1. Wat is die beste manier om iemand se aandag te trek?

Ek glo om stil te staan en te luister. Daar is baie geraas daar buite. Dit is kragtiger om stil te wees en eerder te observeer.

2. Watter rol wou jy baie graag hê maar iemand anders het dit gekry? Wie was die persoon?

Cleopatra in ’n verhoogproduksie, dis ’n droomrol vir aktrises. Ek het die teleurstelling laat gaan saam met die naam van die aktrise wat dit toe wel gekry het.

3. Wat sou jy sê was die rol wat jou bekend gemaak het?

Die rol van Pauline Trollop in die TV-reeks Meester (1991). Sy was die Victoriaanse vrou wat verlief geraak het op die meester. My teaterjare by Truk het my geleer om in Afrikaans te werk.


4. As jy iets aan jouself kon verander, wat sou dit wees?

Ek sal baie graag veeltalig wou wees, nie net tweetalig nie. Ek praat Engels en Afrikaans, maar ek wens ek kon Zoeloe, Xhosa en Frans ook praat.


5. Watter dorp is vir jou die mooiste in ons land?

Ek sal sê Franschhoek, die Wynland is asemrowend mooi. Kalkbaai is wonderlik, dis nie die mooiste dorp nie, maar dis die atmosfeer en die kunskultuur wat jou bekoor.

6. Watter karaktereienskappe beïndruk jou in iemand anders?

Eerlikheid en empatie.

7. Wat bestel jy gewoonlik as jy gaan uiteet, en waar?

The Skotnes, die restaurant by die Norval Foundation in Tokai. Ek sal enigiets bestel op hul spyskaart.

8. Wat gee jou vreugde?

As mense vir wie ek lief is, goed voel oor hulself. Om dít te sien verskaf my soveel vreugde.

9. As jy ’n boot gehad het, wat sou jy dit noem?

Toe ek klein was, het ons ’n boot gehad met die naam Suzi Wong. Dit was my ma se bynaam vir my. Sy was ’n weduwee met vier kinders, van wie ek die jongste was.

10. Watter kompliment beskou jy eintlik as ’n belediging?

“Wow, you used to be a hotty.” Ag, maar as ons nie kan lag nie, wat het ons oor?