Die vrou met die virtuose stem het nie altyd net glorie geken nie. Maar Gloria Bosman laat haar nie deur teëspoed en die verlede onderkry nie.

deur Sonia Cabano
foto Phyllis Green

Sy’s ’n studie in kontraste, hierdie jong vrou. Engelse naam, Afrikaanse van, maar gebore en getoë in Pimville, Soweto. Doodluiters, maar diep in haar dop gekruip. Sy’s sfinksagtig tydens ons onderhoud, maar kan stomende shows gooi voor groot skares. Haar platemaatskappy, Sheer Sound, se webwerf beskryf haar as iemand wat die klassieke treffers soos “Smoke gets in your  eyes” en “Summertime” selfs beter as die oorspronklike kunstenaars vertolk. Groot lof vir ’n meisie wat van kleintyd in die stofstrate van Soweto rondgedraf het.

Daar was verhoog-optredes saam met die pop-ikon Arno Carstens, en in Maart vanjaar, vertonings in die Oude Libertas Teater in tussenInbetween saam met die Afrikaanse  sangeres Lise Beekman. Gloria het reeds vier albums agter haar naam, die laaste boonop self gefinansier. Nature Dances, hierdie intens persoonlike skepping, sê sy, verwys na “die siklus vanaf bevrugting tot die geboorte van ’n baba, die dans van die natuur wat in die stilte van die baarmoeder plaasvind, en die dans wat ons almal voer met die liefde”. Sy kry groot aftrek by Afrikaanse gehore by Aardklop en Skouspel, is ’n KKNK-veteraan, en maak hierdie jaar weer so. Haar eerste video, Amaqwati, is benoem vir ’n Channel O-prys, en sy self as beste Suid-Afrikaanse kunstenaar vir die All African Kora-toekennings. Verder was daar haar bydrae tot die album Al daai jazz, met ligte jazz-verwerkings van bekende Afrikaanse liedjies. Só oorbrug sy verskeie wêrelde, vir seker. Maar waar lê haar anker? Gloria Bosman is ’n virtuose sangeres wat gehore sedert 1993 in vervoering het met haar meesleurende verhoogoptredes, maar langs my in die Michelangelo Hotel se sitkamer fluister sy skaars hoorbare antwoorde op my rits vrae.

“Ek is pynlik skaam,” skerm sy met haar gesig half weggedraai. “Ek haat dit om oor myself te praat.” Sy’s ’n Skerpioen, gebore 31 Oktober 1973, waarsku sy, maar daar’s geen angel aan haar nie. Ek skuif instinktief verder weg om haar meer ruimte te gee, en sy deins terselfdertyd ook terug. Fyn besnaard, Gloria, fyn, fyn. Sy sit geplant in haar stoel in die skemerte van die vertrek, hande om die armleunings gevou. Is sy rustig, of gereed om op te spring en weg te hol? Met elke vraag pols haar hande effe, asof sy krag uit die stoel wil pomp. Haar uitdrukking is onpeilbaar en bly verander. Kantel haar kop dié kant toe, kom sy onwrikbaar voor. Kantel haar kop anderkant toe, hang daar ’n vae weemoedigheid om haar. Sy is soms broos en tegemoetkomend, soms ongenaakbaar. Strak, selfs. Maar daar is ’n onmiskenbare kinderlike weerloosheid aan haar, verskans agter die onblusbare innerlike krag van ’n taai vrou wat haar plek in ’n meedoënlose bedryf op haar eie voorwaardes betree. Sy dans met haar eie natuur, as vrou, as kind, altyd in wording… Wanneer sy uiteindelik ontspan en ’n klein glimlaggie haar gesig versag, is dit soos ’n blom wat voor jou oë oopvou. Sy’s ’n suster wat vir haarself sorg, dié ene. Sy’s ook die toegewyde enkelma van die 13-jarige Boi Karabelo, haar hart se punt. Sy handhaaf ’n prekêre balans as professionele kunstenaar wat hart en siel gee in uitputtende laatnag-vertonings en steeds getrou soggens vyfuur opstaan om haar dogter te versorg en gereed vir skool te kry. Sy is ’n leerling aan die private skool St. Andrews, Edenvale. “My lewe draai om daai kind,” sê sy. “Sy’s die enigste rede waarom ek opstaan in die oggend. Sy anker my, sy help my om my ewewig te behou. Ek sal alles ontbeer vir haar onthalwe, sodat sy die opvoeding kry wat sy verdien.”

