FOTO: Willem Lourens STILERING: Magdel Muller MUA: Melissa Fourie

Op ’n snikhete dag in November 2014 het hulle hand geskud.

Die surrogaatma en haar kliënt. “Dit het so ’n bietjie soos ’n eerste date gevoel,” vertel Jacqui Davies, ’n petite blonde lugverkeerbeheerder van Durbanville.

Dít was toe sy die eerste keer vir Jonathan Kaplan, voormalige internasionale rugbyskeidsregter, in Seepunt, Kaapstad, ontmoet het. Mense in die koffieplek het geskarrel en jy kon die gekrys van seevoëls hoor.

“Jonathan, sy prokureur en ’n verteenwoordiger van die surrogaatagentskap was daar. Later het net ek en Jonathan alleen gesels,” vertel sy.

“Ek het mooi aangetrek, ’n swart romp en top, mooi plat skoene. Ek wou goed lyk. Dit was heeltemal te warm vir swart, het ek agterna gedink. Hy was teruggetrokke, stil, en ek het gewonder of hy my as surrogaat vir sy baba gaan oorweeg.”

Om by ’n eerste ontmoeting oor eier- en spermselle te praat – “en boonop hoe jy dit gaan dra vir die een wat voor jou sit” – is vreemd. “Dis baie, baie intiem,” sê sy.

Jacqui is die toonbeeld van kalmte en stille selfvertroue waar ons gesels terwyl haar man, Gareth, in die kombuis van hul voorstedelike huis koffie maak en hul hond, Nanny, kom hallo sê. Want alles het uitgewerk. Die bewys van ’n suksesvolle surrogaatskap – ’n seuntjie, Kaleb – is op 1 Junie 2016 gebore, met sowel Jonathan as Gareth aan haar sy.

Sy het in die Panorama-hospitaal deur middel van ’n keisersnee die kleintjie in die wêreld gebring. En sy was gelukkig toe Jonathan Kaleb se naelstring sny en hom wegdra, toegewikkel in kombersies, en haar alleen in die teater agterlaat.

Vandag kan sy en Jonathan breed glimlag. “Alles het verloop soos beplan. Ek kon die geskenk van lewe aan Jonathan gee.”

Jacqui se reis saam met die oud-rugbyskeidsregter het begin toe sy een oggend op CapeTalk na Redi Tlhabi se radioprogram oor nuwe surrogaatwetgewing geluister het. En ingebel het. “Ek wou al tevore surrogaat wees vir ’n vriendin, maar dit was onsuksesvol. Tog het ek en Gareth besluit ons wou later iemand anders probeer help.”

Die vervaardigers van John Maytham se radioprogram, ook op CapeTalk, het haar hoor praat en gevra of sy die middag aan ’n algemene program oor surrogaatskap sou deelneem.

“Dít is hoe die werwer van die surrogaatagentskap van my gehoor het. Sy het dadelik besef ek wil dit doen om die regte redes – ek wou iemand help. Ek het reeds twee kinders [13 en 7 jaar oud] en wou nie my eie gesin uitbrei nie. Maar ek is mal daaroor om swanger te wees.

“Sy het my gebel en gesê sy het ’n hoëprofielkliënt [sy het nie gesê dit is Jonathan nie], is ek bereid om sy surrogaat te wees. Ek was baie opgewonde.” Een ding het tot die volgende gelei.

Jonathan het, ná die “sweterige” ontmoeting in Seepunt, baie van die kalm Jacqui gehou. Hy het enduit gesê haar emosionele volwassenheid en rustige houding het hom beïndruk.

Jacqui sê hierop ’n vrou wéét of sy ’n surrogaat kan wees. “Ek is mal daaroor om swanger te wees, veral omdat ek dan hope energie het. My vel lyk mooi, ek sukkel nie agterna om gewig te verloor nie, en my man is dan mal oor my, want my hormone werk goed as ek verwag. Met albei my dogters se swangerskappe het alles foutloos verloop.”

Sy vertel sy het sedert sy ’n klein dogtertjie was daarvan gehou om mense te help. Sy, haar ousus en jonger sussie het ook dikwels gehelp met hul verstandelik gestremde boetie (nou 44).

