Sy het nou eenmaal besef: Om af te tree is nie vir haar nie. Só bieg bekroonde aktrise Denise Newman teenoor SARIE.com noudat sy uiteindelik terug op die Kaapse sepie Suidooster se stel is.

Nes die res van die wêreld is Denise se lewe tot stilstand gedwing. Een voordeel? Lees. “O, om net te kon lees, ander goed te kon lees as my tekste. En om boeke te kon klaarlees.”

Maar nou is sy in ’n “nuwe normaal” op stel, waar jou temperatuur gemeet word, jou skoene én hande ontsmet word, afstand tussen akteurs behou moet word, maskers en handskoene oraloor en niemand sommerso van buite toegelaat word nie. “Hulle is streng, daar is reëls waarby gehou moet en daar is geen uitsondering nie.”

Te midde van die inperking is Denise by vanjaar se Safta-toekennings as beste aktrise in ’n sepie bekroon. “Dis altyd lekker om erkenning vir jou werk te kry. Om in ’n sepie te speel is vrek harde werk, dit verg enorme dissipline. Maar dis ook bevredigend. Ek is absoluut mal oor my werk.”

Om stories te vertel is in haar bloed, al het sy nooit die geleentheid gehad om drama te studeer nie. Daar was net drie keuses vir haar: Verpleegster, onderwyser of maatskaplike werker. As jong vrou het sy ’n graad in maatskaplike werk behaal. Maar haar hart het in storievertelling gelê, sy kon net nie daai droom laat gaan nie. Elke naweek sou sy verhoogproduksies by die destydse Space-teater bywoon. 

“En met elke produksie het ek meer en meer begin dink. Dalk, net dalk is daar vir my ook ’n kans.” 

En toe vat sy ’n kans. “Ek het net besef ek moet ... as dit nie uitwerk nie, gaan keer ek terug na maatskaplike werk. Maar as ek nooit probeer nie, nooit waag nie ... dit kon ek nie doen nie.”

Oor die jare het Denise uiteenlopende karakters gespeel. Karakters wat haar tot in haar binneste uitgedaag het. Keer op keer het sy besef dat sy ook genoeg is.

En met Bridgette October? Leer sy iets by dié karakter wat alewig van haar sondes probeer weghardloop? Indirek ja, erken Denise.

“Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk. Bridgette soek dikwels haar geluk by ander ... ek as Denise sou al lankal die hasepad gekies het. Maar by Bridgette lê daar ’n diep vorm van onsekerheid. Bridgette skep drama, sy verras my elke dag!”

Sy hoop mense gaan nie die menslikheid verloor wat hulle in hierdie tyd aangeleer het nie. “Om te luister, werklik te luister ... al stem jy nie saam nie. Die gevoel van ubuntu. En die wete dat ons almal in dieselfde stryd veg en saam in die ding is.”