Eers was dit Pad na jou hart, toe Vir altyd en nou Stroomop. Ivan Botha en Donnalee Roberts, die wenspan agter dié drie Afrikaanse films, is reg om kykers op ’n nuwe avontuur teen die stroom op te neem. Stroomop gaan oor vyf stadsvroue wat deur ’n sameloop van omstandighede langs die Oranjerivier in mekaar se geselskap beland. Dit word op Vrouedag, 9 Augustus, uitgereik - en SARIE is ’n trotse mediavennoot.

Vandag deel ons die filmspan se laaste blog.

Inskrywing 5: Vaarwel, Onseepkans

Ons laaste week van verfilming het pas geëindig en dit beteken een ding: Ons groet Onseepkans. 

Die afgelope maand het dié stukkie juweel ons uitgedaag en uitgeput. Net 'n handjie vol van die filmspan was wafferse kampeerders, maar die span van Under Canvas het geslaag om vir ons ’n tuiste weg van die huis te skep. Die filmspan en akteurs was ingerig met geriewe en heerlike kos wat daagliks ons verwagtinge oortref het. Wie sou kon dink jy kan vleispasteitjies, koeksisters en melktert in ’n swart ysterpot op die vuur voorberei? En dan praat ons nie eers van die lekkerste potbrood waarmee ons daagliks bederf is nie.

van Botha, regisseur van Stroomop, neem die leisels oor by Vermaak, die hoofsjef van Under Canvas.
Ivan Botha neem die leisels oor by Vermaak, hoofsjef van Under Canvas.

’n Diepe waardering vir die natuur, vir stilwees en om elke oomblik werklik vas te vang, is wakker gemaak binne ons. Vanaf week een was dit iets besonders. Hopelik kan ons iets van dié mooi huis toe neem en toepas op die besige stadslewe wat weer vir ons voorlê.

van Botha en Donnalee Roberts staan voor “Camp City” soos wat die filmspan die kampterrein gedoop het. Under Canvas het vir elke spanlid sy/haar eie tent voorsien wat in die agtergrond gesien kan word.

Die laaste week van verfilming was vol hoogtepunte. Een hiervan was die verfilming van ’n aangrypende toneel wat in ’n grot afspeel. In die storie is die karakters op hierdie punt al deur hel en voor breekpunt vind hulle die grot wat as skuiling dien. Vir ’n oomblik kan hulle ontspan en veilig voel.

Donnalee Roberts se karakter – Lana Marais – bly in ’n klein oranje Camp Master eenman-tent langs die Oranjerivier. Sy glimlag gou vir ’n foto op die stel van Stroomop terwyl die kameraspan agter haar gereed maak vir die volgende toneel.
Die filmspan in aksie op die stel van Stroomop by die grot.

Só lyk ons akteurs op die punt van die storie:

Dr. Lana Marais is nou uit haar kliniese wêreld van skoon hospitaalgange, waar sy altyd in beheer is.

“Donnalee druk haarself baie hard, en dis vir my opwindend om haar te lei om ’n karakter te vertolk waarin niemand haar nog gesien het nie. Ek is trots op haar en ek is opgewonde oor dit wat ek reeds op skerm gesien het!” vertel Ivan Botha, regisseur van Stroomop.

Ma en dogter, Diona en Nixie, bevind hulself op ’n desperate plek wat hulle dwing om eers hul verskille eenkant toe te skuif en saam te veg, huil en baklei teen die aanhoudende uitdagings. Dis die eerste keer wat Ilse Klink en Carla Classen teenoor mekaar speel, maar mens sou dit nooit sê as jy kyk na die lekker “chemistry” tussen hulle nie. Ma’s en dogters wat Stroomop kyk gaan beslis kan aanklank vind by hierdie twee karakters.

Die vreesbevange Vivian wat so ver uit haar gemaksone verwyder is, met ’n mes in die hand, begin dapper oomblikke beleef wanneer sy nie meer weet watter kant toe nie. Simoné Nortmann meen dat sy op talle vlakke met haar karakter kan vereenselwig en dit kan aangevoel word wanneer sy die buitengewone diepte van haar karakter op kamera weerspieël.

Adrie, wat nie kon wag vir die Oranjerivier-wegbreuk van haar chaotiese huismoles nie, bevind haarself mismoedig waar sy enige iets sal doen om terug te wees tussen die geraas van haar drie seuntjies en haar man se nabyheid. Die fisiese en emosionele uitdagings wat onophoudelik aan haar deur klop tydens die avontuur lei tot nog meer innerlike worstelinge, maar uiteindelik ook tot die besef dat sy haar lewe en haarself maar kan aanvaar en selfs kan vier. 

Elkeen van die karakters gaan deur diepe waters – letterlik en figuurlik – en elke kyker gaan iets uit hierdie avontuur saam met hulle huis toe kan neem. Ons kan nie wag om elkeen van die vyf vroue se stories op die grootskerm met julle te deel nie. 

Ons harte is seer om Onseepkans vaarwel te wens en aan die einde van die laaste dag van verfilming is die hele span se oë maar waserig met trane wat vlak lê ... en toe gebeur die wonderlikste ding ... Na vier weke se onuithoubare hitte, lang dae en menigte uitdagings begin die wolke vir die eerste keer saampak en soos Ivan Botha skree “It’s a wrap!” maak die hemele oop en Moeder Natuur huil saam met ons oor hierdie afskeid wat die einde van ’n avontuur aankondig wat nie een teenwoordige hart onaangeraak gelaat het nie.  

“Ons sien die reën as ’n seëning op Stroomop, op die laaste ses weke van verfilming wat verby is, op die volgende vier maande se harde werk wat voorlê en dan uiteindelik op elkeen wat ons film gaan sien vandaar. Hierdie is een vir die boeke!”  sê Ivan en Donnalee.