Eers was dit Pad na jou hart, toe Vir altyd en nou Stroomop. Ivan Botha en Donnalee Roberts, die wenspan agter dié drie Afrikaanse films, is reg om kykers op ’n nuwe avontuur teen die stroom op te neem.

Stroomop gaan oor vyf stadsvroue wat deur ’n sameloop van omstandighede langs die Oranjerivier in mekaar se geselskap beland. Dit word op Vrouedag, 9 Augustus, uitgereik - en SARIE is ’n trotse mediavennoot. Kan jy ook nie meer wag nie? Lees dan ons weeklikse Stroomop-blogs!

Inskrywing 4: Op die Oranjerivier

Week vier van die verfilming van Stroomop is pas verby. Die afgelope twee weke by Onseepkans in die Benede-Oranjerivier het dit behoorlik gevoel of ons ’n nuwe rolprent begin skiet het; ons het die stad se gerief en koel aande agtergelaat vir ’n woeste woestynwêreld met dae wat die kwik tot 46 grade Celsius styg en klip en sand wat die opgegaarde hitte saans vrystel. Die eerste week hier was omtrent ’n aanpassing sonder selfoonopvangs, beperkte elektrisiteit, tentkamers wat soos saunas voel en toilette wat bekruip moet word uit vrees vir slange en skerpioene.

Met week twee verby gaan dit beslis beter! ’n Innerlike rus en stilte heers onder die filmspan. Die stof en sand op ons vel voel goed en ons maak vrede met die hitte. Ons geniet die tyd sonder tegnologie en verloor ons in die oomblik. 

Nog lafenis vir die gemoed is die feit dat ons hierdie week met die verfilming op die rivier begin het. Die koel water was manna uit die hemel. Nog opwinding was die nuwe gesig op stel: die karakter Guy, vertolk deur die aantreklike Armand Aucamp. Guy is die gids wat die vyf vroue vir avontuurterapie op die rivier neem. Armand beskryf sy karakter só: “Guy is ’n regte sout-van-die-aarde-man, gemaklik met homself, sonder ego en met baie siel.” Sien meer van Armand in die blog-video.

Guy (Armand Aucamp) staan gereed om die vyf Stroomop-vroue te verwelkom op die Oranjerivier. FOTO Verskaf

Die verfilming op die water bring natuurlik ’n handvol uitdagings mee. Ivan, in die regisseurstoel, beskryf die logistieke implikasies. “’n Normale skietdag bestaan uit twaalf ure, maar met die verfilming in dié wêreld lyk ons dae heelwat anders. Ons begin met ’n stywe 4x4-roete in die oggende wat maklik so 30 minute in beslag neem, dan klim ons op bootjies – met al ons toerusting! – en is ons nog so 30 of 40 minute op die rivier voordat ons begin hike oor die berge. Die staproetes verskil, maar dit kan weer eens 30 tot 40 minute neem. Dan eers kan ons werkdag afskop.”

Tom Marais (kinematograaf) en Ivan Botha (regisseur) deel ’n mooi oomblik op stel langs Oranjerivier. FOTO Verskaf

Tom Marais (kinematograaf) in aksie saam met Jacob Mzankwa (riviergids van SA Forest Adventures). FOTO Verskaf

SA Forest Adventures is een van die vennote van Stroomop. Clinton Lerm en vier van sy riviergidse (Lucas Mjwara, Jacob Mzanga, Nkosi Masuku en Jerry Thabane) swem saam met ons stroomop en sorg daagliks dat ons span veilig op die water kan verfilm.

’n Deel van die filmspan op die stel van Stroomop op die Oranjerivier . FOTO Verskaf
Dankbaar vir yskoue water in die hitte, glimlag die akteurs van Stroomop saam met die regisseur (Ivan Botha) en riviergids (Nkosi Masuku) elkeen met ’n Gozone water. FOTO Verskaf

Selfs met die lang dae, hitte en uitdagings bly Ivan en Donnalee, wat saamgespan het om die draaiboek te skryf en albei ook die fliek vervaardig, inspirerend. “Stroomop is ’n groot droom wat waar word vir ons, dis ’n storie wat vertel moet word en ons is besig om self die avontuur saam met die karakters in die film en ons wonderlike span te beleef. Ons kan nie wag om kykers binnekort ook saam op hierdie avontuur te neem nie”.

Donnalee Roberts en Ivan Botha op die stel van Stroomop by een van die “rapids” waar daar tans verfilm word. FOTO Verskaf

Ons het nog een week van verfilming oor en sien uit om nog agter-die-skerm-oomblikke met julle te deel.

Moenie volgende week se laaste blog-inskrywing misloop nie!