“In ons tuin is ’n kothuisie wat soms leeg staan. Ek sal sommer op die ingewing van die oomblik aanbied dat mense wat nie woonplek het nie, daar bly. Gareth het al gesê ek sal nog eendag met ’n verstote baba hier opdaag. Ek kan dit nie verduur as mense ly nie.”

Vir haar het dit net “reg” gevoel om Jonathan te help omdat sy ’n “ongewone” geval, byvoorbeeld ’n gay-egpaar, wou bystaan. Toe Jonathan, ’n enkellopende heteroseksuele man, haar dienste benodig, was hy “die perfekte keuse”.

“Ek en Gareth veroordeel niemand en glo daar is baie verskillende tipes families vandag – in die toekoms sal daar al hoe meer twee-ma- of twee-pa- of een-pa-gesinne wees. Omdat ons nie gelowig is nie, was daar nie etiese dilemmas waarmee ons moes worstel nie. Ons wou bloot help.”

’n Maklike swangerskap was dit op die ou einde nie. “As ek geweet het waarvoor ons ons inlaat, sou ek twee keer gedink het. Kaleb is gelukkig so ’n wonderlike uiteinde, ek sal nooit spyt wees ons het dit gedoen nie.”

In Jonathan se boek, Winging It: Jonathan Kaplan’s Journey from World Class Ref to Rookie Solo Dad (Pan MacMillan, R275), skryf hy hy het skenkers van eierselle gekies op grond van voorkoms, intelligensie en sportiwiteit – maar doelbewus nie “Joodse eierselle” nie omdat hy bang was hulle kon moontlik verwant wees aan hom.

“Die eerste eierselle wat ingeplant is, het nie gevat nie. Die tweede keer is dit nie eens ingeplant nie, want dit was onbevrug.”

Toe volg ’n buisswangerskap, wat Jacqui laat wonder het of dit om gesondheidsredes vir haar wys was om voort te gaan met die “projek”.

Sy vertel: “Twee eierselle is ingeplant. Die een het in my baarmoeder gegroei, wat ek op sowat agt weke in ’n miskraam verloor het. Maar die dokters het nie besef dat ek terselfdertyd ’n buisswangerskap gehad het nie. Sowat ’n week ná die miskraam het ek afgryslike pyn beleef.

My man het my op die vloer in die badkamer gekry en onmiddellik na die hospitaal se ongevalle-eenheid geneem. Die dokter het gesê dit is die nadraai van die miskraam en my teruggestuur met ’n bottel Panado. Maar ek het geweet iets anders is fout, ek ken my lyf.

Gareth het dadelik met my na my fertiliteitsdokter gejaag, wat ná ’n sonar bevind het die bevrugte eiertjie het in die buis gebars. Hy kon nie glo dat ek nog kon loop nie. Dit was só traumaties, maar gelukkig is my pyndrempel hoog.”

In oorleg met haar ginekoloog het sy besluit om tog voort te gaan. Ná elke “teleurstelling” moes haar lyf egter eers ’n paar maande herstel voor die volgende prosedure kon plaasvind.

“In dié tyd was dit vir my moeilik om vrede te maak met die ‘mislukkings’. Ek het nog nooit so gesukkel met swangerskappe nie. Ek is baie positief en dink gewoonlik alles gaan uitwerk. Hierdie was ’n nuwe ervaring.

Boonop moes ek vir Jonathan, wat ongeduldig was, paai en rustig hou. Dit was ’n groot geldelike uitgawe vir hom, met my mediese onkoste, petrol en lewensversekering wat hy betaal het [die wet verbied enige vergoeding]. Sy regsonkoste was ook hoog en elke keer dat eierselle ‘geoes’ moes word, het dit R70 000 beloop.”

Die vierde inplanting was uiteindelik suksesvol en Jonathan was ekstaties. Gedurende die swangerskap het sy nie baie kontak met hom gehad nie, behalwe om te whatsapp, en sy het hom op datum gehou met haar vordering.

“Ek en Jonathan het steeds kontak, maar ek het nie ’n hunkering na Kaleb nie. Ek volg Kaleb op Instagram en was op sy eerste verjaardagpartytjie, en Jonathan en klein Kaleb het my en my dogters al ’n keer of wat vir koffie ontmoet. Met die mediadekking is mens bewus van mekaar se doen en late. Sou Kaleb as volwassene eendag meer van ‘sy storie’ wil weet en met my wil gesels, is ek ook oop daarvoor.”

