"Ek het ’n klomp mense se raad gevra – van my ma tot vriendinne en mense in die vermaakbedryf.
Wanneer ek ’n groot besluit moet neem, wil ek graag ander mense se insette hê wat deur dieselfde soort ervaring is.

Ek voel daar is soveel wyse mense in my lewe wat my kan help. Die beste raad wat ek gekry het, was van Isabella Mostert, skrywer by Binneland. Sy’t gesê as ek my van gaan verander, moet ek dit vinnig en oral doen – by my toneelagentskap, by Binneland en by die fliek Roepman, wat ons toe besig was om te verfilm. Ek maak moeilik keuses en verander ook maklik van besluit.

Ek het omtrent ’n maand gevat om te kies of ek my van gaan verander, maar ek het uiteindelik gevoel dis iets wat ek wil doen. Dit beteken baie vir Chris dat ek sy naam dra. As ons eendag kinders het, wil ek ook hê ons almal moet dieselfde van hê. My van is sedert Julie verlede jaar Gardner.

As ek nou terugkyk, voel ek dit was die regte keuse. Dit val sag op die oor. Ek moet sê, soms wens ek ek kan meer impulsief wees wanneer ek ’n besluit neem en my instink meer vertrou. Dit kan uitputtend raak om heeltyd van besluit te wil verander!”