Wat is die goorste deel van jou lewe?
Geld! Die konstante bekommernis daaroor. Om ná ’n vertoning jou tjek te gaan haal net om te hoor dis nie daar nie … Ek het ’n passie vir die regte, en het besluit om my te bekwaam as prokureur in handels- en vermaaklikheidsreg. Ek dink dit het tyd geword vir my om uit te gaan en ’n paar sitvlakke te skop! Kunstenaars
het iemand nodig wat namens hulle kan praat, want die bedryf vreet hulle op en sluk hulle heelhuids in. Vroeër
in my loopbaan was ek al by sulke swak gereëlde okkasies betrokke dat ek gevoel het ek wil vir die promotor sê: “Ek wil jou mooi vra om my telefoonnommer te verloor, want ek weet nie wat ek hier soek  nie. Moet my nie weer nooi nie.” Dis ’n groot probleem in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf – swak reëlings.
(Vir die eerste keer sien ek die angelpunt. Daar’s wrewel in haar stem en haar amandelvormige oë vernou effe.)

Wanneer het jy ontdek jy besit ’n wonderlike stem?
(Sy lag gedemp.) Ek het nooit juis gedink dis so wat wonders nie. Kleintyd was ek soos baie ander in ons gemeenskap betrokkeby die kerkkoor, en was heeltemal uit die veld geslaan toe ek in 1993 deur Nedbank en die destydse Permanente Bouvereniging ’n beurs aangebied is om aan die Pretoria Technikon opera te gaan studeer. Van toe af tree ek professioneel op. Krap my eie potjie. Mense uit my buurt het half vermakerig gesê: “Sooo, Gloria, ons hoor jy’s nou ’n sangeres.” Dan antwoord ek maar net: “Ja, ek veronderstel ek is nou, nè?”


Ek is een van vyf kinders, die enigste dogter tussen vier broers. My ma, Ivy, was ’n huisvrou, en my pa, George, was by die Soweto-stadsraad werksaam. Ons was ’n baie hegte gesin, ons lewe het rondom die huis en familie gewentel. Ek was kwaai teruggetrokke as kind, ’n regte klein huishen wat nie maklik vriende gemaak het nie. Gelukkig het ek baie verdedigers  gehad in my broers! Tot vandag toe wens ek ek het die vermoë gehad om makliker uit te reik na mense; dalk is ek net te lui in daardie opsig. My oudste broer het in sy jeug ’n rebelse streep gehad en was verbonde aan Nusas (National Union of South African Students), wat ’n ligte opskuddinkie in ons familie veroorsaak het. Dalk het dit my laat besluit om so voorbeeldig moontlik te wees, ’n kind wat almal tevrede wou stel en só hul goedkeuring kon wen. Derhalwe was dit ’n groot verleentheid om in my matriekjaar swanger te raak. Die pa het glad nie belang gestel nie, en ek het dit so aanvaar. Gedurende my
swangerskap – ek het bly skoolgaan tot Karabelo se geboorte – was ek heeltemal in ontkenning van die situasie, verleë dat ek so iets kon aanvang en my ouers teleurstel. Maar toe Karabelo eers daar was, het ek myself vasgevat en besluit:  Hier is dit nou, ek gaan die beste van my lewe maak. Ek kla nie, al gaan dit ook hoe swaar.
My familie dink: “Aaag, Gloria, sy’s so glamorous, sy shop en hang uit in klubs.“ Min wetende wat die waarheid is, want ek verklap niks wanneer daar probleme  opduik nie. Dis vir my van die uiterste belang om
te bewys: Ek kán dit op my eie doen. En suksesvol ook. En ek sorg dat ek só lewe dat ek nooit as te nimmer óf my beroep óf my enkelmoederskap in ’n swak lig stel nie. Dis my lot, my keuse, my trots. Mý lewe.

