Die kunstenaar Dawid Greeff (gespeel deur Stian Bam) is weer terug in die SABC2-sepie 7de Laan. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor sy vrou, die karakter Dawid en wat hy doen in sy vrye tyd.

Hoe voel dit om terug te wees in 7de Laan?
Die wonderlike ding van 7de Laan is dat jy nie anders kan as om welkom daar te voel nie. Dis die derde keer dat ek nou terug is en ek voel nou soos 'n deel van die bloedlyn. Hetsy generies of aangetroud. Ek is baie lief vir almal daar en dit voel soms of ek nooit weg was nie. Dis seker soos dit hoort by 'n familie. Ek dink Dawid Greeff was seker so sewe maande weg voordat hy weer nodig was. So Stian Bam en 'n ene Dawid Greeff is ewe dankbaar om weer terug te wees.

Jy is onlangs getroud. Waar het julle getrou en wat doen jou vrou?
Ja, ek en Truda het op 28 Maart vanjaar voor familie, vriende, 'n wonderlike plattelandse dienaar in diens van sielkunde en die gemeente van Christus, 'n plaaskoor, 'n paar wit geverfde garingbome, ganse, hoenders en oumas en oupas lank nie meer met ons nie, wat skuil op boomtoppe en agter struike, in die huwelik getree. Truda is 'n juweliersontwerper. Sy en haar vennoot is eienaars van Lady Peculiar, 'n klein onderneming in Stellenbosch en spesialiseer in handgemaakte silwer juwele. Gaan kyk gerus by www.ladypeculiar.co.za.

Is dit lekker om getroud te wees?
Ons sien mekaar net twee naweke 'n maand, wat nogal moeilik raak met tye, maar ons het vooraf geweet dit gaan so wees en hanteer dit maar op ons manier. Gelukkig is dit net 'n tydelike reëling. Die enigste voordeel is dalk dat ons, as ons wou, kon glo ons is twee minnaars in 'n tyd sonder tegnologie . . . waar briewe ons enigste kommunikasie is en ons vier dae 'n maand, die kosbaarste tyd op aarde raak, waar elke oomblik saam die tye weg van mekaar draaglik maak, oomblikke waarna ons terug kan keer as mis, verlange word, mekaar se beelde vasbrand onder ons ooglede sodat ons net ons oë kan toemaak en mekaar sien. Maar dis net as ons sou wou . . .. Hoekom het ons besluit om te trou? Wel, dit was tyd vir die nagmaal.

Wat laat die verhouding werk?
Ons ken mekaar al tien jaar lank. Ek weet glad nie hoekom ons verhouding werk nie. Miskien is dit die onuitwisbare liefde vir mekaar. Miskien die ontsaglike groot respek vir mekaar. Of dalk is dit die feit dat voor daar ooit 'n gees oor die donker gewelf gesweef het ons bedoel was vir mekaar. Of dalk het iemand iewers een van my ribbes verwyder en dit Truda genoem, wie weet, dit werk. En ek is dankbaar.

Hoekom is dit lekker om die rol van Dawid Greeff te vertolk?
Dis lekker om iemand te vertolk met soveel fasette. Iemand wat ver verwyderd is van jou eie karakter. Dawid is gewetenloos, hy doen wat hy wil. Maar hy is steeds iemand wat foute maak en daarvoor moet betaal. Die interessante ding van hom is die manier hoe hy met situasies omgaan. En dan is hy natuurlik ook 'n kunstenaar, wat op 'n manier sekere van sy gedragspatrone regverdig. Ek dink Danie Odendaal en die skrywers het 'n wonderlike karakter geskep en ek is baie dankbaar dat ek dit voor die kamera kan uitleef.

Hou jy jou met enige ander projekte besig?
Daar is nie tyd vir enige ander toneelspeel-projekte nie. Ek lees, doen allerlei werk met my hande, tuinwerk, werk aan 'n RSG-jeugvervolgverhaal, hou van fliek, dink allerlei idees uit vir my vrou as ons saam kuier . . .