongeling-akteur in die aangrypende Agter elke man in die laat tagtigs. By die Suid-Afrikaanse musiektoekenningsaand in 2004 as die wenner in die kategorie Beste Suid-Afrikaanse Verkoper van die Jaar - tot die skok en heimlike verbasing van almal in die gehoor. Die platereus EMI het net breed geglimlag oor dié Sama.

Op die webwerf van Human & Rousseau (wat sy debuutdigbundel Valkuns in 1997 gepubliseer het) laat weet hy: “Ek verag die verspreiding van dwelmmiddels onder kinders. Ek verag enige vorm van kinder- of dieremishandeling. Ek eer alle vorme van menseregte en haat die verdrukking van gay mense, vroue, diere en minderheidsgroepe.

My sleutelwoorde tot ’n beter lewe en globale begrip is: Objektiwiteit, konteks, verdraagsaamheid, bewustheid, lees. En kaasburgers.”  En deesdae het hy een van die gewildste blogblaaie in die land. Een waarop almal kan gaan kla, lof betuig, verlang, bewonder... Of net wonder. Dit is so half ’n kollektiewe Afrikaanse bewussyn. Waar daar oor enigiets van die doodstraf tot tatoeëermerke en Jacob Zuma tot Deon Maas geskinder, gesels, opgesweep en bespiegel word. En Steve skryf elke aand self die voorblad. Só, sê hy, kry hy sy kritici terug, en kan hy homself in verband in sy eie woorde uitdruk. Probeer nou met só ’n mondvol-man ’n onderhoud kry. Dis haas onmoontlik.

Het jy geweet?

  • Steve het ’n internasionale treffer gehad met “Vroeger bracht je bloemen” (die Vlaamse weergawe van “You don’t bring me flowers”). Dit het tot nommer twee in België gevorder.
  • Hy’t ’n vlieglisensie.
  • Een van die hoogtepunte in sy lewe was sy ontmoeting oor ’n koppie tee met die Afrikaanse digter Elisabeth Eybers in Amsterdam. Die ander was toe hy teenoor Joan Collins in die Sun City Superbowl opgetree het.
  • Hy het al saam met Celine Dion ’n liedjie opgeneem.
 

Voor ’n opname van die nuwe Dis hoe dit is met Steve-reeks by Emperor’s Palace in Kempton Park sluip ek en fotograaf Phyllis Green in die gange rond op soek na die besige man vir ’n foto. Dalk ’n paar woorde ook. Op die verhoog staan Theuns Jordaan en Anton L’Amour en oefen vir die regstreekse opname wat sowat vier uur later sal begin.

Agter in die vleuels hang swem-ster Ryk Neethling, sanger Bobby van Jaarsveld en ’n stillerige ou - netnou se gaste - rond. (Die “stillerige ou”, blyk dit later, is Jascha Richter, die leier van die supergroep Michael Learns to Rock wat in Suid-Afrika op sy solo-toer is.)  “Ja, Jascha is ’n stillerige man. Maar as hy eers sy mond oopmaak en síng, sjeeee ...,” skryf Steve op sy spoegblok.  Daar kan jy letterlik elke dag gaan lees wat in die man se kop en lewe aangaan. Hy skryf dit self - en Suid-Afrikaners slurp dit op! Hy het ook onlangs geposeer vir Clinton Lubbe se 2007-kalender, Behind the Lens with Nataniël and friends, juis ten bate van die Anti-Animal Cruelty League. Hierdie keer gepas as ’n cowboy.

Voel jy soms ’n bietjie soos “ons land se cowboy”?

Dat my lewe soms regeer word deur ’n klomp koeie, ja, dikwels. Anders is ons Afrikane (en Afrikaners veral), maar inderwese cowboys. Ons omarm die beskawing met moeite en selfs stadsjapies voel beter as die Bosveldstof aan hulle begin klou. “Ou ryperd” is deesdae ’n 4x4 en die crooks is oorweldigend meer in getalle.

Vertel ’n bietjie meer van die kalender?

Ek het ingestem omdat die minagting van diereregte een van my vroeëre provokasies was en ek as student verskriklik ernstig was daaroor. Ek het alles oor dierebevryding gelees en amper by die Oxford Centre for Animal Ethics ingeskryf.

Ek hoor jou blog is tans een van die gewildstes in SA. Hoekom? Watter soort reaksie kry jy op jou blog?
Ja, 4,2 miljoen trefslae in vier maande is lywig. Ek dink ons is nog in ons baba-fase en ek het groot planne daarmee. Ek wil die verkeer gebruik om vir onbekende kunstenaars ’n  gehoor te kry, veral die 2 000 demo-CD’s wat hier by my huis lê. Dis net skrikwekkend (en) lekker om soveel Afrikaanses op die aardbol op een kuberhoekie bymekaar te kry en sommer net te gesels soos om ’n koffietafel. Ek misbruik ook die blog om die media terug te kry en hoef nie meer te wag dat koerante my briewe plaas nie! Maar slaap is nou iets van die verlede ...

