Die vuur is nog daar. Beroerte of te not, dis ’n vlamrooi Shaleen Surtie-Richards wat vandag hier sit. Aan die brand, aan die lewe. Dit begin op haar kop: Robynrooi strepe in haar hare gloei in lang hale in die son, ’n dik string rooi krale knetter in ’n vuurkrans om haar nek en ’n rooi baadjie omhul haar in ’n gloed. Selfs die skaapvel-pantoffels aan haar voete is bloedrooi.

En toe sy haar mond oopmaak, skiet die vlamme en vonke in alle rigtings soos sy gesels, rook, lag – soos almal weet net Shaleen (57) kan. “Man, dit gaan goed. Ek cope, kom ek sê vir jou so.”

Einde April het ’n beroerte ’n emmer water op haar vuur kom gooi, hom byna doodgegooi. “Daai stroke het my bekruip soos ’n dief in die nag. Dit was ’n skok meer as enigiets anders. Die groot fout wat ek in my lewe gemaak het, is ek het nie aandag gegee aan my liggaam nie. Was ek vyf sekondes later by die hospitaal, was ek dood, het die dokters gesê. Was die stroke ’n sentimeter laer in my brein, was ek blind in my regteroog. Ja, een voet in die graf, sê ek vir jou, God weet.”

Haar ooglede is swaar van silwer en swart oogskadu, dik gemaskara. Die naels is lank en rond gevyl, die lippe skarlakenrooi. Ordentlik gepoeier en gepaint. “Ja jinne, ek het maar ’n bietjie ‘polyfilla’ opgesit, anders lyk ek soos die hond se gat.” Op die tafel staan ’n bord vol koekies en ystervarkies om saam met ons koffie te geniet. By ons voete lê Pokkels en Tatiana, haar twee maltees-pikanees-kruisings – net twee bolle wol en twee paar oë.  

Met twee lang nael-vingers soos ’n vredesteken in die lug, steek sy ’n Dunhill op, sit terug in haar tuinstoel by haar huis in Randburg, Johannesburg, en vertel van daardie dag, Sondag 29 April, toe haar lyf vir haar gesê het: Klaargepraat.

“Man, ons het ’n funksie gehad, so ’n vrouefunksie. En ek was die seremoniemeester die oggend en ek was fine, man, ek was fine fine fine. Ek het so ’n stukkie gelees en een van die sinnetjies was ‘The hand that rocks the cradle rules the world’. En toe ek daar kom . . .”

Sy praat ’n brabbel-weergawe van die aanhaling om te demonstreer hoe sy skielik nie behoorlik kon praat nie. “Wee’ jy, ek staan agter daai podium en ek sê vir die vroue: ‘Hoe praat ek dan nou so snaaks?

Ek kan dan nou nie praat nie.’ Ek giggel toe nog daaroor. En ek praat weer, en ek praat weer so. Die een vriendin se oë staan soos tennisbolle en sy sê vir die mense: ‘Bel ’n ambulans. Nóú!’?”

Sy gee ’n gelate sug. “Toe vat ek my siegrêts en ek gaan uit en gaan rook en wag vir die ambulans.”
Buiten die gesukkel om te praat, het sy glad nie gevoel asof daar iets fout is nie. “Ek het glad nie deurmekaargevoel nie, ek was oukei.”

By die hospitaal het hulle ’n breinskandering gedoen en gesien dis ’n beroerte. Dit het meestal haar regterkant geaffekteer.

“My regterhand kon nie lekker beweeg nie en hierdie kant van my mond was so ietwat só . . .” Sy trek die regterpunt van haar mond ondertoe. “Maar ek lyk in elk geval so as ek verergerlik is.” Haar bloeddruk het toe ook die hoogte ingeskiet en sy’s in die waakeenheid opgeneem.

“Teen die vierde dag toe kom die bloeddruk mooi af, toe sê ek: ‘Waar’s ’n plek waar ek kan rook?’?” Sy gee ’n hees hoes-lag. “Vloek en rook is die twee goed – hulle wil nie ?vir my los nie. Dis soos obsessiewe boyfriends. Ek het hulle al afgesê, maar hulle wil my nie los nie.”

Dan tel sy die draad van die beroerte-storie weer op. Vertel hoe sy kort nadat sy ontslaan is vir nóg ’n week in die hospitaal opgeneem is – dié keer met dubbele long-ontsteking. En die hele tyd dat sy daar in die hospitaalbed lê, teister die vrese haar.

“Ek lê net en dink ek moet werk, ek het nie ’n inkomste nie, hoe gaan ek my huis betaal, gaan ek my huis verloor? Ek is ’n broodwinner, ek sien om na my 81-jarige ma [tannie Sakkie], wat vir my ?’n absolute plesier is, maar hier kan ek skielik nie werk nie. Dit was die ergste. Maar daar is goeie mense in my lewe, ?dit het ek besef.”

