Casper de Vries het een keer vir my gesê: "Dit is pateties, is woorde wat jy nooit sal hoor nie - dit was fantasties." Ek het eers groot geskrik en was toe verbaas. Toe hy verder praat, het ek verlig gevoel en toe gelag. Ek sal daardie woorde nooit vergeet nie. Dit het my baie selfvertroue gegee.

Dis 'n baie opwindende gevoel om deel te wees van Supersterre. Dit is nes 'n droom wat waar geword het. Ek glo dat sulke kanse net een keer kom en dit het my regtig baie blootstelling gegee. Dit vat baie meer tyd en harde werk om een episode op te neem as wat dit op TV lyk.

Ek oefen meestal 3½ tot 4 uur per dag wanneer ek nie eksamens skryf nie. "Practice makes perfect", en hou aan probeer tot jy sukses bereik het. Jy kan nooit ophou probeer nie. Só sê my stemafrigter, Sindy Claassens.

Ek moes ook ekstra hard werk, want met die Supersterre-opname het ek ook graad 10-eksamens afgelê. Ek het moeilike vakke soos Wetenskap, Rekeningkunde en Information Technology (IT) geskryf.

Dit was soos 'n droom om bekende sangers soos Theuns Jordaan, Lianie May, Heinz Winckler, Brandon October, en natuurlik Patricia, te ontmoet. Sy is 'n wonderlike vrou.

Vir al die mense, stem asseblief vir my! En vir al die mense wat eendag wil sing, moet nooit jou droom opgee nie. Hou aan totdat jy sukses behaal het. Een persoon het vir my gesê toe ek in graad 4 was, dat ek nooit sal kan sing nie, en kyk nou waar is ek. Aanhouer wen!

Wat jy dalk nie van Reinier geweet het nie:

  • Hy is in graad 10 aan die Hoërskool Eldoraigne in Centurion.
  • Die aand voor die oudisies het hy die skool se Idols gewen.
  • Hy sing al vandat hy 12 jaar oud is en het reeds in 2007 en 2008 by Aardklop opgetree.
  • Hy het voorheen karate gedoen en het in 2003 en 2008 Suid-Afrika in Argentinië en Italië verteenwoordig. Hy het ook al 4 keer sy Gauteng-Noord-kleure in karate verwerf en 3 keer die SA-span gehaal.