Suzaan Steyn, voormalige SABC-nuusleser en RSG-aanbieder, bly tans in Nederland. Sy't spesiaal vir sarie.com geskryf en 'n paar foto's aangestuur ná Nederland gisteraand in die Wêreldbeker-finaal teen Spanje verloor het...

"Ek het verlede week gedink dis maar net die lekker weer en die gedagte aan die somervakansie wat voorlê wat sorg vir soveel vriendelikheid en die gemoedelike atmosfeer in Amsterdam en omgewing. Vandag weet ek dit was eintlik net die moontlikheid dat Nederland die Wêreldbeker kon wen wat almal so in ligte luim gehad het.

"Die strate is stil, die Nederlanders se skouers hang. Dis duidelik die land is in rou. Selfs die son skuil vanoggend agter die wolke. Gelukkig is die Hollanders positiewe mense wat nie te lank oor dinge sit en tob nie. En ons is op pad vir 'n tien dae vakansie in die suide van Frankryk.

"En Suid-Afrika word baie geprys in die media as 'n land wat sy naam as trotse reënboognasie gestand gedoen het. Al die Nederlandse joernaliste wat tydens die Wêreldbeker vandaar af gewerk het, meen dat daar nie een stukkie kritiek teen ons is nie.

"Hulle het veilig gevoel, alles was baie goed georganiseer, Suid-Afrika was volgens hulle een van die lande wat die beste sokkergees tydens 'n Wêreldbeker gehad het, ens ens ens. Ek loop dus breëbors rond en sorg dat almal die Suid-Afrikaanse vlaggie van kralewerk aan my sleutelhouer sien." - Suzaan Steyn


NOG FOTO'S UIT AMSTERDAM DEUR JAN-WILLEM BEUKER