Eers was dit Pad na jou hart, toe Vir altyd en nou Stroomop. Ivan Botha en Donnalee Roberts, die wenspan agter die films, is reg om kykers op 'n nuwe avontuur teen die stroom op te neem. Dié fliek oor vyf vroue speel by die Oranjerivier af. Dit word op Vrouedag op 9 Augustus uitgereik - en SARIE is 'n trotse mediavennoot.

Kan jy ook nie meer wag nie? Lees dan ons weeklikse Stroomop-blogs!

Inskrywing 2:

Week 2 van 'Stroomop' se verfilming

Hierdie week ontmoet ons die ander drie Stroomop-karakters, Adrie, Diona en Nixie, by hul huise in Johannesburg, en dan pak ons ons tasse en durf saam met die vyf vroue die lang pad Oranjerivier toe aan.  

Eerste gaan klop ons saam met die kameraspan aan by Adrie, wat deur Chanelle de Jager vertolk word. Sommer met die intrapslag maak ons kennis met die chaos van haar daaglikse bestaan, met drie jong woelwaters wat haar onverdeelde aandag vereis en elke hulpkreet wat op die dowe ore van haar man, Charl, val.

Een van die foto’s in Adrie se huis van haar en haar gesin - van links na regs: Zian Brink (Ben), Chanelle de Jager (Adrie), Xander Brink (Leon), Neels Clasen (Charl) en Ruanco Ueckermann (Sebastian). Foto: Dehan Janse van Rensburg

Maar Adrie se worsteling is nie beperk tot haar chaotiese huishouding nie, sy veg ook teen die mismoedigheid wat haar wil oorval wanneer sy op die skaal klim. Haar groot liefde vir bak help ook nie juis nie ... Sy is alombekend vir haar dodelik lekker red velvet cupcakes, wat later 'n sterk tema in die film word. Baie vroue sal kan aanklank vind by die karakter wat haar vasstaar teen die onrealistiese verwagtinge wat deur die wêreld - en haarself! - aan haar gestel word en haar emosioneel en fisiek uitput.

Ivan Botha met ’n kolwyntjie, gebak deur Bake my Day, in die hand terwyl hy leiding gee aan Adrie (Chanelle de Jager) en klein Sebastian (Ruanco Ueckermann). Foto: Dehan Janse Rensburg

Vir Chanelle was die voorbereiding vir die vertolking van haar karakter egter 'n fees: "Toe Ivan my einde 2017 bel en vra of ek 'n paar kilo's kan aansit vir my karakter, het ek dadelik ingestem. Dit was feesseisoen, Kersfees, Nuwejaar, en ek het nie een keer geskroom om nog 'n ou poeding of soetding te skep en te geniet nie!" 

Volgende ontmoet ons die Jacobse. Ma en dogter Diona en Nixie bevind hulle skielik weer saam onder een dak, maar dinge lol. Carla Classen vertolk die rol van Nixie, die onseker millenniër.

Carla Classen as Nixie in 'n toneel saam met Ilse Klink as Diona en Kevin Smith as David. Foto: Jay (Jacques) Loods

Carla is 'n splinternuwe gesig op die grootskerm. "Ek is so opgewonde - veral oor die wêreld waarin ons verfilm. Ek gaan een word met die onbekende omgewingselemente ... hoeveel mense sal dit ooit beleef?" Ons kan nie wag om hierdie opwindende nuwe talent in haar eerste film te sien nie!

’n Spesiale toneel deur Carla Classen as Nixie Jacobs saam met haar pa David, gespeel deur Kevin Smith.

Ma Diona word vertolk deur 'n bekende gesig op die kassie, Ilse Klink. Ilse is ewe opgewonde oor die avontuur wat voorlê en vertel meer: "Ons gaan in die bos wees en ons gaan op die rivier wees en dís vir my baie exciting!"

Ivan Botha gee leiding aan Ilse Klink wat die rol van Diona Jacobs in Stroomop vertolk. Foto: Jay (Jacques Loods)

In die eerste twee weke van verfilming het ons 'n kykie in die vyf vroue se dol lewe in Johannesburg gekry, maar nou maak die filmspan gereed om saam met hulle op die rivier-avontuur te gaan. Volgende week val ons in die pad om vir julle te wys hoe ons dames en hul gids die tawwe wêreld van Onseepkans langs die rivier aanpak. Maar voor dit kan gebeur, bederf Placecol die aktrises met 'n heerlike spa-dag. Kyk net!

Die hoofakteurs van Stroomop geniet ’n Placecol-spadag saam met die regisseur. Van links na regs: Ivan Botha, Chanelle de Jager, Simoné Nortmann, Carla Classen, Ilse Klink, Esna Colyn (Placecol), Donnalee Roberts, Gisela Booysen (Placecol)

Ons sluit af met die woorde van ons regisseur: "Ná twee weke se verfilming is ek verstom oor wat elkeen van die dames elke dag stel toe bring, die lewe wat hulle in die karakters inblaas en die storie wat hulle eie word."

Die vyf “leading ladies” van Stroomop tydens hulle repitiese-dae in Johannesburg. Van links na regs: Donnalee Roberts, Chanelle de Jager, Simoné Nortmann, Carla Classen en Ilse Klink.

Hou SARIE.com volgende Vrydag dop vir die derde inskrywing!

Lees die vorige inskrywing hier