Die komediant Marion Holm se show Holm@iafrica is landwyd besig om skares se lagspiere te kielie. Lees ook meer by www.marionholm.co.za. Hier deel Marion haar tien lewensreëls met Marguerite van Wyk. (Sy erken sy is mal oor reëls en hou daarvan om sulke lysies saam te stel...)

  1. Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Dan sál daar mos nie nonsens in die wêreld wees nie.
  2. Wees altyd getrou aan jouself. As jy 'n Stink Afrikaner geskape is, moet jy presies dit wees. Moenie probeer om 'n Affodil of Katjiepiering of Angelier te wees nie, want dan mis jy jou doel in die lewe. Jy is 'n Stink Afrikaner met 'n rede.
  3. Wees eerlik - met jouself en ander. Al is dit hoe moeilik.
  4. Bid. Sonder ophou.
  5. Lag hard en huil ewe hard. Moet nooit enige emosies inhou ter wille van ordentlikheid nie. Om omdat jy wil ''sterk'' wees nie. Bog. En vat gereeld aan die mense wat jy liefhet. Anders raak hul vel honger. Veral bejaardes - te min mense vat aan hulle met liefde. Vryf 'n hand of kielie 'n rug. Dis goed vir altwee. Dis 'praat sonder woorde'.
  6. Spaar water en probeer groen leef: Gebruik lapsakke vir inkopies. En koop produkte wat in jou area vervaardig is (met ander woorde, jy betaal nie vir die vliegtuigkaartjie vir die spinasie wat van Kenia gevlieg het nie, PLUS dit beteken werk vir mense in ons omgewing en dus minder armoede). Of koop ten minste dan Suid-Afrikaanse produkte as dit wat jy soek nie in jou area vervaardig word nie.
  7. Gaan teater toe. Niks kom by die magic van teater nie. 'n Mens stap nie uit 'n fliek uit en voel jy is een met die gehoor rondom jou nie. Maar jy doen dit wel as jy uit 'n teater stap. En daai gemeensaamheid gee ons almal moed om aan te gaan. Ons almal weet nou al van die kollektiewe bewussyn - nou dís 'n manier om dit positief te maak en vrek weet: Ons het dít nodig.
  8. Bestuur ordentlik! Hou by die padreëls. En wees geduldig. As die een voor jou 60 km/h ry, moenie histeries van ongeduld word en verby die persoon jaag nie. (Die een wat 60 km/h ry is ekke!)
  9. Kyk minder TV en gesels meer. Of speel bordspeletjies of gaan stap. Of luister musiek of lees 'n boek. Of sit in jou tuin en drink wyn. Of speel weer 'name, vanne, diere, dorpe'. (Ag, ek wens ons het nog inry-flieks gehad!)
  10. Lees. Boeke, pamflette, die Bybel, die internet, etikette. Enigiets. Lees net. Dis goed vir jou.