Jy het naderhand nie geweet wie die bekendste is nie: Izak Davel of sy rooi Speedo. Maar daar was ’n goeie rede hoekom hy die eina-broekie gedra het, sê Izak, wat gisteraand uit Survivor SA gestem is, al het GiGi een keer sarkasties opgemerk hy is ‘'n bietjie van ’n poser. Hy kyk uit oor die see asof hy ’n Griekse god is’.
 
Jy was blykbaar ’n groot aanhanger van Okkert, en toe kom jy gereeld teen hom te staan in uitdagings.
Dit was hel. Hy is ’n reus. Hy is omtrent 20 cm langer as ek en hy het jare se atletiek agter hom. Ek is maar ’n klein outjie.
 
Dit het gelyk of jy nie altyd geweet het vir wie om te stem nie.
Ouens soos Okkert en Gys was legends toe ek jonger was. Ek het hulle op ’n pedestal gesit. Ek het nie geweet hoe ek hulle sou kon uitstem nie, maar ek het naderhand besef Survivor is ’n speletjie en ek moet dit strategies begin speel. Ek voel nie ek het my integriteit prysgegee met die stemmery nie. Ek het eerlik vir die stam gesê hierdie is nou ’n individuele speletjie en ek kan in die toekoms vir enigiemand stem.

Jou rooi Speedo was legendaries. Hoekom het jy besluit om iets wat so uitstaan eiland toe te vat?
’n Speedo word vinnig droog. Ek wou nie ’n uitslag aan die binnekant van my bene kry nie. Ek wou dit aanvanklik soos ’n onderbroek dra – onder my ander broek – maar dit was op ’n tyd 40 grade op die eiland. Aan die begin was ek skaam om net die Speedo te dra, maar teen dag ses het ek nie meer omgegee nie. En ek was die enigste man wat nie ’n uitslag aan die binnekant van my bene gekry het nie.   
 
Die stam het op 'n keer gekla jy eet te veel en doen te min. Wat dink jy daarvan?
Hulle gatte, man. Ek het baie hout rondgedra. Baie. Daar was dalk twee dae wat ek pap, pap, pap was en te moeg was om iets te doen, maar daarna het ek weer begin werk. Dis oukei, daar is no hard feelings.  

Hoekom het jy eers so laat in die speletjie begin visvang?
Ek is die tipe ou wat terugsit sodat die ouens wat dinge wil doen, dit moet doen. As daar ’n gap kom vir my om iets te doen, sal ek dit doen. Toe al die mans wat visvang uitgestem is, het ek besluit om dit te probeer. Ek was nogal bly dat ek dit reggekry het.
 
Het jy verwag om uitgestem te word?
Ek het gedink ek het ’n 50/50-kans. Ek was verlig toe ek uitgestem is. Dit was hard op die eiland. Ek het swaargekry. My vrou ondersteun my baie en dit was moeilik om sonder haar te wees. Ek het haar verskriklik gemis. Ek kon dit nie regkry om nie aan haar te dink nie.  
 
Toekomsplanne?
Ek het 'n rol in die Getroud met rugby-fliek gekry wat aan die einde van die jaar uitgereik kan word.