Sy moes vir ’n tyd lank uit die kykNET-sepie Villa Rosa, waarin sy tans te sien is, geskryf word sodat sy kon herstel. Fisiek het sy geen skade van die beroerte oorgehou nie, maar dit was nogtans ’n bitter moeilike reis, vertel Shaleen.

Emosioneel het ek gesukkel, omdat ek so hulpeloos was. Ek kon dit nie hanteer nie. Daar was dae dat ek niks met niemand te doen wou hê nie, wat ek net hier wou lê en tiewie kyk. Depressief geraak. Maar ek glo aan self regkom en self die waarheid in die oë staar. As ek nou opgee, dan val als uitmekaar. Ek kan nie myself toelaat om op te gee nie.”

Haar lewe lank was sy nooit vir haarself belangrik genoeg nie, sê sy. “Ek is nou. My geluk, my vrede. Ek het my jare afgesloof, járe.” Sy trek haar oë skrefies, haar stem raak hees. “Nie meer nie, nie meer nie.” Dan loop die trane oor haar wange. “Want ek kan nie meer nie.”  

Toe sy weer praat, raak haar stem plek-plek weg. “Ek’s ?nog ’n bietjie emosioneel. Ek gee nie meer om wat mense?sê nie, ek gee om wat met my en my mense gebeur.”

Sy sit ’n rukkie so, kyk dan na Pokkels, die hartseer en trane weer weg. “En daai skurk wat daar staan. Kyk hoe dik is hy.” Sy begin vir hom sing: “Tokkelossie, Ma se Tokkie-tokkie-tokke-lossie . . .”

Ja tog, sy weet sy moet aandag gee aan haar gesondheid, maar vir ’n handomkeer-leefstyl-verandering sien sy nie nou kans nie. “Ek het nog niks verander nie, ek is nog te besig om alles te verwerk. Ek het nie krag vir leefstyl-veranderinge nie. Ek wil eet wat ek wil eet, verstaan jy? Ek is ’n vuil uil as dit kom by eetgewoontes, dis hoekom ek so sukkel met my suiker. Maar ek sal daar kom, ek sal op my tyd daar kom. As dit dan te laat is, dan is dit te laat, dêmmit.”

Sy sit terug, frons ergerlik. “It is what it is. Ek’s mal oor daai sêding, it is what it is. Ek praat dit nie goed nie, asseblief, moenie vir een oomblik dink ek praat hierdie dinge goed nie, maar live and let live. Ek het my alie afgeskrik oor my siekte, maar ek het nie so geskrik dat ek nou ’n heel ander leefwyse wil hê nie.

“Ek is baie dankbaar vir die dokters wat hulle tyd aan ?my afgestaan het en dit beteken nie ek stoot hulle by die agterdeur uit nie, maar ek kan waaragtig nie nou gat-omkeer bolmakiesie slaat nie. My liggaam is gewoond aan sekere goed – ek dra ?hom al 57 jaar.”

Ja, die dokters preek vir haar, sê sy en skud soos sy lag terwyl sy die laaste stuk van ’n koekie in haar koffie doop. “Net ?ná die stroke het die dokter op sy hurke langs my bed kom sit, vir my gesê ek ?moet ophou rook. Toe sê ek vir hom: ‘Jy moenie met daai klas twak rondom my kom staan nie’.”

Sy dink ’n bietjie na, kyk na die bord koekies asof dit ’n vyand is. “Gee daar ?vir my ’n ystervark aan, die siekte se ?voet.”  Tussendeur die happe: “Ek sál probeer minder rook.”

Ja, gee sy toe, sy voel die skade aan haar lyf. “My bors fluit so, dan dink ek daar’s iemand anders in die kamer.” Hie-hie-hie, lag sy skud-skud, hoes-hoes.

Maar sy hoop haar gesondheidsellendes is nou verby. “2012 wil ek rêrig nie vir ’n grap weer beleef nie. Ek het laagtepunte beleef wat ek in my lewe nie bereik het nie.”

Sy grawe vir haar selfoon. Wag, sê sy, sy wil vir my iets wys. Die SMS lees: “Al ooit gewonder hoekom ons voorruit so groot is en ons tru-spieëltjie so klein? Omdat ons verlede nie so belangrik is soos ons toekoms nie.”

So ja, die beroerte is in haar verlede. En die toekoms? “Oop. Blink!” Sy gooi haar arms oop dat haar Michel Herbelin-horlosie teen haar armband klingel.

“Man,” voeg sy dan ná ’n rukkie by en tuur peinsend na ’n horison wat ons nie kan sien nie. “Ek is ’n survivor. Ek vat die dinge soos dit kom.” Dan maak die vuurvrou haar oë toe en draai haar gesig na die son.