Eers was dit Pad na jou hart, toe Vir altyd en nou Stroomop.

Ivan Botha en Donnalee Roberts, die wenspan agter die films, is reg om kykers op 'n nuwe avontuur teen die stroom op te neem. Dié fliek oor vyf vroue speel by die Oranjerivier af. Dit word op Vrouedag 9 Augustus uitgereik - en SARIE is 'n trotse mediavennoot. Kan jy ook nie meer wag nie? Lees dan ons weeklikse Stroomop-blogs!

FOTO Suna Robberts

Inskrywing 1: 

Week 1 van Stroomop se verfilming

Drie jaar van droom, beplan, skryf en reis kom uiteindelik tot 'n hoogtepunt wanneer Ivan en Donnalee, akteurs, vervaardigers en draaiboekskrywers, amptelik aan hul nuwe film begin skiet. 

Soos wat ons uit hul vorige projekte, Pad na jou hart (2014) en Vir altyd (2016), gesien het, skryf hierdie twee stories wat kykers se harte aanraak en hulle op heerlike avonture neem. En as ons so kyk na die tonele wat in week een opgeneem is, wéét ons Stroomop gaan nie anders wees nie. Inteendeel, dalk is dit die grootste avontuur nóg!

FOTO Instagram/ @ivanbotha17

Dag een op stel is ook die begin van Ivan se loopbaan as regisseur. Tussendeur die verfilming kon ons darem vinnig agter die skerms met hom gesels.

Toe hy die eerste keer agter die kameras inskuif en "action" roep, is 'n pofadder en hiëna die middelpunt van aandag. Ivan deel ons trots mee dat selfs dié twee karakters van die vroulike geslag is. 

Ivan Botha (regisseur), Liezl Spies (draaiboek- en kontinuïteitsversorging), Tom Marais (kinematograaf) en Ferdi Burger (eerste assistentregisseur) kyk saam na ’n terugflits van die eerste toneel op die monitor.
Roxy word deur hiëna-kenners op die stel van Stroomop hanteer
Tom Marias, kinematograaf van Stroomop, is besig om in die veiligheidshok sy kameras reg te kry vir die verfilming van Roxy se tonele

Ons kon ook met twee van die vyf hoofkarakters gesels. Toe die kamera die eerste keer oor Donnalee beweeg, maak haar bekende wye glimlag plek vir die erns van dr. Lana Marais, 'n chirurg wat nie skroom om moue op te rol nie.

Donnalee Roberts by Busamed Modderfontein Privaathospitaal tydens week een van die verfilming van Stroomop.

"Ek moes in 'n hospitaal voorbereiding en navorsing doen vir my karakter. Busamed Modderfontein het dit vir my moontlik gemaak en ek is so dankbaar hiervoor. Ek glo en vertrou dat ek reg sal laat geskied aan my karakter en aan julle mooi hospitaal," vertel Donnalee.

Donnalee deel 'n staaltjie oor hoe sy as agtjarige dogtertjie 'n opstel moes skryf oor wat sy wil doen as sy groot is. Op haar lys was om op die maan te land, in 'n resieskar te jaag, skatte te ontdek - en 'n dokter te wees.

Sy is dankbaar dat sy vir 'n paar weke lank die kans kry om 'n dokter te wees. Sy vertel sy het haar opstel afgesluit met hoe sy haar ouers sou bedank as sy eendag op die verhoog staan om haar Oscar te ontvang. Ons sien saam uit na daardie dag!

Die tweede Stroomop-karakter met wie ons gesels, is Vivian Vilje, 'n angstige data-analis wat vir lekker komiese én dieper oomblikke in die fliek gaan sorg. Die mooie Simoné Nortmann vertolk die rol.

Die kamera is op Simoné Nortmann se karakter, Vivian.

Ons ontmoet Simoné op stel by die Makro op Riversands waar haar karakter naarstig kamptoerusting aanskaf vir die avontuurterapie waarop sy en die ander vier vroue gaan. En kyk net wie loop sy raak op haar uitstappie!

Bennie Fourie vertolk die rol van Drew, ’n kampkenner-assistent in Makro.

Bennie Fourie laat ons met slegs een opmerking: "Dis net lekker om in 'n karavaan te bly as jy kamp, glo my."

'n Toneel tussen Vivian en Drew.

 Hou SARIE.com volgende Vrydag dop vir die tweede inskrywing!