Supersterre se derde episode-wenner Giovanni Divito blog vir sarie.com:

"Dit was vir my 'n groot eer en verrassing om as die wenner aangekondig te word.  Afhangende van Lianie se skedule oefen ek saam met haar by haar huis in Pretoria, andersins oefen ek tussen 2 tot 3 ure per dag.

"Lianie is nie net my afrigter nie maar nou ook 'n goeie vriendin. Ek is baie opgewonde en trots om haar as my afrigter te kan hê. Die grootste verleentheid wat ek ervaar het was toe ek Patricia se rok per ongeluk vasgetrap, en bykans afpluk, het.

"Tydens die kompetisie het ek baie mense ontmoet en by elkeen het ek net goeie raad en advies gekry.

"Theuns Jordaan se aanmerking, jy is nou in hierdie kompetisie om te wen, het absoluut my dag gemaak. Hy het verseker meer vertroue in my as wat ek in myself het want al die deelnemers het fenomenale sangtalent. Sy aanmerking het my egter aangespoor om tot die beste van my vermoë te presteer.

"Aan al die kykers wil ek net sê dat daar soveel is om te sien tydens hierdie kompetisie dat hulle dit nie mag misloop nie."