Wêreldwyd vier kulture op 21 Februarie hul moedertaal – en saam met dit ook ons linguistiese en kulturele diversiteit en veeltaligheid.

’n Moedertaal is die taal wat jy heel eerste geleer het, die beste verstaan en die meeste gebruik. Dis die taal waarin jy jou die beste kan uitdruk, en studies wys dat moedertaalonderrig die boustene van latere sukses is.

Dié twee sakevroue se verhaal getuig hiervan:

letitia
Letitia Prinsloo FOTO ICA / Institute of Culinary Arts

Letitia Prinsloo, hoof van die ICA

Letitia Prinsloo is die stigter van een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde sjefskole, die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch. Haar CV strek hemelhoog en haar impak op die Suid-Afrikaanse koslandskap is wyd en diep.

’n Generasie van ons land se bekendste sjefs het by die ICA studeer, onder wie Kobus van der Merwe van Wolfgat op Paternoster, wat in 2018 aangewys is as die beste restaurant in Suid-Afrika. Om nie te praat nie van legendes soos Zola Nene, Peter Tempelhoff, Lucas Carstens, Marthinus Ferreira en natuurlik SARIE eie Herman Lensing.

Letitia vertel voor sy in Frankryk onder die beroemde Roger Vergé gewerk het, het sy aan die Universiteit van Pretoria in haar moedertaal huishoudkunde studeer. “Ek is baie lief vir Afrikaans. Hoewel ek Wetenskap studeer het, was Afrikaanse literatuur vir my so ’n lekker vak dat ek buitemuurs klasse daarin geloop het! Ná universiteit het my moedertaal my hoegenaamd nie teruggehou om die wêreld met selfvertroue aan te pak nie.”

Volgens Letitia is moedertaalonderrig op skoolvlak beslis voordelig. “Om in jou moedertaal skool te gaan vergemaklik die hele leerproses.”

Hendrien
Hendrien Kruger (heel regs) en haar span van INOAR FOTO Perdeblom Photography

Hendrien Kruger, besturende direkteur van INOAR in SA

Sy was nog in Affies in Pretoria toe Hendrien Kruger as kelnerin begin geld verdien het. En sy het nog nooit opgehou om hard werk nie – selfs terwyl sy toerisme en later bemarking aan Tukkies studeer het.

Haar groot deurbraak was haar besluit om die Brasiliaanse haarreeks INOAR in te voer. “Dit was moeilik. Ek het geen agtergrond in die bedryf of as invoerder gehad nie. Ek het van salon na salon gery met my produkte. Mense wou nie dat ek hulle kom sien nie. Maar ek het regtig daarin geglo, en net aangehou.”

Vandag is die naam INOAR op almal se lippe, en danksy ’n landwye netwerk van haarsalonne wat dit verskaf, is die produkte ook op almal se hare. Volgens Hendrien was die pad vol uitdagings, maar haar moedertaalonderrig in Afrikaans was beslis nie een hiervan nie.

“Kyk, ek is Afrikaans. Ek het in Afrikaans skoolgegaan en in Afrikaans studeer. Die braaibroodjie-tjoppie-en-hardekooltjie-Afrikaans. Nog nooit het ’n ‘is of are” my gekeer nie. Inteendeel, ek werk al byna twee dekades met internasionale maatskappye. En net nou die dag tydens pilates kerm ’n welbekende Engelse vriendin oor geleenthede in die vermaaklikheidswêreld in Suid-Afrika. ‘If only I could speak Afrikaans, opportunities would have been way more.’ 

Moedertaalonderrig is voordelig, maar talle Suid-Afrikaanse kinders het nie die voorreg om in hul eie taal skool te gaan nie. 

Op 21 Februarie kan ons opnuut bewustheid kweek oor die belangrikheid van moedertaalonderrig, en sodoende ook respek en ondersteuning vir ons land se besonderse taalrykdom.

Besoek Afrikaans.com vir meer inligting oor Afrikaans en moedertaalonderrig en gesels saam met die hutsmerk #onstaal.