In 2000, op 16, was Gina Athans SA se jongste Mej. Tiener. Sy het al in internasionale tydskrifte soos Elle, Marie Claire UK, Hello! UK, FHM en OK! gepryk, en was al ses keer plaaslik op FHM se lys van Sexiest Women in the World. Sy is ook in 2009 as een van SA se stylvolste vroue gekies.

Maar dit was haar huwelik in 2004 met die suksesvolle Jordaniese sakeman Eyhab Jumean en die twee jaar as miljardêrsvrou voor haar egskeiding wat haar ’n paar waardevolle lesse geleer het, sê sy uit Los Angeles waar sy op ’n sakereis is. Sy het deesdae haar eie skakelmaatskappy.

“Dis lekker om Giuseppe Zanotti-skoene, Ralph Lauren-klere en Chanel-grimering te dra, maar dis belangrik om nooit jou identiteit te verloor nie.”

Sy het nog nooit toegelaat dat mode haar lewe regeer nie. Sy het haar eie styl geskep en dit werk vir haar.

“Ek het ’n stampvol klerekas: Gucci, Valentino, Dolce & Gabbana, Yves Saint Laurent en honderde pare skoene, maar ’n handsak van goeie gehalte, ’n paar Tod’s, ’n getailleerde baadjie en ontwerpersjeans sal jou altyd stylvol laat lyk.”