Laré Birk is so tuis voor en agter die kamera, dis moeilik om te glo sy het eers op 27 'n filmstel betree. Deesdae het die Ceres-boorling rolle in onder meer Schuster: Your country needs you, Vir Altyd en Binnelanders agter haar naam en is sy mede-regisseur van kykNET se Kwêla en Bravo.  

"Ek is smoorverlief op wat ek doen," sê sy. "Om 'n visie te neem en saam as 'n span dit vir mense te kan wys. Dis ongelooflik!"

Maar ons wou by haar weet oor haar werk as aanbieder van VIA se trouwerklikheidsprogram Kom ons trou nou!. Dean Paulse van SARIE.com het met haar gesels.

Vertel ons meer van Kom ons trou nou!

Die program gaan oor 'n dame wat 'n troue binne drie dae moet reël en op die derde dag vra sy haar geliefde om te trou. Indien hy ja sê, trou hulle dadelik. Indien hy nee sê, hanteer ons dit daarvolgens.

Dink jy die program kan vroue oorreed om self die groot vraag te vra?

Ek dink vroue het nog altyd die vermoë gehad. As jy weet, weet jy en as jy wil, dan is daar 'n weg.

Jou raad aan vroue wat die groot vraag wil vra?

Kyk objektief na jou verhouding en vra jouself eers hoekom het hý jou nog nie gevra nie. Wees eerlik en realisties. As jy tevrede is met die antwoord, vra hom die groot vraag. En as jy hom vir die res van jou lewe wil hê, vra hom!

FOTO Verskaf

Hoekom dink jy was jy al so baie kere in jou lewe 'n strooimeisie?

Ek is nie seker hoekom nie, maar ek vermoed dis omdat ek 'n goeie vriendin is. 

Jou vreemdste ervaring as strooimeisie?

Damage control. Van die koek is laat tot rokke wat skeur, maar elke keer was 'n kosbare voorreg en herinnering.

Jou wenk aan toekomstige strooimeisies?

Doen dit vir jou vriendin. Herinner jouself dat jy dit vir haar doen. Doen alles uit liefde, daar is soms frustrasies, maar dit gaan verby. Die vriendskap is wat die belangrikste is.

Onthou ook dit is jou vriendin se dag. Die fokus moet op haar wees. Maar die belangrikste is om die dag te geniet, want elke liewe ding wat julle doen, gaan julle eendag oor gesels en lag.