Ná haar sielkundige evaluasie om te bepaal of sy ’n geskikte kandidaat is, het Jacqui besluit om oop kaarte met haar kinders te speel voor sy ’n surrogaat geword het. “Die sielkundige het ons aangeraai om dit so normaal as moontlik te hanteer en om vir die kinders te verduidelik dat ek iemand help om ’n baba te kry.” Haar kleintjie was dol op haar maag en het gereeld daaraan gevat en selfs vir die boepie gesing. Sy en Jonathan het ook afgespreek dat die kinders Kaleb net ná die bevalling kan sien ter wille van afsluiting.

Ook vir Gareth was die surrogaatskap nie ’n probleem nie. Hy het haar soos ’n godin behandel tydens die swangerskap, vertel sy. “Hy is een van die gemaklikste mense wat ek ken en baie liberaal. As ek gelukkig is, is hy ook. Om soggens langs ’n swanger vrou – met ’n ander man se baba – wakker te word, het hom min ontstel.”

Tog was dit nie heeltemal gelykpad nie. Die eerste vier maande van die swangerskap moes sy tussen die Kaap en Johannesburg pendel omdat sy ’n kursus gevolg het.

“Gareth het my oudste dogter in die middag by die skool gaan haal en na haar pa, my eks, geneem. Ek het ons kleintjie saam met my geneem. Dit het fyn beplanning geverg om al die balle in die lug te hou, maar ek is georganiseerd, en ons het ’n au pair wat help as ons albei dieselfde skof werk.”

Dit was ook moeilik dat sy en Gareth tydens die lang proses nie hul lewe – soos vakansies – vooruit kon beplan nie. “Hy moes my voor elke inplanting met hormone inspuit. Twee jaar lank kon ek nie alkohol drink nie, ek moes gesond eet en myself oppas.”

Hoewel sy – tegnies – tot diep in die vyftig nog ’n surrogaat kan wees, sê sy, het sy op 42 besluit sy is klaar. “Ek is dankbaar ek kon iemand help. Nou wil ons egter fokus op ons eie gesin.”

Die meeste mense prys Jacqui omdat sy so onselfsugtig is. Haar boekklubvriendinne het bankvas agter haar gestaan. “Ek is ’n gewone huisvrou, wat swaar steun op my vriendinne. Een van my beste pêlle het my egter laat staan omdat sy seergemaak gevoel het dat ek haar nie persoonlik nie, maar in ’n groep, tydens ’n koffiekuier van my eerste surrogaatpoging vertel het.”

Haar ma, “’n gebore ma”, tradisioneel en gelowig, het wel aanvanklik gesukkel daarmee. “Sy was bekommerd oor my gesondheid, maar gelukkig het sy gesien ek kon dit deurvoer.” Een van haar tantes het teenoor haar gebieg dat sy, as dié moontlikheid veertig jaar tevore bestaan het, dit vir seker sou oorweeg om ’n surrogaat te wees.

“Die ervaring het my geleer ek hou van myself. Ek is oukei met wie ek is. Dit is bemagtigend. As jy so iets doen, leer jy jouself ken. Jy moet diep delf en vra hoekom jy dit doen. Jy moet jouself afvra hoe jy dit gaan hanteer en jy moet deur die moeilike tye kan werk. Dit help baie dat mense jou ondersteun en agterna vir jou vertel jy is wonderlik, jy het iets goeds gedoen. Dit versterk my.”

Dit was nooit vir haar moeilik om Kaleb weg te gee nie, want sy het nooit aan hom as haar baba gedink nie. “Jy breinspoel jouself en besef jy is die voertuig vir iemand anders se geluk. By my werkplek kry ons twee keer betaalde kraamverlof. Die derde keer is dit onbetaald. Jonathan het dus gesê hy sal drie maande se salaris aan my betaal. Hoe lieflik om drie maande vakansie, sónder ’n baba, tuis by my dogters te spandeer. Die positiewe lys het die negatiewe een oorskadu.”

Die wonder van léwe vervul haar.

Die ervaring het my geleer ek hou van myself. Ek is oukei met wie ek is. Dit is bemagtigend. Jacqui