Wat spoor jou aan? Jy het so ’n veeleisende lewe?

Ek is obsessief en ’n perfeksionis, baie hard op myself. Ek kompeteer voortdurend teen myself, vra myself af: Hoe kan ek verbeter? Waar moet ek groei? So kan jy jou eie grootste vyand word, want die druk kom van binne. Ek het ’n voortdurende angstigheid wat aan my  knaag: Kan ek vinniger beweeg, kan ek meer doen? Waarnatoe volgende? Dis miskien die “skerpioen” in my. (Mmm, dink ek. Die angel steek binnetoe.)  Ek wens ek kan meer easy-going wees. Buitestanders dink dis suiwer geluk om ’n stem te hê, ’n seën van Bo, maar daardie talent beteken niks sonder rigting en dissipline nie. Ek het grootgeword saam met mense wat oor dieselfde talent beskik het, en nou afgunstig is op my. Hulle het uitgesak weens hul ongewilligheid om te gee wat die bedryf van jou verg. In daardie opsig reken ek realiteitsprogramme soos Popstars en Pop Idols is misleidend. Dit skep die indruk dat daar so iets bestaan soos kitssukses en roem op aanvraag. En mens, daar is nie! Dit hou nie. Baie wil sing, maar min kán.

Wie is jou staatmakers? Hoe lyk die Gloria-wenspan?
(Sy penmy vas met haar oë.) Ek. Ek bestuur my loopbaan op eie hout jie, behartig my eie besprekings, boekhouding, reklame. Ek sorg dat mense weet waar om my in die hande te kry. Op Nature Dances is sewe van die tien liedjies oorspronklik, waarvan ek drie self gekomponeer het. My mede-vervaardiger en mede-komponis,
Wessel van Rensburg, het my gehelp om diep in myself te delf om die essensiële Gloria-klank te gaan haal. En
ek het uit eie sak betaal om die album te vervaardig! Ek’s gelukkig by Sheer Sound – ek kry die ruimte om my eie klank te vind en te ontwikkel. Die plaaslike media en platemaatskappye is geneig om gehore te wil plesier, en hul gewig te gooi agter formules wat reeds elders, soos oorsee, gewild is. Om ’n suksesvolle en oorspronlike kunstenaar in Suid-Afrika te wees kos bloedsweet. Dit raak uitputtend, hoor. Wat sou ek nie wou gee om sorgeloos deur die  lewe te dobber nie! Te gaan waar ek wil, wanneer ek wil. Te rook soveel ek wil, glase en  glase whiskey te drink, laat te jol en rinkink. (Ek sug om haar onthalwe.)

Wanneer is jy op jou gelukkigste?

Was ek al ooit gelukkig? (Haar gesig vertrek in ’n gepynigde plooi.) Geluk beteken verskillende goed vir verskillende mense. Ek is permanent disnis moeg, soms voel ek asof die lewe net by my verbygaan. Maar, ja, ek het ’n oomblikkie gehad gister toe ek en Karabelo saam putt-putt gespeel het. Tyd saam met my kind maak my gelukkig, en ek probeer regtig baie hard om nooit my frustrasies op haar uit te haal nie. En tog gebeur dit. Maar ek maak seker ek vra altyd om verskoning, sodat sy kan sien ek weet wanneer ek verkeerd opgetree het. Ek’s dit aan haar verskuldig om die beste ma te wees wat ek kan. Ek verduidelik dan dat dit nooit haar fout is nie, net Mamma wat moeg en bekommerd is. Sy is baie tegemoetkomend teenoor my. Geluk? Om genoeg geld te hê! Om inkopies te kan doen sonder om bekommerd te wees oor die begroting, Karabelo se skoolgeld. Ek’s mal oor winkels, oor skoene, handsakke…ek gaar op, maar ek bly dra dieselfde ou klere. Dis moeilik om uitrustings te kry wat my vlei, want ek het nogal gewig opgetel die laaste tyd. Eet, drink, ai, die lekkerte daarvan!

