Hoekom op aarde het jy besluit om die individuele immunity idol weg te steek?
Hoekom kry ek nie eerder krediet vir die feit dat ek die immunity idol gekry het sonder enige leidrade oor waar dit is of hoe dit lyk nie? Om die immunity idol te hê beteken jy het mag, en ek het besef as my stamlede geweet het ek het dit, sou hulle bedreig gevoel het deur my. Ek wou dit nie by my hou nie, want ek was bang ek verloor dit. En Carmel het in ons almal se sakke rondgesnuffel, sy kon dit maklik gekry het. Toe steek ek dit maar op die eiland weg. Ongelukkig kon ek nie onthou waar ek dit weggesteek het nie. Ek het elke dag gesoek!

Jou alliansie het teen jou gedraai en jou uitgestem. Hoe voel jy daaroor?
Ek was oortuig daarvan Hykie sou uitgestem word. Ek het dit dan saam met die lede van my alliansie besluit! Ek kon nie glo Malusi het teen my gestem nie. Ek het gedink hy sou my waarsku as daar enige verandering is. Ons was na aan mekaar. Die vorige aand het ek selfs vir hom 'n deel van my hoender gegee om te eet omdat hy groter as ek is en meer kos nodig het. Ek verstaan nie die besluite wat mense op die eiland geneem het nie. Dit was asof hulle jungle fever gehad het! My hart was gebreek toe ek uitgestem is. Ek wou graag die prysgeld wen en vir 'n oorsese vakansie vir my ouers betaal. Hulle was nog nooit oorsee nie.

Jy was eerlik op die eiland en het nie eintlik mense in die rug gesteek nie.
Op Survivor moet jy nie onnodig jok nie, want dit gaan jou inhaal. My strategie was om 'n man van my woord te wees. Een van my sterk punte is om legkaarte te bou. Die uitdagings was fisiek ontsettend moeilik, maar ek moet sê, die vervaardigers kon moeiliker legkaarte uitgedink het.

Is jy 'n Survivor-aanhanger?
Ek het elke reeks van die Amerikaanse weergawe van Survivor gekyk. Ek is 'n groot aanhanger en dit was 'n eer om aan Survivor te kon deelneem.

Jy en Hykie het al vroeg in die reeks baklei. Kon julle dinge uitstryk?
Nee. Daar was dae dat hy glad nie met my gepraat het nie. Ek was voorbereid op alles, behalwe Hykie. Ons het nie oor die weg gekom nie en het gereeld koppe gestamp. In die een uitdaging het hy van die kos wat ons gewen het vir die ander stam gegee. Ek was woedend en het gedink: Verstaan jy nie die kuns van oorlog nie? Die ander stam was sterk en het die vorige twee uitdagings gewen. Ons het die kos nodig gehad om ons kragte op te bou sodat ons hulle in die volgende uitdaging kon klop. Ek het nie geweet hoe om hom te hanteer nie.

Dit het nie gelyk asof jy enigsins fisiek of emosioneel uitgeput was nie.
Ek het vooraf geweet Survivor gaan moeilik wees en was psigies voorbereid. Ek het besluit ek gaan nooit moed opgee nie. Ek het besef dis net 'n tydelike situasie en dat ek weer in 'n warm bed gaan slaap, so ek kan maar net sowel uithou.