Die 21-jarige sanger van Vishoek in Kaapstad het groot opslae gemaak toe hy met sy album, The Home We Built, groot internasionale kunstenaars soos Jay Z, The Rolling Stones, Michael Bublé en Robin Thicke op dié groot musiekgrafiek geklop het. SARIE.com vind meer oor hom uit ...

Hoe noem jou vriende jou? 

My meeste vriende noem my Matt, maar Shortstraw [die groep saam met wie hy optree] noem my sommer Mole.

Waar kom die man agter die musiek vandaan?

Ek was in die Sun Valley Primêre Skool en het aan die Hoërskool Vishoek gematrikuleer. Daarna het ek `n diploma in musiekproduksie aan die Cape Audio College se instituut vir klanktegnologie in Kaapstad behaal. Ek het `n 25-jarige suster, Kelly, en ek reken my ouers is die heel beste. Buiten vir my liefde vir musiek, is ek ook gaande oor ontwerp en illustrasie.

Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?

My pa het my op `n baie jong ouderdom aan musiek blootgestel en my op 11-jarige ouderdom geleer kitaar speel.

Hoeveel musiekinstrumente kan jy bespeel?

Ek kan omtrent so ses verskillende instrumente bespeel - natuurlik nie almal ewe goed nie. Ek speel kitaar, dromme, klavier, banjo en ukulele. Die instrument wat my die heel meeste fassineer, is die tjello - ek wens ek kon dit perfek speel.

FOTO: The Famous Frouws FOTO: The Famous Frouws

Waar kom jou inspirasie vir jou musiek en lirieke vandaan?

My familie is grootliks my inspirasie. Hulle het my met diep waardes grootgemaak en geleer dat ek verskillende besluite op verskillende maniere kan maak. Omtrent al my liedjies is daarop gebaseer.

Hoe voel dit om heel bo-aan hierdie merkwaardige musiekgrafiek te wees, selfs bó baie bekende internasionale kunstenaars?

Ek was heeltemal oorweldig, stomgeslaan. Om oral te kom en te sien dat jou album heel bo aan een van die grootste albumlyste ter wêreld is, was regtig ver bo my verwagting.

Het jy al ooit oorsee opgetree?

Ek het verlede jaar November in Londen se 100 Club opgetree. Dit was `n ongelooflike ervaring. Met dieselfde toer het ek ook 'n bietjie in New York liedjies opgeneem, maar het nie fisiek daar opgetree nie.

Het jy aspirasies om internasionaal op te tree en die internasionale mark te betree?

Ja, dit sal ongelooflik wees. Ek is steeds baie nuut in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, daarom is my grootste fokus om maar eers hier in my eie land naam te maak. Daarna sal ek internasionaal gaan.

FOTO: The Famous Frouws FOTO: The Famous Frouws

Wat kan die mense van jou album, The Home We Built, verwag?

Die musiek op hierdie album is uit-die-hart-musiek - dis ernstig en diep, dog ook prettig. Ek het werklik `n stukkie van my hart in elke liedjie gelos, so ek hoop maar die mense waardeer dit.

Hoe sou jy jou musiek beskryf?

Ek sou sê my musiek is elektroniese volksmusiek. Daar is soveel invloede van elektroniese én volksmusiek en ek geniet dit vreeslik om die twee so te kombineer.

Alhoewel jy vreeslik talentvol is, bly jy steeds baie nederig. Hoe hou jou voete so plat op die aarde?

Ek het nog glad nie die ryk-en-beroemd-ingesteldheid nie, alhoewel dit lekker sal wees om suskesvol te wees. Daarby leer ek eintlik nog so baie en probeer maar soveel moontlik pret hê. Dit help dat dinge nie te ernstig raak nie.

FOTO: The Famous Frouws FOTO: The Famous Frouws