Jy’t bereik wat baie ander modelle nie in ’n leeftyd doen nie. Volgens Forbes tel jy onder die top-12 hoogs betaalde modelle ter wêreld. Wat bly oor?
Baie. Alles tot hier was uitdagend. Ek het aanvanklik geen loopplankwerk gekry nie. Ontwerpers het my nie raakgesien nie. Tot 2005, toe Balenciaga my in Milaan in hul lentevertoning gebruik het. Soms is jy reg vir ’n veldtog, ander kere nie. Dan probeer jy weer, en weer. My loopbaan is ’n proses. Elke ondervinding maak deure oop en skep nuwe geleenthede.

Wat is ons grootstewanbegrip van supermodelle?
Dat hulle geen persoonlikheid het nie . .

En?
Dis vroue met sterk persoonlikhede. Hulle werk hard. Individue, ook ma’s, wat ’n klomp goed tegelyk doen, goeie sake ondersteun, verder studeer en selfs TV-aanbieders word. Elizabeth Hurley en Carolyn Murphy, saam met wie ek aan die Sensuous-parfuumadvertensie gewerk het, is professionele vroue na wie ék opkyk.Ook iemand soos Lauren Hutton - op 60+ het sy die soort loopbaan wat ek nastreef. Ek leer by haar. Sy laat nie toe dat die industrie haar onderkry nie. As dinge te veel raak, breek sy vir ’n ruk weg – sy doen wat vir háár reg is.

Wat bepaal ’n supermodel se sukses – voorkoms of houding?
Dis 50/50. Jy werk saam met groot spanne op ’n slag, jy’s dae lank in ander se geselskap, jy’s in ’n vreemde land. Niemand wil ’n model met ’n negatiewe houding op ’n fotosessie hê nie. Ek glo ek’s baie easy-going.

Wanneer jy in die spieël kyk, wat sien jy?
Glo my, ek hét my af-dae. Ek word ook wakker en wil niemand sien of die huis verlaat nie. En onthou, op skool was ek altyd die langste (selfs langer as die seuns!), vir 4 of 5 jaar die een met drade aan die tande, die grootste voete. Nou nog, as ek myself op advertensieborde sien, is dit vir my onwerklik. Maar ek glo nie ek het verander nie – ek het steeds die vriende wat ek op skool gehad het.

Sou jy iets aan jou voorkoms wou verander?
Ek kan nie nou aan iets dink nie. Ek wens wel ek was spitsvondiger. Ek het vriendinne wat vinnig ’n ding raak kan sê en só snaaks kan wees. As ek maar só was; dat ek nie na my voete hoef te kyk nie.

Kosmetiese chirurgie is vandag algemeen. Sal jy dit oorweeg? Ek het nog niks laat doen nie! Ek’s nog veels te jonk om daaraan te dink . . . ek . . . (Hilary se agent: Geen verdere vrae oor kosmetiese chirurgie nie.)

Jou ma is jou bestuurder. Werk dit, want vir baie soos Brooke Shields, Lindsay Lohan en  Britney Spears was dit ’n ramp?
Ons verhouding was van die begin af goed. My ma het vir IBM gewerk, so sy’t ’n sakebrein. Dit het gehelp, want as jy as jong model by ’n agentskap teken, beteken dit nie alles begin gebeur nie. My ma het gehelp om dinge vir my te láát gebeur. Ons beplan en bestuur sáám my loopbaan.

Is daar iets wat jy nie sal doen nie?
Ja, naaktheid.

Het jy ’n kêrel? Dit kan nie maklik wees as die wêreld jou werkplek is nie?
(Hilary se agent: Geen vrae oor verhoudings nie.)

Wel, wat van familie, vriende . . . spesiale vriende. Hoe hou jy sulke verhoudings aan die gang?
Ek maak tyd. My familie is net drie uur per trein van New York na Maryland, so ek gaan dikwels huis toe, sommer vir die naweek en byna altyd vir vakansies. Nuwe tegnologie maak dit makliker om in verbinding te bly. Ek het ook ’n chihuahua, Chloë . . .

Nogal ’n ghrênd naam. Vernoem na die ontwerpershuis?
Nee. Ek het saam met ’n meisie met dié naam grootgeword. Vir my was dit altyd die heel mooiste naam.

Jy het sukses, bekendheid, geld. Is daar iets wat jy nié het nie? Geluk?
Natuurlik is ek gelukkig! Ek was van jongs af mal oor mode en het graag rondgespeel met grimering. Hierdie ís my droomwerk. In my bedryf is daar soveel geleenthede dat my doelwitte byna elke dag skuif.

Jy’s veral bekend vir jou lyf. Is jy bloot gelukkig, of oefen jy?
Ek het ’n gim-instrukteur en oefen byna elke dag. En ek’smal oor sport, veral swem en tennis. Ek voel ook gewoon beter as ek gesond eet.

So, jy eet nooit ’n hamburger nie?
Nee, nie eintlik nie.

Ek hoor jy was al in SA?
Ja, vir ’n Harper’s Bazaar-fotosessie in Kaapstad.Wat ’n ongelooflike mooi stad. Ek onthou die lig – perfek vir foto’s!