EK HOOP
om meer mense te leer glimlag deur te dans. As jy jou lyf toelaat om hom aan die oomblik oor te gee wanneer jy dans, glimlag jy outomaties van blydskap. As ek een mens se lewe deur dans kan aanraak, sal ek gelukkig wees. ek het eendag ’n man, drie kinders en ’n hond. ek het in die toekoms ’n verhouding waarin ons mekaar vertrou. En ek hoop ons deel ’n tsoenami van liefde! ek en die man wat in my lewe gaan wees, sal in dieselfde rigting ontwikkel en verander. Dít is een van die grootste uitdagings in ’n verhouding. Die mens wat jy gister liefgekry en nodig gehad het, is soms nie die een wat môre in jou lewe moet wees nie. Bafana Bafana wen ’n slag! En nie teen die Z-span nie, maar teen ’n span wat saak maak. EK IS BANG
vir verwerping. Alles wat ek doen, doen ek met my hele hart. Ek doen my bes, maar ek is bang dis nie goed genoeg nie. vir mislukking. Om te dans en fiks te wees is my lewe. Ek wonder wat ek nóg kan doen. Ek is soms bang om nuwe dinge te probeer en myself teleur te stel as ek dit nie regkry nie.
ek gaan, soos ek ouer word, al hoe minder energie hê en nie meer so maklik kan dans nie. dat te veel sukses in my beroep beteken ek gaan minder tyd hê vir die klein dingetjies in die lewe wat regtig saak maak. WAT EK GELEER HET
Moet nooit ophou om nuwe dinge te probeer nie, al maak dit jou ongemaklik. As jy jouself nie uit jou gemaksone druk nie, gaan jy nooit weet hoe ver jy kan ontwikkel nie. As jy misluk, staan op. Jy het dalk gister ’n gek van jouself gemaak, maar dit was gister en dis verby. Huil daaroor en gaan aan sodat jy in die oomblik kan leef. Jy kan niks doen aan die vyf minute wat verby is nie, maar jy kán iets aan die volgende vyf minute doen. Moenie dinge sê wat mense gaan seermaak en nie tot hul lewens gaan bydra nie. Die lewe gaan daaroor om vir mense goed te wees en hulle te respekteer. Ek het dit geleer met my dansstudente. As ek sag met hulle werk en geduldig is, is hulle entoesiasties en gewillig. Dis jou verantwoordelikheid om positief te wees. Niemand kan hierdie besluit vir jou neem nie. Staan elke dag op en kies wat jou ingesteldheid gaan wees. Dit help ook as jy jouself omring met mense wat jou energie gee.
Gee om vir jouself: geestelik, emosioneel en fisiek, en sien hoe ander mense ook vir jou begin omgee. En wees trots op jouself. Dis nie ydelheid nie, dis nodig. Ons wil almal iemand spesiaal in ons lewe hê, maar om hom of haar te kry, moet jy jouself eers liefhê. As jy dít kan doen, gaan daardie spesiale iemand oor jou pad kom.

Met nederigheid gaan jy ver kom. Gesondheid en fiksheid is nie veronderstel om die nuutste tendens te wees nie. Dis ook nie onderhandelbaar nie. Dis ’n moet. Dit hou liggaam en gees jonk. Waardeer die eenvoudige dinge. Ek het al gesien hoe mense in rolstoele dans en ongelooflik gelukkig is. Ons kan by hulle leer. Uit al die emosies waaruit ons kan kies, hoekom kies ons nie vreugde nie? Ek leef daarvoor om te dans. Niks anders gee my soveel vreugde nie. Vind iets wat jou bly maak en doen dit! Moenie te ernstig wees nie. Lag soms vir jouself. Dis bevrydend. Die lewe moet pret wees.
Maak tyd vir jouself. Ek oefen elke dag ’n uur in die gimnasium. Dis die tyd wat ek vir myself toe-eien om my kop skoon te kry, waar niemand my kan pla nie. Slaap ook soms laat en moenie skuldig voel daaroor nie. Ek het dalk nie baie geld nie, maar ek het dryfkrag en ek is in voeling met myself. Dis genoeg.
Moenie ander mense oordeel nie. Jy weet nie waardeur hulle al in hul lewe moes gaan nie.