Gunstelinge

KOS: Braai, pizza, sushi, Weskus-skulpvis
DRANK: B&C. Altyd. Bier en koffie. Chronies
BOEK: The Fountainhead van Ayn Rand
AKTEURS: Nick Nolte, Bette Midler
FLIEK: Saving Private Ryan, The Matrix
MUSIEK: Rock, opera, country
PLEK: Bosveld, Weskus, tuis, New York!
GESEGDE: Min van myne kom sonder gekruide taal
REUK: Botter in ’n pan

Watter soort uitsprake maak jy daar en waaroor voel jy baie sterk? Ek weet jy stel belang in politiek en het lekker baie te sê oor ouens soos Deon Maas ...
Die Afrikaanse reaksie op die doodstraf en aborsie was insiggewend. Hul teleurstelling in die regering steek hulle (ek ook) moeilik weg. Dis totale snert dat Afrikaners nie kwessies deurdink nie, en daarop is ek trots. Ons leierlose dekade het ons lesers gemaak, en dis goed. En ja, Deon is nie ons grootste held nie en een van die bloggers het reeds ’n fonds begin om die regskoste te dek vir enigiemand wat hom foeter. Blogruimte is nie-demokraties, dit wil sê ons sê en plaas wat ons wil, nie wat die meerderheidskonsensus sou wou hoor nie. Ek is in elk geval ook ’n patetiese redakteur. My joernaliste is ... die wêreld!

Jy het ook kommentaar gelewer na aanleiding van Patricia Lewis se Supersterre?
Ja, ek wys heeldag jong wannabes die deur omdat hulle redes vir inskryf “bekendheid” is eerder as “bekendheid vir iets”.

Daardie toets is nie net van toepassing op die kinders van ander mense nie, maar ook op myne. Veral myne mag nie dink dat die aalmoese soeter is omdat hul pappie ’n sanger is nie. Verder, as ek ’n passie bespeur by enige van my kinders, het hulle my 100% agter hulle. Armand (sy 16-jarige seun) wys dit reeds deur ernstig te raak oor klanktegnologie en sangopleiding.

Jy voel baie sterk oor die naamsverandering van dorpe. Hoekom?

Ek’s nie so erg gekant teen naamsverandering nie. Net teen die redes en agendas daaragter. Ek dink ook dis lafhartig om historiese bakens en argitektuur te wil skuif of verander as daardie monumente opgerig is in ’n tyd toe jou volk, kultuur of nasie ’n politieke onbenulligheid was. Die tyd het aangebreek om ook te kan erken wat jou voorvaders nié bygedra het nie. Ons Afrikaners bieg en bely al meer as ’n dekade oor ons voorvaders. Ek daag Pallo Jordan (minister van kuns en kultuur), Fikile Mbalula (president van die ANC-jeugliga) en Maphetle Maphetle (Potchefstroom se burgemeester) uit om dieselfde te doen.

Wat dink jy van die “Leeuloop”? En van Robbie Wessels? En die status van Afrikaanse musiek?
Ek like, ek like meer, ek like meeste. Nee, wat, ons is heel oukei. Hoewel ek dink ons stagneer al vir drie jaar op die idioom-bandwagon, is dit irrelevant as die publiek nie so dink nie. Want Afrikaans kook as gevolg van sy luisteraars en ondersteuners. Ek is vreeslik trots as die jong Afrikaanses (wit en swart) ons stories gaan begin vertel, want die nasionale geskiedenis-sillabus vee haar af aan (generaal Koos) de la Rey en die Anglo-Boereoorlog.

Wie is jou gunsteling Afrikaanse sanger?
Dis bietjie onregverdig. Gert Vlok Nel se digkuns vang my byvoorbeeld meer as sy liedjies. Gé Korsten sing my steeds stil. En ek is vreeslik trots op my kollegas Theuns, Juanita, Kurt en die hele generasie wat hulle inspireer. ’n Tekort aan talent het ons nie.

Vertel bietjie meer van die rolprent A Case of Murder van die vervaardiger Clive Morris, wat in 2003 uitgereik is.
As jy weet hoe ernstig ek toneelwerk opneem, sal jy weet hoekom ek so lanklaas sepies gedoen het. Die onlangse musicals soos Sound of Music was weer lekker. (En daar kom nog baie in 2007 - watch this space!) Maar in A Case of Murder verkeer ek as akteur in die geestesgate waar ander mense te bang is om te kyk. Ek dink dis my beste werk as akteur, maar wees gewaarsku, dis ’n grusame fliek. (Dit handel oor die Nortjé-broers wat in 1995 ’n Nederlandse bejaarde in Suid-Afrika doodgemaak het vir sy pensioen-inkomste, sy lyk in ’n tas gestop en dit van ’n trein afgegooi het. Steve speel kaalkop die rol van Janu, die wreder broer.)