Hoe hanteer jy teleurstelling, en hoe lyk die grotes?
Swak, jong! Dis frustrerend, byvoorbeeld, wanneer die tegniese ondersteuning by ’n vertoning jou in die steek laat, want dit skep ’n swak indruk. Wanneer jou stem nie doen wat jy weet dit in staat is om te doen nie. Dis partykeer ’n pyniging om na my eie stem te luister by opnames. Ek kry so ’n kriewelrige gevoel binne en dink: Ag nee, wat! Is dit nou hoe ek klink? Wat ’n teleurstelling! Dis ook onaangenaam wanneer ’n gehoor nie luister nie, of, soos by korporatiewe geleenthede, nie gekom het net om jóú te hoor nie, of nie jou CD’s ná die show koop nie. Dok tog op, mense! Want jy gee met elke optrede alles wat jy het. Daar’s nie tweede kanse nie.
Maar dit gaan oor meer as net ’n tjek vir ’n aand se werk. Ek bou ’n verhouding met die gehoor op. En ek het die fix van optredes nodig. Ek sing altyd asof môre nooit gaan aanbreek  nie. Vooraf pamperlang ek my keel
met stoom, stemoefeninge, ’n gemmer en- heuning-konkoksie en liters water.  En dan, soms, binne-in daardie oomblik dat my stem net uit my vloei, voel ek dis die een, die één ding in my lewe wat perfek en suiwer is, net vir ’n kort, klein oomblik.

Wie is jou grootste inspirasie?

Al klink dit soos ’n cliché: my ouers, veral my ma. Toe my pa oorlede is, het Karabelo bitterlik gehuil, want hy was die enigste pappie wat sy geken het. Maar my ma … sy’s my rots. Ons is baie na aan mekaar, goeie vriendinne. Sy vra nooit vir haarself nie. Geplant op die aarde, sterk.

Wat sou jy die graagste wou doen? Jy het ’n groot passie en deernis vir musikante se lewe en opofferings.
(Sy tree gereeld op saam met medekunstenaars soos Sibongile Khumalo, Vusi Mahlasela, Hugh Masekela en Tananas, en die video vir haar liedjie “Play me the love songs” bring hulde aan vervloë musikante en hul werk.)


Eerste prys is altyd om ’n ateljee van my eie te hê, om jong kunstenaars op te lei en voor te berei vir hul loopbane. Ek bied deeltydse slypskole aan vir sangers by skole, of die Markteater se laboratorium en Eastside Kollege, maar dis nie altyd bevredigend nie. Weens die blootstelling wat kinders kry deur TV en kontemporêre kultuur glo hulle ’n sangloopbaan is als oor pret en voorkoms en leefstyl, en mis die kern daarvan: Jy moet wíl sing asof jou lewe daarvan afhang. Hip-hop en rap het allesopgemors. Wie kan nog ’n melodie sing? Ek wil nou baie meer doelgerig beweeg, dalk agter die skerms in. Produksiebestuur en musiek teater. Oorspronklike plaas like draaiboeke help ontwikkel saam met die draaiboekskrywer Duma Ka Ndlovu. Dit het tyd geword. Ek doen niks halfpad nie, en ek’s lus vir nuwe dinge. (Sy los die stoel se armleuning oplaas, daar’s ’n  vasberadenheid in haar oë.) “Nou moet ek gaan,” sluit sy af.  En daarmee gly Gloria ook weg uit die kollig van my aandag, soos die sonwegglip agter ’n wolk. Die hotelsitkamer is al sterk skemer. Ons groet, sy glimlag vir die eerste  keer van oor tot oor. Sy’s op pad na Karabelo toe. Die kind en die vrou wat hul eie geruislose dans van wording uitvoer, skaars sigbaar op die rand van die verhoog.

GUNSTELINGE
Plek: Kaapstad.
Kleur: Rooi.
Tydverdryf: Om saam met vriende uit te hang, of in ’n rooi motor rond te jaag.
Uithangplek: Kilimanjaro in Johannesburg.
Drankie: Whiskey of water.
Liedjie: “What’s love got to do with it?” deur Tina Turner.
Skrywer: K. Sello Duiker.
Boek: 13 Cents deur K. Sello Duiker.
Fliek: Enige video wat ek saam met Karabelo by die huis kan kyk.
Kos: Garnale.
Restaurant: Ocean Basket.