Sien jy jouself eerstens as ’n akteur of ’n sanger?
’n Skeppende kunstenaar. ’n Liedjieskrywer.

Waar kom jou kinderalbum vandaan?
Baie families stop my op straat en dwing my om te luister na hul kinders wat “Blou Bul” en “Pampoen” sing. Ek het besef ’n mens moenie kinders onderskat nie. Die kritiek op die album was dat ek sogenaamde “volwasse” songs opgesit het, maar dis juis daardie kindertjies wat dit so goed onthou.

Sal jy ooit Blou Bul-horings na ’n rugbywedstryd dra?
Hei, ek hét ’n stel wat iemand vir my gegee het, maar het dit wel nog nie na die rugbyveld gedra nie. Vir my gaan Afrikanerskap oor die omhelsing van die hele spektrum - ek kan net ná ’n wedstryd op Loftus Versveld ’n Marthinus Versveld-filosofie-tesis lees - sonder om ’n oog te knip. Die common-versus-elitistiese-debat skeel my min. Dit pla my hoegenaamd nie.

Jy is lief vir filosofie - het jy ’n filosoof wat jy aanhang?
Ek het so deur die jare ietsie by almal kon steel. Immanuel Kant (se morele imperatiewe het my mal gehad), Karl Popper (se wiskunde en verifiëring- en verdraagsaamheidsparadokse) en Bertrand Russell (se algemene kennis en paradokse is so belangrik), maar Friederich Nietzsche (al die metalheads hou van sy anti-teorie en skeptisisme), Ludwig Wittgenstein (die einde van filosofie en die begin van semantiek) en dan een van my dink-konings, Spinoza (seker maar oor sy geestelike notas so relevant geword het in my ander filosofiese stokperdjie, teologie). Maar Nietzsche is die een wat ek meeste lees en meeste oor frons. Maar daar’s beslis lewe na die groot F(ilosofie). ’n Mens soek ná filosofie ’n oorkoepelende teorie en ek het al wonderlikes teëgekom. Ek dink tog dit kan en moet jou eie wees.

Met die publikasie van jou digbundel het mense hul monde vreeslik uitgespoel. Wat dink jy van ons letterkundige kritici?
Inteendeel, behalwe Joan Hambidge was die Fanie Oliviers baie tegemoetkomend. Kon selfs ’n paar praatjies daaroor doen voor semantiese reuse soos Breyten (Breytenbach) en BA-taalstudente. Vandag weet ek beter en verstaan selfs baie van Joan se resensie destyds. Veral die clichés en onnodige omhaal van woorde.

Wat ís dit wat jou so jaag?
Soms dink ek die duiwel self. Ek word gejaag deur my eie neurose, dat verwagtinge reeds hoog is en deur my eie drang na uitdrukking en kreatiwiteit. Dis ’n vreemde kombinasie, maar maak ’n lekker potjie vol inspirasie. As ’n mens te veel biografieë lees, pla die verganklikheid van tyd jou vreeslik. Dit maak jou ook lief vir ou mense en kinders.

Is alles wat jy doen in die openbare domein? Of is daar die een stukkie wat heeltemal wegskram?
Dis die illusie wat ek skep. Dat dit voel of alles in die openbare oog gestalte kry. Maar ek normaliseer slegs buite daardie domein. Waar die hekke agter my toemaak, waar ek sukkel om daai bulb te vervang, die bedrading van die grassnyer en die laatnag strompel oor my hektaar met ’n rewolwer om seker te maak hoekom blaf die honde nou weer.

Hoe sal jy onthou wil word?
As Jack of all trades en meester van geen. As anti-popster, anti-politikus, anti-denker sonder om vreeslik rebels te wees. As redelik. As entoesiasties. As geduldig (rêrig, as ek jou gemoer het, kom dit al ’n lang pad en jy verdien dit!) en as iemand wat eers op 40 werklik begin het!

***

Wel, ek hét toe gaan loer na Steve se Spoeg Blok. Die man dink baie, doen baie, sê baie en deel baie klappe uit. Maar klaarblyklik doen hy iets wat die volk se hart raak. “Wat van Steve vir president?,” het ek grappig gaan vra. Ek wag nou om die antwoorde te sien, maar sal nie verbaas wees as die kwaai cowboy, sanger, TV-persoonlikheid, skrywer, digter, politikus en gesinsman wél in daardie lig deur sy bewonderaars gesien word nie. Want op sy blog word die stem van die gewone mens ook gehoor: Oor Steve se eie vrypostige mikrofoon.